In my eerste gemeente het die hoofouderling die voorreg om die nuwe proponentjie eerste vir sy wyk te gaan wys.
Op pad na huis nr 3, vertel hy my dat die tannie se man onlangs oorlede is. "Maar wat, sy gaan goed aan."
Ons klim uit die motor, hy klop aan die deur. Tannie vat bietjie lank. Onseker prewel die oom: "Ek hoop nie ons is nou voor dooiemansdeur nie."
* * *
Ander keer is ek voor die begrafnis-ondernemers by die langslewende. Groot Oom se liggaam wag nog in die kamer. Die ondernemers daag op. (Ek sou verkies het dat hulle naam eerder "bo-nemers" moes wees.) Maar hulle bestaan uit: een sterke man, en een fyne vroutjie. Ek bereken vlugweg die gradiente van die gange en draaie en hoeke, en ek weet: Vandag is ek 'n Draer.
Ek kry my eie paar blou handskoene. Hulle squeek. Verbouereerd staan Fyne Vroutjie opsy. "Dankie, Dominee."
Ek en die sterk man moet ons draai ken. Ons two-step selfs hier-en-daar. Soms is die liggaam heeltemal vertikaal, en soms is ek darem weer vertikaal. Ek is later skoon dronk.
Sedertdien begryp ek wel hoekom is dit 'n ondernemer. Dis swaarder onder.