Wednesday, March 28, 2007

Nico, the Cop

Ek is seker iemand uiter iewers in een of ander fliek vir die polisie:
"Just get out of my hair!"
(Ek torring gewoonlik nie aan hierdie tipe foto's nie.)

Monday, March 26, 2007

Superman Returns







March of the Penguins

Dis nie aldag dat mens regtig vasgenael sit om na 'n Franse dokumentêre film met Engelse onderskrifte te kyk nie. Dit voel deurgaans na 'n lang, misterieuse erediens. En dit begin met asemrowende skote van blou ys-katedrale. Die musiek laat jou tegelyk hartseer en vrolik voel.

Ek het net besef: Daar is soveel wêrelde waarvan mens eintlik net niks weet nie. Dit voel asof die pikkewyne aan een of ander geloof behoort. Wat my geraak het:

· Klomp individuele pikkewyne en groepies vorm skielik op 'n dag spontaan een groot liggaam. Dis die begin van 'n uitgerekte oorlewingsritueel.
· Onsigbare magnetiese velde is vir hulle tasbaar. Met geheue en saam-wees en onsigbare “kaarte” onthou hulle die pad. Die pad lyk elke jaar anders.
· Daar is 'n konstante geveg teen die “white”. Dit word saam gedoen.
· Die pikkewynma’s loop altesaam 40 dae om betyds terug te wees met kos wanneer die kleintjies uitbroei. Hoe belangrik is 'n belofte nie? “I’ll be back.” (Schwarzenegger en Jesus)
· Aurora Borealis is 'n herinnering in die donker winter dat die son wel nog daar is en dat lente weldra kom.

Maar wat my die meeste getref het, is die hele pikkewyn-community wat net een doel het: Die suksesvolle versorging van kleintjies. Afwesigheid van selfsug. Kos wat vir drie maande in honger lywe gebêre word vir wanneer die kleintjie dit gaan nodig hê.

(Ja, ek weet dis alles instink. Nogtans.)

“It takes a village to raise a child.”

Maar die huise in my village het mure om. Party is van steen. Ander van selfsug of ignorance.

Iemand het gesê: 'n Gemeenskap word gemeet volgens die hantering van hulle broses.

Moontlike tekste: Matteus 23:37
Of Jesaja 60:1-5

Thursday, March 22, 2007

Epic Movie


Eintlik word hierdie post steeds beïnvloed deur Lady in the Water, wat verlede week gedoen is.

Epic Movie is omtrent nou vir jou 'n gespot met 'n klomp ander flieks. Hulle spot nie fyn nie.

En tog is daar klomp goed wat ek nie gevang het nie. Gelukkig was daar iemand saam met my wat ook 'n klomp goed gemis het, en ons kon mekaar help.

Dan sit ek met 'n “hu?”-uitdrukking, en Johan verduidelik: Dis 'n MTV-show, en hulle lyk presies net so. Dan lag ek vir hulle. Dan raak Johan doodstil, totdat hy later gefrustreerd vra: “Wie’s DIT!!!?” Dan verduidelik ek vir hom: “Het jy dan nie Da Vinci Code gesien nie?” Dan lag hý vir hulle. Ek word weer verduidelik van een of ander Punk-show en dan verduidelik ek hom weer van Chronicles of Narnia. So het ons saam-saam toe die hele fliek verstaan gekry, tot frustrasie van ons mede-fliekers.

Ek is mal oor “allusion”. Johan Swarts, as jy hier lees is jy welkom om 'n Afrikaanse term vir my te gooi. Allusion is meer as verwysing. Dis amper so 'n speelse, terloopse “in herinnering roep” van iets anders wat aan jou bekend is. (Weliswaar nie heeltemal Epic Movie se styl nie.)

Bv. in Eksodus 2 word die Moses-in-die-Nyl-storie só in Hebreeus vertel, dat elkeen wat bekend is met die Noag-en-die-ark-storie, die ark in herinnering sou roep wanneer hulle hoor van Moses se mandjie in die water. Of met die Matteusweergawe van Jesus se lewe word daar ook baie allusions gedoen na Moses: Gaan Egipte toe a.g.v. Josef, kom terug uit Egipte om 'n volk te kom red, kindermoord, ens. Maar as jy die eerste storie nie ken nie, mis jy dit.

Met welbekende stories kan jy baie lekker speel met allusions, verwysings en metafore. Dis soos 'n kind wat ek verlede week gehoor het met 'n toespraak: hy het die Drie Varkies se storielyn gebruik om sy punt te maak.

Hoe gemaak wanneer ek nie die stories ken nie?

Wat ek en Johan gedoen het in Epic Movie, was dialoog.

(Maar hulle het darem regtig die Narnia tema gou-gou opgebruik en dit ongelukkig nie agtergekom nie.)

Moontlike teks: In Handelinge 17:16-34 gesels die neurotiese Paulus (aldus Carien) met die plaaslike Grieke, terwyl hy vol allusions en verwysings is na hulle eie wêreld. Hy haal hulle digters en stories en filosofie aan. Dit beteken hy het “engage” met hulle. Dis hoe dialoog werk.

Ons Wonderlike Wêreld

Ek lees vanoggend die volgende sin op Die Burger se webblad: "Vind uit hoekom kinders móét stoei en watter ander soogdiere hulle probleme met seks oplos deur na die weeklikse Eureka-podcast te luister"

Ek het eerlik nie besef ons wonderlike wêreld se soogdiere luister al na podcasts nie.

Sal bietjie later post kom doen oor Epic Movie.

Saturday, March 17, 2007

Forrest Gump


Wat ek vandag met my eerste halfmarathon geleer het:
1. By watertafels kry jy sulke sakkies water. Moenie doelbewus of per ongeluk op hulle trap nie. Dis aaklig om net nat skurende lieste te probeer hol.
2. Moenie met ander mense se lisensienommers spot nie. (Bv. argumentshalwe, as dit nr 666 is.) Ek het toe maar my mond gehou toe atleet nr. 69 verby my kom.

Sunday, March 11, 2007

Lady in the Water


Feëverhale sê vir ons riviere is van koeldrank, sodat ons vir 'n moment kan onthou hulle is eintlik van water. (So het een of ander filosoof gesê. Ek onthou nie wie nie.)

Mense vrek oor stories. Jy kan 'n kind baie verder beweeg deur haar eerder die regte storie te vertel as om 'n reël neer te lê. Ek dink dis hoekom Jesus meesal stories vertel het wanneer Hy gepraat het.

Soms wil ons die Storie vat, die essensie ontgin of oes en dan die res weggooi. En so verloor die Storie sy lewe.

In Lady in the Water ontmoet ons 'n horde mense wat oënskynlik niks met mekaar uit te waai het nie, behalwe dat hulle in dieselfde woonstelkompleks bly. Elkeen gaan sy/haar eie gang, besig met 'n eie storie.

Totdat die misterieuse watervrou opdaag. Haar naam is Story. En ons ontdek dat die groot groep mense eintlik somehow connected is (amper ook soos die vreemde events in Shyamalan se Signs). Hulle is deel van 'n groter storie. Elkeen se lewe op sigself maak nie veel sin nie, maar deur die connectedness wat hulle ontdek, gaan boekdele vir hulle oop.

In ons pogings om Story weer tuis te kry, ontdek ons dat elkeen waarde het, al het ons dit nie voorheen gesien nie. Wat oënskynlik niksseggende eienskappe was, was toe al die tyd belangrik.

En nes jy dink: Nou snap ek die Storie of 'n karakter volledig, kom jy agter dat die plot jou nog effens ontwyk. Amper soos seep in die water.

Die Teks is onvolledig sonder My Storie.
Nes ons dink: “Nou het hulle dit beslis reg!” sien ons dat hulle weer moet probeer, nederig moet bly en selfs na kinders kan luister.

Die man met die gebreekte hart en streng reëls is toe nie die Guardian nie, maar die (Wounded?) Healer. Die man wat 'n kenner is van stories en plot se slimmigheid het toe nie gehelp nie.

'n Predikant sê sowaar nou die dag dat Gereformeerde teologie nooit met kontekstuele teologie versoen kan word nie.

!!

Wat is Gereformeerde teologie dan? Is dit nie juis om te sê: Die Storie moet weer en weer gelees word nie? Kom ons ooit op 'n punt wat ons sê: NOU WEET ONS? Is dit nie maar net in ons eie storie wat ons daardie een probeer verstaan nie? Of ken ons die hele plot? Is dit nie wanneer ons te seker van ons saak is wanneer ons daardie graswolf in sy rooi oë kyk sonder dat ons dit eers weet nie?

Moontlike teks: Die mense van Joh. 4:1-26 was redelik seker van die plot: Wie is IN en wie is UIT. Wat mag, wat mag nie. Maar die Lady at the Water het anders ontdek. Jesus het haar storie/plot geken, en nogtans…

Friday, March 09, 2007

Matrix


As mens oor Matrix gesels, het jy seker duisende opsies. Sal mens wil skryf oor:

1. Die name in die fliek, soos Neo, Trinity, Nebuchadnezar, Zion…
2. Die eerste toneel (NB in enige fliek): “Wake up, Neo”
3. The question
4. The One
5. Neo wat uit die motor wil spring. Hoekom dan nie, Me. Drie-Enigheid? “Because you’ve been down there, Neo. You know where it leads.” Of so iets.
6. Die blou en rooi pille, waarheid, om te sien, ignorance
7. Neo se grillerige wedergeboorte
8. Daai vreemde profetessie
9. Liefde wat die dood oorwin
10. Room 303 (sommige reken dis allusion na 3 dae in die graf…)
11. Opstanding en oorwinning
12. Neo se Hemelvaart in die slottoneel
13. Die nuwe dimensie wat die idioom “om iemand 'n gat in die kop te praat” gekry het. Of het iemand dalk 'n band begin met die naam “Matrix” en 'n unplugged album uitgegee?

Ek wil vandag eerder oor iets anders gesels.

Ek reken The Matrix is regtig goed gedoen – wil selfs sê, dit vorm 'n poëtiese geheel. Die einde is skitterend, en jou verbeelding kan jou op ver reise neem. Mag ek maar die woord “genoegsaam” gebruik?

Daarom was ek nogal verbaas om later 'n opvolg te sien kom. En sowaar 'n derde een. En meteens duik honderde vrae op. Dis deurmekaar. Dit torring onnodig. Die eintlike eenvoud van die eerste fliek (wanneer jy nou eintlik agterkom wat aangaan) word opgemors. En ek gee toe maar moed op en kyk maar nr 3 ook vir ingeval daar logiese verloop is. Dit voel selfs of nr 3 die filosofie van nr 1 weerspreek – wat het geword van free will, hemel?! (Miskien is dit die gebruik van die woord Architect, 'n vrymesselaar term vir God, wat my die meeste irriteer saam met conspiracy konsepte.)

En vir 'n rukkie wil ek graag die volgende vergelyking tref:

1. The Matrix I en die boodskap van Jesus
2. The Matrix II + III en die boodskap van die kerk

Daar ís ooreenkomste tussen nr 1 en 2 hierbo en een of ander logieserige verloop. Maar daar sluip by nr 2 goed in wat deurmekaar maak en nr 1 bietjie verduister. Waarvan baie onnodig is. Ek het gewens ek het nooit II en III gaan kyk nie.
Teks? Lukas 14:34-35. Hoekom? Ek het sommer moeg geword vir Matrix.

Verder: Teen die einde van The Matrix I voel jy die stryd is verby. (al die ou dinge het verbygegaan, alles het nuutgeword).

Maar met II en III word jy ontnugter. Jy sien alles is toe nie verby nie en die stryd gaan maar aan.

Maar hiermee begin ek 'n tweede gedagtelyn en wil nie dieselfde doen as die 2 Joodse boeties wat die reeks geskep het nie.

Tuesday, March 06, 2007

Scream 2


Miskien kan iemand help?
Daar is 'n paar blogs wat ek op Wordpress geniet. Maar ek is besig om my kop te verloor daar:
Elke blog by Wordpress wat ek vir die eerste keer besoek, laai mooi netjies af tot op die nuutste inskrywing. Maar as ek teruggaan, selfs 'n hele week later, word alle nuwe inskrywings wat intussen bygekom het, geignoreer. Refresh help nie. Ek moet met ompaaie by die nuwe posts en comments uitkom. Ek is selfs op feeds ingeteken, maar dit help nog nie.
Over geset synde: Wordpress is vir my 'n frustrasie, maar is ek die enigste ene wat daarmee sukkel?
Aaaaaaarrrrrgh!

Monday, March 05, 2007

Constantine

In gespanne verwagting op Apocalypto hier in my wêreld, kyk ek toe maar Constantine, wat ek nog altyd ontwyk het.

>sug<

Dit is by verre die mees pessimistiese fliek wat ek nog gesien het. Soos wat god (jammer, maar die hoofletter werk net nie hier nie) in die storie uitgebeeld word, is hy 'n idioot – iemand wat ongenaakbaar sinnelose “reëls” breinloos uitvoer, ongeag die gevolge daarvan. Daarenteen is Lucifer effens vindingryk en darem iemand met verstand en die vermoë om gesprek te voer.

Consider this: John Constantine het die vermoë om hel toe en terug te gaan, net om bietjie insig te verkry. En die hel is op dieselfde plek as waar jy is, net in 'n ander dimensie. Tot vervelens toe besoek jy 'n winderige hel waar reptielagtige demone rondbeweeg. Jy sien Lucifer en 'n verraaierige Gabriël wat nie genade verstaan nie en vlamme en bloed en pyn en longkanker. Maar nie een keer sien jy God nie. Hy is eintlik heeltemal magteloos en kan net 'n aksietjie uitvoer as dit inpas in sy reëls. Daarenteen is die demone en Lucifer vindingryk genoeg om teen reëls op te tree en dinge tot hul voordeel reg te kry.

Die hel is die hele fliek vol. Maar gegewe die genre, sou ek darem iewers 'n glimpsie (jammer, alle erudiete lesers, vir die anglisisme) wou kry van die hemel of God of so iets.

Dit gebeur nie. John Constantine sê dit selfs een keer: “God is a boy with an ant farm.” God is die afwesige een. Vir demone word gesê: “Come forth,” en dit gebeur. Met God? Nee wat.

Ou John-Boy se laaste woorde in die fliek is: “As it says in The Book: God works in mysterious ways.” Ek sal nogal graag wou weet in WATTER boek staan DIT?

Nogtans, dit is dalk ons persepsie vandag. God is afwesig. Werk self jou eie weë uit en probeer “evil” uitoorlê. Dis baie erg. Jy kan bargain met die duiwel, maar nie met God nie.

Ek moet erken, dit voel soms so. Maar ek glo tog anders.

Moontlike tekste: Psalm 88 klink baie of John Constantine dit sou kon bid. Veral verse 12, 16 en 19.

Saturday, March 03, 2007

Click

Het jy nie ook al gewens jy het die remote controll van jou lewe in die hande gehad nie? Daai rewind knoppie om jou terug te neem tot net vóór die ongeluk, die slow-play knoppie vir daardie date, of die fast-forward vir die vergadering / fight / verkeersknoop.

Seize the moment, sê ons. Maar die moment is maar moeilik as dit regtig vervelig of sleg is. (Die honde in die fliek is al wat blykbaar weet hoe om die moment te gryp, al is dit met die arme speelgoed-eend.)

Die hoofkarakter soek sy momente in die hoogtepunte van sy loopbaan. Die tussen-in goete moet tog net verby kom. Hy ontdek op die moeilike manier dat LEWE eintlik gebeur saam met die tussen-in goete. Dit is toe nie die toekenning van my doktersgraad of die langverwagte bevordering of toekenning wat iewers in die toekoms gaan gebeur waarvoor ek leef nie. Life’s a journey. Ek weet ek klink nou na Nissan of die Hulett’s suikerpakkie by Mugg & Bean. Die MOMENTS van lewe lê egter nie iewers opgesluit nie. Dit is elke oomblik.

Ek dink die kerke wat die samelewing die seerste maak, is diégene wat net uitsien na eendag, en hoop opgegee het met NOU. (Jammer, my vrou, maar ek dink egter steeds seks gaan oor die orgasme ;-) )

Moontlike tekste: In 1 Pet. 1:3-9 “click” Petrus tussen die hede en die toekoms. Sy punt: Die toekoms bepaal reeds hoe jy kan lewe in jou “nou”. Of wat van Pred. 11:7-10? As jy lg. ter harte neem, sal jy in elk geval nie sulke maagflappe ontwikkel soos Sandler in Click nie…

Friday, March 02, 2007

De la Rey en Hofmeyr

Hou duime vas. Een van die voordele van poppekas hou, is dat jy vir die kinders 'n verstaanbare boodskappie gee... met uitsonderlike geleenthede daarin verborge om sommer vir die grootmense 'n heel ander boodskap deur te gee. Dit beteken dat die mense dikwels die kinders se reaksies geniet, en na die tyd agterkom wat het HULLE gehoor.

Sondag kom De la Rey aan die beurt.

Genade, ja, Maeree. Ek het agtergekom: "Thou shalt never maketh promises on the blogosphere."

Kan enigiemand my help verstaan waarom Steve Hofmeyr so graag sy geselsie met Zuma met almal wou deel? Dit sou vir my meer sin gemaak het as Zuma geskryf het oor sy onderhoud met Steve.