Tuesday, January 30, 2007

Charlotte's web: Poging 1

Dit het nogal snaaks gevoel: Almal sit in verwondering in die teater oor die oulike varkie wat deur die meisie aangeneem word. Die volgende oomblik wys hulle lekker spek wat gebraai word, en ek is die enigste een wat kliphard uitbars van die lag. (Btw, gisteraand tydens ons ernstige nuwe kerkraad se vergadering hoor ek iets in die kombuis. Ek verskoon myself en gaan kyk. Dis toe die teetannie wat probeer om met 'n lang stok die venster hoog teen die dak toe te maak. Ek kon myself nie keer nie. Ek het haar gestorm en skrikgemaak. In alle eerlikheid, ek het nie gedink sy gaan SO skreeu nie. Hoe verduidelik 'n mens DIT aan die kerkraad sonder dat dit absurd klink? En: ons het ook besluit dat nie-lidmate wat begrawe word, 'n donasie van R200 sal gee vir die verversings. Ek het gesê dis reg so, maar EK gaan hulle nie vra nie, wat doen ek as hulle antwoord..?)

Nouja, Maeree se gunsteling klanksteelstorie:

Ná een van my preke, besluit ek om tog vir 'n slag die Tien Gebooie te lees. 'n Ernstige moment, want dit gebeur nie so baie nie. Terwyl ek dit lees, gewaar ek iemand wat by die voorste trappe (vinnig) opgehol kom, en by die voorportaal in verdwyn. Gedagtig aan die pogings tot diefstal wat ons by die basaar gehad het, vang my oog langer sinsnedes per keer, sodat ek langer kan opkyk terwyl ek die woorde sê. En sowaar, die man het ons klankkamer ontdek, en verdwyn buitentoe met 'n spoed, sy hande vol drade en Shure-mikrofone. “Nie in MY kerk nie,” besluit ek. Maar wat nou? Ek stop.

“Eh…uhm…ek weet ek is nou nog nie by ‘jy mag nie steel nie’, maar iemand het sopas van ons klanktoerusting gevat en geloop.” Verstom word ek aangekyk. Ek gewaar twee prominente manlike diakens. Ek vra hulle om gou te gaan kyk. Bo-op die galery verrys die hoofspeurder van die dorp, en met verbasende spoed, dog statig, bereik hy die voorportaal en buitedeur.

Ek begelei die gemeente rustig deur die res van die diens en slotgesang.

Ná die afsluiting in die konsistorie, kry ek die speurder. “Het julle die man toe gekry?” vra ek, baie trots dat ek ons toerusting so kon beskerm.

“Ja,” sê hy. “Maar dit was Johan.”

Johan is die kategeet wat verantwoordelik is vir die klank in die saal sodat die kinders kan sing. Die speurder en diakens het hom omtrent beetgekry, maar gelukkig gou agtergekom wat aangaan.

Ek het nog nie weer die Tien Gebooie gelees nie.

Ag nee, ek sal later weer probeer om oor Charlotte 'n draadjie te spin vir die worldwide web. Dis nou eers genoeg.

11 comments:

Do Kwang said...

Doen Apocalyto! Toeeeeee!

Pienk Zuit said...

As jy versoeke aanvaar, nomineer ek Wedding Crashers. You sailor you!

Freddy said...

Ek moet nog Apocalypto kyk, nou't ek goeie rede.

Ek sal ook wedding crashers doen. Snaaks, niemand vra oor Borat nie??

maeree said...

ek love daai storie! dis ook maar goed dat jy so lovable is, anders was jy seker lankal in die moeilikheid (groter moeilikheid as die standaard).

ek gaan vanaand apocalypto kyk.

as jy borat kan doen, sal ek vir jou roomys koop. as jy oor borat preek, sal do kwang sorg dat jy famous word.

maeree said...

flippen apocalypto wys nie in ons flippen stad/metropool nie.
nou sal ek en die hoof van die huis maar iets anders moet kry om onsself mee besig te hou vanaand.

Freddy said...

As ek reg onthou, Maeree, het iemand laas darem vir julle 'n nice swaai geskenk? (Beter as Heidi s'n)

Freddy said...

ONTHULLING:
Apocalypto wys ook nog nie hier rond nie. En hier is 2 ster-kinekors binne ry-afstand.

Blegh.

Do Kwang said...

Maeree: Is PE dus een van daai Ster Kinekors soos Stellenbosch s'n wat alles 'n week of twee te laat wys?
Apocalypto is ubergewelddadig, maar nogal interessant. Effens soos The Passion of the Christ met action sequences.

Do Kwang said...

Kan jy nog op blogger inlog? Ek kan glad nie meer nie, hy dring daarop aan dat ek beta toe moet skuif voordat hy my toelaat.

Freddy said...

Ja, ek kry ingelog. Wat is nou eintlik die verskil tussen die oue en die nuwe?

Is apocalypto meer gewelddadig as Rooikappie/Hansie & Grietjie/Jan en die boontjierank/3 Varkies?

Lammervanger said...

Great storie. Great!!