
Ek het sowaar Borat gaan kyk. En moet erken: het lanklaas so gelag. Ek het egter ook lank laas soveel keer my asem ingetrek.
Jy lag vir almal: Die Jode, die Amerikaners, die Christene, noem maar op. Dit was baie erg om te sien hoe die man misbruik maak van nice mense se gasvryheid. Nogtans lag jy.
Die swernoot bôl jou self natuurlik ook. Jy lag so lekker vir almal, maar iewers in die fliek “feature” 'n groepie of 'n individu met wie jy jouself dalk sou kon assosieer. (Nee, nie die mense met die rubberarm nie.) En wanneer dit gebeur, voel jy die ongemak in jou rug kriewel.
Die fliek is bar. En tog dink ek dit is ook sosiale kommentaar.
Dink net: Is dit vir enigiemand snaaks om verby 'n winkelvenster te loop met 'n kaal winkelpop daarin? Of dan met slegs onderklere aan? Nie vir my nie. Maar in die fliek staan Borat oop en bloot en bevredigd na die poppe en staar. “Die vark!” dink jy. “Sommer so oop en bloot!” En dan besef jy: Eintlik is almal maar met hulle broek op hulle knieë betrap. Kan dit as normale gedrag beskou word om kaal poppe in winkelvensters uit te stal vir almal om te aanskou? Ons dínk so, want niemand frons nie.
En jy lag lekker vir die prostituut waarmee hy spot. Totdat jy iets van haar menslikheid sien, en weer sit die flippen ongemak in jou ruggraat. Ek verstom my aan mense se vooroordele, en oomblikke daarna word ék uitgevang.
Dis baie snaaks om te sien hoe etiketkenners (klink soos 'n woord uit Huisgenoot – daar is dit mos altyd: “kenners beweer…”) beterweterig is oor ander se doen en late. En om jouself uit te vang dat jy dink: Ék sou darem nie só stupid gewees het nie.
En so word ek toe deel van die mense met wie daar gespot word. Mens voel bietjie kaal as jy daar uitstap.
Moontlike teks: Kyk net hoe onbeskof is twee dissipels in Mat. 20:20-28. En eintlik is dit nie net hulle tweetjies nie. Veral vers 25 sien ons in Borat. Want ons weet die mense van Kazakstan is nie REGTIG soos uitgebeeld nie. En tog is hulle “not quite as cultivated”, dink ons.
(Maeree, kom ons sê as ek drie of meer kommentare hierop kry, jou eie uitgesluit, skuld jy my daardie roomys…)