Wednesday, January 10, 2007

Trois Couleurs Rouge



Ek dink elkeen het sy eie “pet sin”. Gewoonlik is dit die ene waarmee jy nie regtig sukkel nie en dan is jy kwaad vir al die ander wat dit doen. So bly jy veilig en beter.

My favourite sonde is ignorance. (Maar ek sukkel ook maar.)

En dit is hoekom Red my mond laat oophang het. Behalwe vir die gewone dommerige gevoel wat ek kry wanneer ek Kieslowski-flieks kyk, het Red besondere uitdagings aan my gestel. Een spesifieke tema het my in die duister gehou totdat die lig vir my opgegaan het.

Kyk bietjie hoe mense in die lig of in die donker inbeweeg in hierdie storie. Red spring selfs weg met flikkerende ligkolle wat uit fokus uit is (met allusions na verkeersligte en telefoonseine). Jy sien 'n motor wat in die donker by 'n inrit inry. Later weer dieselfde toneel, nou net in die dag. Jy sien 'n toneel waar die son sak en jy as kyker in die skaduwee beland. Maar hierdie snit is NET te lank om nie iets te beteken nie. Of dit gebeur dat die hoofkarakter agter 'n ding verbybeweeg en die lig van 'n lamp val oor haar gesig. En die ontstellende toneel waar die jongman teen 'n muur uitklouter om op die lysie van die eerste vloer langs verby te skuur tot by die woonstelvenster waar daar lig uitskyn. Stadig skuif sy gesig verby die muur… vanuit die skadu tot in die lig. In hierdie helder lig sien hy sy verloofde met 'n ander man, besig met die naakte waarheid.

Hoe oordeel jy sonder dat jy ingelig(!) is? Die vraag in die storie is soms: Wíl jy ingelig wees? Want wat gaan jy daarmee doen?

Nie vreemd nie dat die ander hoofkarakter 'n regter was. (Haai, in Frans klink dit selfs na 'n mooi beroep!) Aanvanklik veroordeel ek die man, want ek is nog in die duister. Hy leer my egter die prentjie is groter as net wat jy NOU sien. Net soos wat die blote raakry van 'n hond of die oopval van 'n boek baie groter betekenis kan hê as wat jy dink. Of dalk bel jy iemand en haar lyn is beset, en jy maak allerhande gevolgtrekkings, en so word die verhouding in 'n ander rigting gestuur.

Ek het gewonder vir wat hoor ons kort-kort 'n vliegtuig, maar ons sien dit nooit nie? Is dit dalk die moontlikheid dat ons oordeel op grond van wat ons sien, maar daar is altyd ander wat meer en wyer sien as jy? Neem bv. die model Valentine se foto van die kougom-advertensie. Hoeveel anders lyk die toneel nie aan die einde van die fliek nie? Daar word vroeër met haar gespot oor die kougom-advertensie, en die regter se huis word met klippe bestook oor hy afluister, want dit is al wat die mense sien.

Ek het besef dat ek maar geen mens kan veroordeel nie. Ek ken nie sy/haar hele storie nie. As jy eers in die lig is, wil jy nie meer oordeel nie. Maar dit was ook nie noodwendig wat jy wou sien nie. Selfs die hond het gesukkel om te besluit watter baas wil sy hê.

Tekste: Mat 7:1-5 oor oordeel. Ek hou ook van Efes. 5:8-14. Ons dink soms omdat ons in die lig is, kan ons maar oordeel. Ek dink eerder die twee verse saam beteken dat ons nie kan oordeel nie, want ons is in die lig.

(NS.: Ek vermoed Blue is my gunsteling weens die musiek; White my kollega s'n weens die blond en Red is Do Kwang s'n weens die hond met kleintjies.)

6 comments:

Do Kwang said...

Dis een van die min DVD's wat ek besit. Ek beskou dit as 'n spookstorie, want dit spook vreeslik by mens en jy kan dit letterlik 30 keer kyk en elke keer is dit beter.
Blanc se musiek is die mees underrated - dis regtig pragtig, maar mense koop altyd net die ander twee se klankbane.

Freddy said...

My sussie was so gaaf om my die hele trilogie te gee.

Jy maak moeilikheid. Agv jou kommentaar is ek genoop om nou weer White te gaan kyk (luister). En ek het nie nou tyd nie, dammit!

Do Kwang said...

Ja luister, daar is die mees beautiful spooky klarinet op die eerste helfte van die klankbaan, voordat die viole begin.

Pienk Zuit said...

Julle 2 sal my sommer oortuig om al 3 (vir die eerste keer) te kyk. Kwang, hoe lykit, het jy 'n kopie wat ek kan leen?

Anonymous said...

ek wou sê dat die regter wat ek ken, 'n boks is. maar nou laat jy my oordeel oor die arme ou heroorweeg. (hy is nog steeds 'n boks, maar daar's sekerlik redes voor. shame.)
(maeree)

Do Kwang said...

Ja Zuit, ek sal dit as my sendingtaak beskou.