Tuesday, April 24, 2007

Truman Show

Nouja, na aanleiding van Johan Swarts en Anja en almal wat nou hulle 5 onbekende dinge aan almal verkondig, laat ek dan ook probeer.

1. My regtermiddelvinger is bietjie korter as my linkermiddelvinger. Ek was 5 jaar oud toe die wind ons voordeur op hom toegeklap het. Ek gooi dus zap-signs net met my linkerhand, anders snap hulle dalk nie.
2. As ek in 'n vervelige vergadering sit, doen ek in my verbeelding picasso-tekeninge van die mense om my. As dit nog meer vervelig raak, doen ek dit in suiwer swart en wit.
3. My laerskooljare was in Vryheid, 16km vanaf Bloedrivier. Ek het gebly in Afrikanerstraat en my skool was Nieuwe Republiek Laerskool. Ek moes met Deputasie-straat op my fiets skool toe ry. You can’t imagine…
4. Ek vind dit onmoontlik om trappe te klim sonder om hulle te tel. (Maar ek is nie bang vir vuil hande of krake in die sypaadjie nie, relax.)
5. Wanneer my neus toegaan van sinus of verkoue of so iets, begin dit eers by die linkerneusgat. Hehe.
6. Ek steur my nie altyd aan die reëls nie.

Tuesday, April 17, 2007

Runaway Bride


'n Ruk gelede hou ek troue langs die rivier. (Nie my eie nie.) Alles is pragtig, behalwe die erge sweet op die arme bruidegom se voorkop. Die bruid gloei.

Die egpaar is gespanne… verbeel ek my, of is die bruidegom onseker van sy balans?

Ek maak maar 'n grappietjie of twee. Almal lag ingenome. Almal behalwe die –gom. Hy het iets op die hart, maar wat?

Gelukkig begin my boodskap. Ek raak in vervoering oor my eie woorde. Af en toe byt ek net vas tussen paragrawe, want ek kan sweer die bruidegom wil iets sê. Ek hoop dat, ás hy val, iemand hom kan vang. Alles is nie pluis nie.

Ek gaan voort.

Die bruidegom se frons verdiep. Hy kyk kort-kort na die bruid. “Het hulle dalk baklei net voor die seremonie?” wonder ek.

Dan sien ek hier kom dit. Stadig gaan sy mond oop. Ek staal myself vir 'n Dr Phil-sessie met die feitlik-getroude egpaar, ten aanskoue van al die gaste.

Die bruid kyk na hom, hy na haar. Dan kyk hy vir my en kry die sin uit:

“Fokkit, Dominee, maar sy’s MOOI!”

Ek glimlag mooi en stem liewerste heelhartig saam, alhoewel dit nie vir my lyk of sy dit heeltemal SO wou hoor nie.

Maar sy het voorwaar nie gehardloop nie.

Ghost Rider


(Ek doen hierdie post teen my beterwete in. Dis nou nie juis 'n fliek wat lank by jou spook nie.)

Dit lyk nogal lekker om nie 'n bang haar op jou kop te hê nie. Jy klim op jou vuurperd en doen wat jy wil. As die mense jou kwaad maak, whoalah, spontaneous human combustion.

Maar Johny Blaze het in sy vuurspuwende vorm 'n besondere gawe. As jy in sy oë (ekskuus?) kyk, sien en voel jy die leed wat jy ander aan gedoen het. Jy word daarmee gekonfronteer.

Ek wens ek het daardie gawe gehad. Daar’s nogal 'n paar mense wat ek dan sonder my donkerbril onder vier oë sou wou spreek.

Dit kan mos nie 'n gawe van die duiwel (of dan nou Mefistofeles of wie ook al) wees nie? Dis mos goed om iemand te wys wat h/sy aangevang het?

Klink my eerder na 'n gawe van die Gees.

En toe verstaan ek.

Ghost Rider se blik laat jou as(!)vaal van skuldgevoel en pyn oor wat jy gedoen het. Dis 'n waarheidskonfrontasie wat aankla.

Vir myself kies ek 'n kyk wat waarheid raaksien, maar vrymaak.

Die Gees se kyk wys die seermaak, konfronteer óók met die pyn wat jy gebring het. Maar dit maak los.

Ek sou eerder so wou kyk. Maar ek sukkel.

Moontlike teks:

1 Joh. 4:17-18

Wednesday, April 11, 2007

Mr Bean's Vacation


Mr Bean bly Mr Bean. Of jy kan hom nie verdra nie, of jy geniet hom vreeslik. Ek val in die tweede kategorie. (Behalwe wanneer hulle Amerikaanse humor met hom probeer, soos in die eerste movie. Dit maak net soveel sin soos 'n viooltjie-uitstalling in die kalahari).

Meeste mense dink die akteur Rowan Atkinson is stupid. Maar hy is nie.

Die fliek begin met 'n rainy day in Londen, in die kerk by 'n basaar. Hoe vaal kan jy nou kry! En dit eindig by die sonnige strand in die Suide van Frankryk, by Cannes. Praat van kleurryk!

En ek klou verbete vas aan daardie tipe hoop.

Dat al bevind ek my in grou omstandighede, die son weer môre sal skyn.

Ek wonder of julle ook sulke nagmerries kry soos ek soms:

Jy droom jy het 'n eenvoudige taak om te doen. (Soos Bean, bv, wat op 'n trein moet kom en by Cannes afklim.) Maar sodra jy begin, glip 'n foutjie in. Jy probeer gou-gou die foutjie fix. Maar in die proses ontstaan daar NOG foutjies. Min of meer teen die einde van die droom, net so voor die gefrustreerde wakkerskrik, is die magdom foute so horribaal, dat die oorspronklike “benign” takie heeltemal verdwyn het agter die berg van krisisse. Soos Bean in sy vacation.

En tog: Die vreeslike flops word deur Bean op sy kamera vasgelê. Dit word, myns insiens, meesterlik vervleg by die eindtonele om totaal nuwe betekenis te gee aan Bean se storie. Die konteks waarbinne dit dan vertoon word, is só radikaal anders, dat ek as kyker besef het: my eie flops en grou dae word soms onverstaanbaar iets anders.

Dis soos om te dink jy het 'n lucky number 919, maar die wennommer is 616. Dit sien ons mos in die openingstoneel? Dit was slegs 'n kwessie van perspektief. En dit gebeur nogal in die kerk!

Moontlike teks:

In Bean word tekste herinterpreteer tot iets nuut: 919 word 616. Die home video word deel van 'n nuwe fliek (in die fliek!). Bean se chaos word 'n magiese sonnige einde.

In Joh. 2:19 word die betekenis van die grou en dooie tempel herinterpreteer met die paasgebeure.

Dit was vir my eintlik 'n great Paasfliek. Maar ek sal dít liewer maar net hierso sê.

Addendum:

Goeie Vrydag 2007

Ek wil Jou nie meer
probeer
beter dien nie
beter liefhê
beter uitreik
beter omgee

Dis vir my beter
om vandag net
by jou kruis te sit
en sug,
Verlig.

Wednesday, April 04, 2007

Happy Feet




Ek het nie baie digbundels nie. Maar ek het een van Mattie Stepanek s'n: “Hope through Heartsongs”.

In Happy Feet gee die klein held van die fliek die eerste treetjie na “anders-wees”. Dis hierdie andersheid wat later sy heartsong word. Dis ook die andersheid wat die community tussen hom en die ander verbreek. Dis dieselfde andersheid wat dit later weer red.

Die fliek laat my wonder oor die aardigheid van communities. Die feit dat dit vloeibaar is en kan verander. Maar ook dat dit soos kwaai seestrome kan wees wat jou in een rigting wil druk. Kyk net: ons heldjie word weggejaag oor hy 'n gawe vir dans het, maar nie kan sing nie. In 'n ander community is dit met afguns bejeën. En later ontvang sy eie community hom weer met ope arms terug, juis oor hierdie ekstreme heartsong van hom.

Happy Feet help my om elke dag te kies:
· Om myself te wees
· Met passie en entoesiasme
· Ten spyte van teenkanting soms
· Want dis wie ek is
· En as die teenkanting verander, is dit 'n bonus.

Geagte broer en suster, ek wil graag vandag afsluit met 'n gediggie van Mattie Stepanek

Facing the Future

Every journey begins
With but a small step.
And every day is a chance
For a new stew, small step
In the right direction.
Just follow your Heartsong.

Moontlike teks: Ps. 118:22-23
(Ns.: Ek gaan vir week weg. Te danke aan VW se duur onderdele gaan ek nie, soos beplan, nou toegang tot 3G besit nie.)