Thursday, May 31, 2007

Apocalypto


Ek sit van vanoggend af met 'n kopseer. Dis Apocalypto se skuld, want ek het dit uiteindelik gekyk. Nogal walglik.

“Fear is a disease. Strike it from your heart.” Makliker gesê as gedaan. Ek was vir 'n paar oomblikke bang die fliek kry nie klaar nie. Ná hierdie ontblote harsings, drillende harte en oopgekerfde kele is die volgende fliek seker Hanniball Rising. (Vergeet daarvan…) Die arme tapir se wrede slagting in die begin van die fliek is klaar erg genoeg.

Die openingstoneel en die slottoneel vorm 'n toebroodjie (alhoewel nie vegetaries nie): 'n mooi stukkie bos. Dit begin met plante en eindig met plante. Maar die vulsel tussenin is vol mense en dus ook vol bloed.

Die tema van vrees het my aan die wonder gesit. Die mense in die fliek het vrees vir dood, geweld, verlies, vernedering, afskeid, misgeboorte, you name it, dit is daar. Maar op die ou einde word meeste van die geweld in die fliek gedryf deur vrees vir God.

Wanneer is mense bang vir God?

Ons is bang vir Hom wanneer ons dink Hy is kwaad.

Is God kwaad?

Hoe kwater God is, hoe meer geweld pleeg ons in die naam van godsdiens.

Snaaks dat die fliek se naam Apocalypto is. Ek verstaan die Mayan samelewing het 'n obsessie gehad met tyd. Beginne en eindes. 'n Apocalypse verwys soms na 'n eindtyd, of 'n finale fight voor alles klaar is. “We seek a new beginning,” verklaar Fish Hunter aan Jaguar Paw.

Ek soek dit ook.

Ek besef die kruis staan eintlik ook teenoor die Christendom self. Ek wonder of Gibson gereken het die koms van die kolonialiste was die “new beginning”. Ek is versigtig om dit te sê. Tog het die kruis saam met die skepe gearriveer. Ek sou wou hê dat die kruis beteken: Geen offers meer nie. Daarom geen onreg, geen uitbuitery, geen ekonomiese verdrukking, geen geforseerde skeiding, geen bang kinders, geen verkragting, geen vernedering, geen geweld, geen vrees -

ook nie vir God nie.

Moontlike teks: 1 Joh. 4:18-19

Ek het steeds kopseer.

Sunday, May 27, 2007

The Fountain


Elders in die kuberwêreld word daar gesels oor “self” en die verhouding daarvan tot “my liggaam”. Ek wonder oor my geheue-blokkies – want my verlede en wat ek gedoen het en wat met my gebeur het, is óók mos ek.

Ons dink soms aan die ewige lewe as 'n lang lyn. Dit hou net aan en aan en aan. Sommige teoloë sê dat ons dalk aan die ewigheid moet dink as 'n sirkel wat allesomvattend is. Ons stukkie lewe hier en nou is dan 'n strepie binne-in daardie sirkel.

In the Fountain kry ons 'n lekker mix-up van Judeo-Christian, Buddhisties en Hindu images en idees. Dis visueel vreeslik lekker om die beelde te aanskou wat op interessante maniere inmekaar vloei.

Die hoofkarakter soek die fontein van die lewe of die boom van die lewe om sy sterwende vrou te red van kanker. Die tema van lewe uit die dood figureer sterk. Hier is 'n resensie wat my sentimente oor die fliek deel.

Wat mý laat wonder het, was die eienaardige vloei van die fliek.

Jy weet nie lekker wanneer is jy waar nie, want die hoofkarakter leef in drie tye.

Ek kom agter dat die tydvloei in die fliek vir my voel soos 'n rondomtalie. Dis nie noodwendig 'n fliek met 'n begin of 'n einde nie. Soos met 'n Big Wheel kan jy eintlik enige plek inklim. En dit “match” lekker met die idee van die fliek.

Kyk net hoeveel sirkels is daar in die fliek. Selfs 'n kruis word 'n sirkel.

En omdat ons dus nie “op pad” is om uiteindelik iewers heen te gaan nie, is die hier en die nou baie belangrik. Gebruik jou kans. Nou.

Ek weet nie regtig wat ek nou hier gesê het nie, maar ek dink 'n moontlike teks wat saam sou kon gesels, is Prediker 3:11-15.

Thursday, May 17, 2007

Spiderman 3


(Vandag staan ons stil by 'n 3-minute moment van Spiderman 3, wat volgens my, 'n deurlopende tema uitbeeld.)

Ons sien die kerktoring van 'n kerkgebou in Manhattan. Die kruis op die toring vertoon duidelik. Die volgende moment is ons net onder die dak van die toring, en ons sien ons spinnekopheldjie verbete veg met homself / buiteruimtelike plasma.

En ek weet instinktief: Dis my geveg daai. En dit vind plaas direk onder daardie kruis wat ons gesien het, al sien ons dit nie nou nie.

In dieselfde kerkgebou sit die pseudo-fotograaf en bid dat Spiderman bietjie Doom kry. Spiderman moet sterf, vra hy.

En saam met hom, sien ons hoe dit gebeur. Onder die geklank van die kerkklok, kom die swart plasma van Spiderman af. Die plasma het gevoed op Spiderman se wraaklus. Onder die geklank van dieselfde kerkklok, onder dieselfde kruis, val die swart plasma bo-op die pseudo-fotograaf. Dit word sy dood wat hy kies, en Spiderman se redding.

Net hierna is Spiderman in die stort. Die water stroom van hom af. Dit is 'n dooptoneel, as jy my vra. Onder die kruis is sy klewerige haat afgegooi, het redding gekom onder die geklank van die klok. Die doop is immers “die afsterwe van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens”.

Dan hoor jy sy tannie klop aan die deur. Die deur sukkel nog heelmiddag (hang af hoe laat jy fliek). Hy gryp die deurknop, en dit kom af. “Ha!” dink ek, “nice scene, hy het iemand van buite nodig om die deur oop te kry”. Maar hy probeer weer, harder, en kry dit reg. En van hier af sien jy nie weer dat die deur sukkel nie. Dit was die draaipunt van die karakter. Redding het vir hom gekom. Hy het dit gekies, al was dit moeilik.

“You always have a choice!” hoor ons aan die einde van die fliek.

Onder dieselfde kruis, onder dieselfde klok, was dieselfde swart plasma, en twee mense. Die een het lewe en vergifnis gekies, die ander wraak en die dood. Vir die een was die klank van die klok, die klank van lewe, vir die ander was dit die klank van die dood.

Moontlike teks: 2 Kor. 2:14-16

(Terloops: Ek kan alles glo wat ek in die fliek sien: Sandman, Green Goblin, Spiderman, Alienagtige plasma. Maar daar is een flippen ding wat my in al drie flieks uit die verbeel uit irriteer: Hoekom de dinges kry Spiderman dit reg om vinniger te val as alle ander objekte en mense? Dit maak dat Spiderman heeltemal ten gronde gaan…)

Saturday, May 05, 2007

Amalie & Life is Beautiful



Dat die Franse 'n mens nou so kan besig hou!

Oor elkeen van hierdie twee movies kan mens 1000 posts doen.

Maar ek is nou confused, en ek soek julle hulp. Hopelik weet ek beter na die post. Kom ons begin by Amalie. Nee, nee, Life is Beautiful.

Life is Beautiful is mos al 'n ouerige fliek. Ek het dit een keer gesien, jare gelede, en besluit dis een van daardie wonderlike movies wat mens glad nie weer wil sien nie. Ek het ook nie.

Ek wens ek kon mense na die wêreld laat kyk soos dáái pa sy seuntjie laat kyk het. Om in die haglikste omstandighede 'n ander werklikheid te sien, ene wat jou inspireer en opgewonde maak. Ene waar 'n Nazi-soldaat verander in 'n speelmaat wat goed kan act en die wenner van die game 'n groot army-tank wen.

Ek leer by Life is Beautiful: Jy het die keuse hoe jy kyk na die realiteit. Eintlik nog meer as dit: Jy kies die werklikheid. Hulle kan alles van jou wegneem, maar nie wie jy is en hoe jy glo nie.

Nou Amalie.

Wat 'n orgasme van kleur en pret is dié fliek nie?! Die meisie Amalie se verbeelding is 'n skatkis. Dit voel soos 'n pretrit om deur haar oë te sien. Byvoorbeeld by die besigste treinstasie verloor sy sig van haar liefde, en eensklaps is daar niemand. Jy weet dit is onmoontlik, maar dis Amalie se wêreld.

Maar jy ontdek ook in die fliek dat Amalie se droomwêreld, en hoe sy kies om na die wêreld te kyk, haar funksionering in die realiteit striem. Sy bly haar groot liefde mis, want sy is te bang om die realiteit “soos dit is” aan te vat. (Die geweldige gedetailleerde inligting wat aan die kyker gegee word, het niks direk met die storie te make nie. Dit bevestig: Daar is klomp goed om jou. Sommiges maak saak, sommige nie. Jy kies wat is van pas in jou storie.)

En iewers maak Amalie se karakter 'n sprong. Sy gebruik nie haar “kyk” om realiteit te ontvlug nie. Sy span dit in om dit te embrace en te benut. Maar die implikasie was dat sy deel van haar droomwêreld anders moes inspan.

Kom ons praat dan nou van altwee flieks.

(Klomp van ons het op ons blogs die afgelope tyd 5 lukrake feite uitgeblogger. Die volgende paragraaf is nie lukraak nie.)

Ek sukkel regtig met die balans tussen hierdie twee. Daagliks.

Die essensie van die sukkel, is dit:

(1) Life is Beautiful: Kies wat jy sien. Jou verbeelding en kreatiwiteit skep die werklikheid.
(2) Amalie: Verbeelding is great. Maar jy kan in 'n tronk beland van jou eie droomwêreld, en so die ware Jakob bly mis.

En dis hoekom ek so lank gevat het met die post hierdie keer. Want ek wou oor Amalie blog, maar iets het my bly pla, en ek kon nie besluit wat nie.

Is daar dalk 'n beweging tussen realiteit en verbeelding? Kan ons dalk te lank draal in een van die twee? Kan ons enigsins realiteit verstaan sonder verbeelding? As ek nie die realiteit raaksien nie, beteken my verbeelding iets?

Ek kies nooit vir waarneembare realiteit alleenlik nie.

(Miskien het ons Kobus Neethling hier nodig.)

Moontlike tekste: Hebreërs 11:1 en 12:2-3.