Wednesday, July 18, 2007

7de Laan



Wragtag. Ek glo nie ek doen dit nie. Ek is 'n kineketter, want hierdie is 'n TV-reeks.

Maar danksy Oopkop se skreeusnaakse video-clippie oor Regter Rudy het ek vasgehaak by hierdie Sodium Laureth Sulphate.

Hierdie spesifieke seep tickle my. (Nou nie die lag-soort tickle nie). Dis 'n vermenging van splinternuut (selfone en internet dating en moderne settings) met ouwêreldse familiariteit (ek wens die verskillende generasies in my gemeente kan so meng met mekaar soos in daai seep).

Ek vermoed dit is wat mense dalk trek. Of hipnotiseer. Of watookal.

Maar daar is iets wat my GRENSLOOS irriteer van meeste sepe. (Sien Sodium Laureth Sulphate link hierbo.)

Die karakters.

Goed en wel: Kom ons maak hulle bietjie meer lewens-eg en gee elkeen bietjie goed en bietjie sleg. Laat die gepeupel identifiseer met die karakters. Wie is nou immers net goed of net sleg? Maar wat maak jy as jy week in en week uit 'n storielyn (!) aan die gang moet hou met duisende lesers per aand? (Wie kan dit kyk sonder om die onderskrifte te volg?)

Die oplossing is eenvoudig: Wisselvallige karakters. Die kyker word gelei om sekere goed te glo en te aanvaar van die karakters. En dan, op 'n dag, trek 'n storielyn weg met een van die karakters wat vir twee, drie weke skielik 'n magdom ander eienskappe besit. Dan is dit weer oor en verby.

Die kyker het geen beheer nie. Jy is totaal en al oorgelaat aan die psigopatie van die karakters. Met beheer bedoel ek dat jy darem min of meer 'n aanvoeling moet hê vir karakters en hulle ontwikkeling. Dit sluit nie verrassing uit nie. Dis net vreeslik as mens gereduseer word tot 'n wese wat gedurig keuses moet uitoefen... asof dit al is.

Moontlike teks: Eksodus 3:14.

7 comments:

Lammervanger said...

Hel (jammer) ek kan nie glo dat ek in SLS vasloop op 'n predikant se blogsite nie. Daai drie letters smyt my terug in die donkerste dae van my nagraadse polimeer-emulsie studies waarvan SLS 'n groot deel uitgemaak het...

maeree said...

ek het gisteraand een hele episode van sewende laan gekyk. eerste keer in my lewe.

sover ek weet het hierdie tipe programme 'n span skrywers. kan jy dink hoe lekker dit moet wees om deel te wees van so 'n span? "hmm, kom ons laat hilda môre wakker word en dan het sy horings. en sy probeer dit wegsteek vir oubaas. maar maria kom dit agter en blackmail haar. dan struikel oubaas in die donker en impale homself op hilda se horing. nou's hy in 'n koma en hilda kan nie onthou wie sy is nie."

Freddy said...

Lam
Hemel ja (beter?), nie besef my post is 'n struikelblok vir sommige nie.

Maeree
Die kosmiese gordyn het pas voor my oopgegaan. Jou roeping is beslis in die konstruksie van wonderlike verhoogstukke of stories. Of doen jy Guided Imagery Therapy? :)

Anonymous said...

maeree, bedoel jy nie Oubaas kry 'n horing en impale Hilda daarop nie?

Anonymous said...

My vriendin se ouma vertel vir haar oor die telefoon van die karakters in 7de Laan asof hulle regte mense is.

(Maeree, jy't talent!)

Anonymous said...

Bart is terug op 7de laan, hy gaan doodgaan, nou net mooi dat hy true love gekry het. Dis so voorspelbaar. Ek het geen idee hoekom ek dit nou net gesê het nie.

Daai Casper clip is nogal priceless. Ek praat darem nog nie met subtitles nie.

Oppietrap said...

Julle is op gevaarlike grond. Raak aan 7de laan, en julle raak aan my! Ek kyk dit. Getrou. 1x 'n week. (die ander aande is ek nie by die huis nie). Hoekom kyk ek dit? Want ek't nie DSTV nie. Hoekom nog? Want daardie tyd eet ek aandete. Hoekom nog? Daar is niks anders op die SABC nie. Niks. Ok niks op E-tv nie. Hoekom nog? Omdat dit my herinner dat ek graag DSTV sal wil he.
Dus, moenie nou bodder met 7de laan nie.