Die groot ou is op pad, en hy kom om die hele aarde te verswelg. Hy het 'n paar pionne wat solank sy koms voorberei vir die verorbering van die blou planeet.
Dit is in kort die samevatting van altwee flieks.
Eintlik verbasend hoe die www, waar jy nou lees, van ons planeet 'n village gemaak het. Vyande word anders gedefinieer. Is die vyand dalk Noord-Korea? Rusland? Irak? Iewers in die Ooste?
Of jy nou saam met die bioniese masjiene uit die ruimte, of saam met die fabelagtige vier van kontinent tot kontinent kerjakker, jy ontdek: Ons hele planeet is op die spel hier. En ongeag jou land van herkoms, die aardetjie is maar kleinerig.
In beide flieks sluk jy hard aan die feit dat in albei, die eintlike oorsaak van die einde van die planeet, die mens se eie gierigheid en verbruikersmentaliteit is.
Gevolglik verdwyn die grense tussen mense (dit rym en klink soos Sproetjies!) en die fokus verskuif: Kyk na die planeet!
'n Verdere gedeelde tema in die twee flieks, is die geweldige frustrasie van 'n kommunikasie-gaping. By Transformers is die tienerheldjie die ene wat weet wat is die beste vir die planeet. Maar die patetiese ouers en CIA-lede gaan onversteurd aan met hulle eie oorlewingsresepte. Dit sluit ontkenning in. Jy voel die geweldige spanning wanneer die "goeie robot" gevang word. As mense tog net 'n kansie wou vat om te luister. By Fantastic Four is dit dieselfde geval: die profete van die storie word geignoreer. En hier sien jy visueel die monster wat die aarde kom insluk. Dit wat in die flieks bedreig word, is nie meer New York of Los Angeles of San Francisco nie. Ook nie een of twee boeings nie. Dit is 'n hele aarde, waarvan die grense onderling vervaag. Ek hoor benoud 'n volgende generasie skreeu, en is angsbevange dat ek dalk ook met dowe ore my eie resep sal bly volg.
Kolossense 1:19-20 vertel dat die hele aarde versoen is met Hom. Nie verorber nie.