Tuesday, August 28, 2007

Evan Almighty


Ek verstaan nie aldag hoe resensente se koppe werk nie.

As ek by McDonalds gaan eet, en ek moet daaroor 'n resensie neerpen, gaan ek bietjie onnosel wees om dit op dieselfde manier te beoordeel as Le Ballon Rouge in Franschhoek.

Gaan kyk gerus hierdie fliek. Jy weet mos dit is in dieselfde kategorie as Bruce Almighty, en beslis nie 'n opvolg van American Beauty of die vierde fliek van Kieslowsky se Four Colours nie. Hoekom op aarde moet 'n duif met 'n takkie in die bek in hierdie genre "subtiel" wees?

Nee, vandag het ek geen teks nie, jy kan mos sien ek wou net kla.

Saturday, August 25, 2007

Bourne Ultimatum


"I remember everything."

Ons sien hoe het dit gebeur dat Jason Bourne hy geword het. Maar Jason Bourne wil weer terug na wat was. Of eerder, wie hy eintlik is.

Vasgevang in 'n lyf en 'n persoonlikheid wat nie ooreenstem met sy oorspronklike bestaan nie, spring, val, vlieg en jaag hy van dak tot dak om uit die tronksel genaamd Bourne te ontvlug. Ek wonder wanneer hy kans gekry het om te piepie, want ek kon nie 'n sekonde mis om noodverligting te doen nie.

Hoe het hy Jason Bourne geword? Hy het daarvoor gekies. Maar dis dikwels eers agterna wat ons agterkom hoe ons verkeerde keuses ons in dodelike geheime agente verander het. En dan, op 'n dag, kom die skok: Dit was al die tyd ek.

Dalk is ek bietjie te moedswillig, maar ek het opgelet dat:

  • Jason Bourne kies teen sy huidige identiteit, vir dit wie hy eerder wil wees.
  • Hy konfronteer dan nie net die agent wat hom wil doodskiet nie, maar ook vir my: Weet jy ooit hoekom jy doen wat jy doen? (Vasgevang in jou eie vorige keuses.)
  • Onmiddellik daarna spring hy tot sy oënskynlike dood.
  • Hy verdwyn onder water.
  • Ons sien hoe Jason Bourne onder water "sterf".
  • Na hierdie doop, begin David Webb swem.
  • En die TV-verslaggewer verkondig dat hulle na DRIE DAE tot die gevolgtrekking gekom het dat Jason Bourne weg is.
My rugspiere is vandag styf.

Moontlike teks: Matteus 10:39 "Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind."

Monday, August 20, 2007

Breaking and Entering

'n Vos in die stad.
'n Vis uit die water.
'n Vrou uit Bosnië, nou in Londen.
'n Verlore familie of 3.

'n Man wat "onskuldig" is, maar HY is die eintlike inbreker. Sy inbraak is egter nie deur 'n glasruit nie, maar in ander mense se persoonlike ruimte. Dit neem egter 'n rukkie om dit te snap.

As jy nog nie die tema snap nie, vertel die einste man dit vir jou met sy toespraak oor die vernuwing van 'n ou stadsgebied in Londen: jou milieu bepaal jou gedrag.


Van al die inbrake in die fliek (daar is darem nie te baie nie), is syne die gewelddadigste - bloedloos, maar emosioneel intensief. (En ek word altyd verstom deur Juliette Binoche.)

Interessante oogkos: daar word gespeel met geriffelde glasdeure - wanneer is iemand in jou ruimte, wanneer nie?

Ek wonder oor my eie milieu. Ek wonder oor die milieu wat ek skep waarin ander moet oorleef.

Jy sien goed wat breek: borde, glasruite, harte, klere. Sommige word herstel, ander nie.

Wanneer Amira (Binoche) agterkom dat daar by haar "ingebreek" is, voel jy in die pad. Jy wil haar grense weer vir haar toemaak.


Moontlike teks vir saamgesels: Lukas 9:1-6. (Wat is "my" tuiste? Wat beteken koninkryk? Breek ek in by ander mense?)

Tuesday, August 07, 2007

Donnie Darko


Ek brand om iets hieroor te skryf, maar ek verstaan nie lekker wat aangaan nie.

Hulp?

Sunday, August 05, 2007

Harry Potter and the Order of the Phoenix




Openingstoneel: Crop circles. Of is dit 'n parkie? Word ons bewegings en roetines wat ons elke dag deurtrap, soms soos 'n magiese "fixture" wat jou lewensvloei bepaal en jou vryheid inperk? Dalk bang vir ander roetes. Bly by die bekende. Gevangene.

Gelukkig is Hogwarts daar. Die skoolgebou weet self wanneer die roetines en 110 gebooie 'n bedreiging word. Hy skep spontaan 'n nuwe vertrek waar die blokkasie van groei oopgemaak kan word.

Daai Pienk Tannie is darem vreeslik. Eintlik is dit hoe ons ook maak. Wanneer jy iets nie wil hanteer nie (soos bv., as jy nie lus is om te erken dat die vreeslike Voldemort-sonder-'n-neus terug is nie, of dat AIDS of Zimbabwe soort van 'n probleem is nie), skuif jy dit opsy. Jy maak nuwe reels daaroor om jouself weg te hou daarvan. Enigiets om nie ander paaie te loop nie.

Ek ken so vrou. Erge trauma as kind deurgemaak. Self reels gemaak om verdere seerkry te keer. Maar die probleem gaan nie weg nie. Aanhoudend kom nuwe selfreels by. Alle energie en innerlike krag word opgebruik. As haar lewe ook so 'n Hogwarts-muur was, was dit tot teen die dak vol geraamde wette.

Ons is nie gebou vir ontkenning nie. Dis hoekom ons oor en oor droom oor die goed wat nie afgehandel is nie - nagmerries inkluis.

Jou keuse is dus:

1. Perk jouself meer en meer in met selfgemaakte reels, of metodes om die eintlike issue weg te hou.

2. Ontdek jou Hogwarts-kamer wat spontaan oopmaak wanneer dit nodig is. Face the issue.

Keuse 2 impliseer vertroue. (Ons kan nou soetsappig vertel hoe Harry se vertroue in sy vriende hom mos nou red, maar hoekom sal ek? Julle het mos die fliek gesien.)

Matteus 15:21-28. Hierdie vrou se vertroue was so groot, dat sy die konvensies woes bevraagteken het. (ek sien haar dogter had ook probleme met Voldemort :-) )