Saturday, September 29, 2007

Brother Son, Sister Moon



Grampa
The old man
must have stopped our car
two dozen times to climb out
and gather into his hands
the small toads blinded
by our lights and leaping,
live drops of rain.

The rain was falling,
a mist about his white hair
and I kept saying
you can't save them all,
accept it, get back in
we've got places to go.

But leathery hands full
of wet brown life,
knee deep in the summer
roadside grass,
he just smiled and said
they have places to go to too.

-Joseph Bruchac

Thursday, September 20, 2007

The Lost World



Hiermee die redes hoekom ek lanklaas 'n post gedoen het.


Ek kon, maar ek was regtig egtig nie lus nie.

Tuesday, September 11, 2007

Oor Noag

My vierjarige seuntjie reken hy is alwetend. Hy vertel dit in soveel woorde. Soms vra hy iets, en as jy hom die inligting voorsien, antwoord hy: "O ja. Ek weet nog steeds alles, ek het net bietjie van DIT vergeet."

Gisteraand moet ek vir hom 'n Bybelstorie lees. Die kinderverhaalweergawe van Noag en die ark. Teen die einde, lees ek toe: "God het toe 'n reenboog geverf. So iets sou nooit weer gebeur nie."

Ek lees verder. Doen die gebedjie ding. Maar hy onderbreek die gebed halfpad.

"Nee," protesteer hy, "dis nie eintlik so nie. Daar was klaar 'n reenboog. Want eintlik, as 'n mens met 'n boot gaan ry, dan sien jy mos 'n reenboog."

Ek vrek oor my kind se geloof.

Tuesday, August 28, 2007

Evan Almighty


Ek verstaan nie aldag hoe resensente se koppe werk nie.

As ek by McDonalds gaan eet, en ek moet daaroor 'n resensie neerpen, gaan ek bietjie onnosel wees om dit op dieselfde manier te beoordeel as Le Ballon Rouge in Franschhoek.

Gaan kyk gerus hierdie fliek. Jy weet mos dit is in dieselfde kategorie as Bruce Almighty, en beslis nie 'n opvolg van American Beauty of die vierde fliek van Kieslowsky se Four Colours nie. Hoekom op aarde moet 'n duif met 'n takkie in die bek in hierdie genre "subtiel" wees?

Nee, vandag het ek geen teks nie, jy kan mos sien ek wou net kla.

Saturday, August 25, 2007

Bourne Ultimatum


"I remember everything."

Ons sien hoe het dit gebeur dat Jason Bourne hy geword het. Maar Jason Bourne wil weer terug na wat was. Of eerder, wie hy eintlik is.

Vasgevang in 'n lyf en 'n persoonlikheid wat nie ooreenstem met sy oorspronklike bestaan nie, spring, val, vlieg en jaag hy van dak tot dak om uit die tronksel genaamd Bourne te ontvlug. Ek wonder wanneer hy kans gekry het om te piepie, want ek kon nie 'n sekonde mis om noodverligting te doen nie.

Hoe het hy Jason Bourne geword? Hy het daarvoor gekies. Maar dis dikwels eers agterna wat ons agterkom hoe ons verkeerde keuses ons in dodelike geheime agente verander het. En dan, op 'n dag, kom die skok: Dit was al die tyd ek.

Dalk is ek bietjie te moedswillig, maar ek het opgelet dat:

  • Jason Bourne kies teen sy huidige identiteit, vir dit wie hy eerder wil wees.
  • Hy konfronteer dan nie net die agent wat hom wil doodskiet nie, maar ook vir my: Weet jy ooit hoekom jy doen wat jy doen? (Vasgevang in jou eie vorige keuses.)
  • Onmiddellik daarna spring hy tot sy oënskynlike dood.
  • Hy verdwyn onder water.
  • Ons sien hoe Jason Bourne onder water "sterf".
  • Na hierdie doop, begin David Webb swem.
  • En die TV-verslaggewer verkondig dat hulle na DRIE DAE tot die gevolgtrekking gekom het dat Jason Bourne weg is.
My rugspiere is vandag styf.

Moontlike teks: Matteus 10:39 "Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind."

Monday, August 20, 2007

Breaking and Entering

'n Vos in die stad.
'n Vis uit die water.
'n Vrou uit Bosnië, nou in Londen.
'n Verlore familie of 3.

'n Man wat "onskuldig" is, maar HY is die eintlike inbreker. Sy inbraak is egter nie deur 'n glasruit nie, maar in ander mense se persoonlike ruimte. Dit neem egter 'n rukkie om dit te snap.

As jy nog nie die tema snap nie, vertel die einste man dit vir jou met sy toespraak oor die vernuwing van 'n ou stadsgebied in Londen: jou milieu bepaal jou gedrag.


Van al die inbrake in die fliek (daar is darem nie te baie nie), is syne die gewelddadigste - bloedloos, maar emosioneel intensief. (En ek word altyd verstom deur Juliette Binoche.)

Interessante oogkos: daar word gespeel met geriffelde glasdeure - wanneer is iemand in jou ruimte, wanneer nie?

Ek wonder oor my eie milieu. Ek wonder oor die milieu wat ek skep waarin ander moet oorleef.

Jy sien goed wat breek: borde, glasruite, harte, klere. Sommige word herstel, ander nie.

Wanneer Amira (Binoche) agterkom dat daar by haar "ingebreek" is, voel jy in die pad. Jy wil haar grense weer vir haar toemaak.


Moontlike teks vir saamgesels: Lukas 9:1-6. (Wat is "my" tuiste? Wat beteken koninkryk? Breek ek in by ander mense?)

Tuesday, August 07, 2007

Donnie Darko


Ek brand om iets hieroor te skryf, maar ek verstaan nie lekker wat aangaan nie.

Hulp?

Sunday, August 05, 2007

Harry Potter and the Order of the Phoenix




Openingstoneel: Crop circles. Of is dit 'n parkie? Word ons bewegings en roetines wat ons elke dag deurtrap, soms soos 'n magiese "fixture" wat jou lewensvloei bepaal en jou vryheid inperk? Dalk bang vir ander roetes. Bly by die bekende. Gevangene.

Gelukkig is Hogwarts daar. Die skoolgebou weet self wanneer die roetines en 110 gebooie 'n bedreiging word. Hy skep spontaan 'n nuwe vertrek waar die blokkasie van groei oopgemaak kan word.

Daai Pienk Tannie is darem vreeslik. Eintlik is dit hoe ons ook maak. Wanneer jy iets nie wil hanteer nie (soos bv., as jy nie lus is om te erken dat die vreeslike Voldemort-sonder-'n-neus terug is nie, of dat AIDS of Zimbabwe soort van 'n probleem is nie), skuif jy dit opsy. Jy maak nuwe reels daaroor om jouself weg te hou daarvan. Enigiets om nie ander paaie te loop nie.

Ek ken so vrou. Erge trauma as kind deurgemaak. Self reels gemaak om verdere seerkry te keer. Maar die probleem gaan nie weg nie. Aanhoudend kom nuwe selfreels by. Alle energie en innerlike krag word opgebruik. As haar lewe ook so 'n Hogwarts-muur was, was dit tot teen die dak vol geraamde wette.

Ons is nie gebou vir ontkenning nie. Dis hoekom ons oor en oor droom oor die goed wat nie afgehandel is nie - nagmerries inkluis.

Jou keuse is dus:

1. Perk jouself meer en meer in met selfgemaakte reels, of metodes om die eintlike issue weg te hou.

2. Ontdek jou Hogwarts-kamer wat spontaan oopmaak wanneer dit nodig is. Face the issue.

Keuse 2 impliseer vertroue. (Ons kan nou soetsappig vertel hoe Harry se vertroue in sy vriende hom mos nou red, maar hoekom sal ek? Julle het mos die fliek gesien.)

Matteus 15:21-28. Hierdie vrou se vertroue was so groot, dat sy die konvensies woes bevraagteken het. (ek sien haar dogter had ook probleme met Voldemort :-) )

Wednesday, July 25, 2007

Transformers & Fantastic 4





Die groot ou is op pad, en hy kom om die hele aarde te verswelg. Hy het 'n paar pionne wat solank sy koms voorberei vir die verorbering van die blou planeet.



Dit is in kort die samevatting van altwee flieks.



Eintlik verbasend hoe die www, waar jy nou lees, van ons planeet 'n village gemaak het. Vyande word anders gedefinieer. Is die vyand dalk Noord-Korea? Rusland? Irak? Iewers in die Ooste?



Of jy nou saam met die bioniese masjiene uit die ruimte, of saam met die fabelagtige vier van kontinent tot kontinent kerjakker, jy ontdek: Ons hele planeet is op die spel hier. En ongeag jou land van herkoms, die aardetjie is maar kleinerig.

In beide flieks sluk jy hard aan die feit dat in albei, die eintlike oorsaak van die einde van die planeet, die mens se eie gierigheid en verbruikersmentaliteit is.



Gevolglik verdwyn die grense tussen mense (dit rym en klink soos Sproetjies!) en die fokus verskuif: Kyk na die planeet!



'n Verdere gedeelde tema in die twee flieks, is die geweldige frustrasie van 'n kommunikasie-gaping. By Transformers is die tienerheldjie die ene wat weet wat is die beste vir die planeet. Maar die patetiese ouers en CIA-lede gaan onversteurd aan met hulle eie oorlewingsresepte. Dit sluit ontkenning in. Jy voel die geweldige spanning wanneer die "goeie robot" gevang word. As mense tog net 'n kansie wou vat om te luister. By Fantastic Four is dit dieselfde geval: die profete van die storie word geignoreer. En hier sien jy visueel die monster wat die aarde kom insluk. Dit wat in die flieks bedreig word, is nie meer New York of Los Angeles of San Francisco nie. Ook nie een of twee boeings nie. Dit is 'n hele aarde, waarvan die grense onderling vervaag. Ek hoor benoud 'n volgende generasie skreeu, en is angsbevange dat ek dalk ook met dowe ore my eie resep sal bly volg.

Kolossense 1:19-20 vertel dat die hele aarde versoen is met Hom. Nie verorber nie.

Wednesday, July 18, 2007

7de Laan



Wragtag. Ek glo nie ek doen dit nie. Ek is 'n kineketter, want hierdie is 'n TV-reeks.

Maar danksy Oopkop se skreeusnaakse video-clippie oor Regter Rudy het ek vasgehaak by hierdie Sodium Laureth Sulphate.

Hierdie spesifieke seep tickle my. (Nou nie die lag-soort tickle nie). Dis 'n vermenging van splinternuut (selfone en internet dating en moderne settings) met ouwêreldse familiariteit (ek wens die verskillende generasies in my gemeente kan so meng met mekaar soos in daai seep).

Ek vermoed dit is wat mense dalk trek. Of hipnotiseer. Of watookal.

Maar daar is iets wat my GRENSLOOS irriteer van meeste sepe. (Sien Sodium Laureth Sulphate link hierbo.)

Die karakters.

Goed en wel: Kom ons maak hulle bietjie meer lewens-eg en gee elkeen bietjie goed en bietjie sleg. Laat die gepeupel identifiseer met die karakters. Wie is nou immers net goed of net sleg? Maar wat maak jy as jy week in en week uit 'n storielyn (!) aan die gang moet hou met duisende lesers per aand? (Wie kan dit kyk sonder om die onderskrifte te volg?)

Die oplossing is eenvoudig: Wisselvallige karakters. Die kyker word gelei om sekere goed te glo en te aanvaar van die karakters. En dan, op 'n dag, trek 'n storielyn weg met een van die karakters wat vir twee, drie weke skielik 'n magdom ander eienskappe besit. Dan is dit weer oor en verby.

Die kyker het geen beheer nie. Jy is totaal en al oorgelaat aan die psigopatie van die karakters. Met beheer bedoel ek dat jy darem min of meer 'n aanvoeling moet hê vir karakters en hulle ontwikkeling. Dit sluit nie verrassing uit nie. Dis net vreeslik as mens gereduseer word tot 'n wese wat gedurig keuses moet uitoefen... asof dit al is.

Moontlike teks: Eksodus 3:14.

Monday, July 09, 2007

Shrek the Third



Miskien meet mens hierdie genre itv die kinders om jou. Myne het met hulle hande in die pop corn gesit, maar vergeet om te eet.

Dit was eintlik 'n baie genotvolle fliek.

Maar die helde val in strepe:

Sneeuwitjie is 'n bederfde snob wat dwergies misbruik.

Raponsel is toe al die tyd eintlik bles.

King Arthur is 'n whimp.

Merlin is die kluts kwyt.

(Gelukkig mis die Gemmerkoekmannetjie jelly tots as hy skrik.)

Maar jy kry ook begrip vir die villains van sprokiesland:

Repelsteeltjie is 'n kind belowe, wat hy nooit gekry het nie.

Die stiefsusters is maar eensamerig.

En ek kan nie nou onthou wie was daar nog nie.

Maar die ondertoon van Shrek 3 was vir my eintlik geweldig "sad". Eintlik illustreer die openingstoneel iets daarvan: Die Paddakoning sterf, maar dit word baie lagwekkend voorgestel. Selfs die begrafnis. Daar heers konstant 'n blasé gevoel oor wonderlike, magical dinge, asook oor baie slegte dinge. Eintlik effense sinisme. Dis asof alle gevolgtrekkings slegs voorlopig kan wees. Maar dis ook nice, want jy bly oop.

Eintlik word daar baie gespeel met perspektief op ander mense se karakter. Shrek moet die koning se plek vul. Puss en Donkey ruil onwillekeurig lywe. Die goodies en baddies raak deurmekaar. En so kry jy meer begrip vir die ander ou.

Ek wonder dikwels: Hoe naby is GENADE en BEGRIP aan mekaar?

Moontlike teks: Ek sal eerder bietjie wil gesels oor Matteus, die tollenaar. Hoe het hy as mens verander toe sy rol geskuif het van tollenaar na dissipel? Hoe naby is karakterverandering aan 'n blote rolverdeling? (Die laaste gedeelte van Shrek 3 speel immers op 'n verhoog-toneelstuk af.)

Friday, July 06, 2007

Volgende post: Shrek Third

Ek is heel gespanne. By voorbaat behoorlik vies, of by voorbaat behoorlik tevrede. Dis 'n onhoudbare ervaring.

Die rede... ons gaan vanmiddag laat Shrek the Third kyk.

En die vrae wat huidiglik in my onderbewussyn rondwoel en kort-kort in 'n visioen uitbars (sien gerus Oppietrap se wondery hieroor), belemmer my konsentrasie.

Shrek 2 was eintlik in 'n ander genre as Shrek 1, though steeds goed.

Maar Hollywood is geneig om jillende, aksiebelaaide, skerpsinnige gediertetjies te laat toeneem met elke volgende uitreiking van elke fliek. Totdat daar van die oorspronklike sjarme niks oorbly nie. Dit voel soms in hierdie animasie-flieks asof jy agter 'n rekenaar sit met so vier tot vyf windows oop op een slag, en elkeen skree vir volle aandag. (Terloops, iets is radikaal fout met my lewe. Ek was nou al 68 keer die 999 999th besoeker op verskillende websites. Ek voel soos 'n tikkende tydbom.)

Tot weersiens. Dink aan my.

Friday, June 29, 2007

Meet Joe Black


In my eerste gemeente het die hoofouderling die voorreg om die nuwe proponentjie eerste vir sy wyk te gaan wys.

Op pad na huis nr 3, vertel hy my dat die tannie se man onlangs oorlede is. "Maar wat, sy gaan goed aan."

Ons klim uit die motor, hy klop aan die deur. Tannie vat bietjie lank. Onseker prewel die oom: "Ek hoop nie ons is nou voor dooiemansdeur nie."
* * *
Ander keer is ek voor die begrafnis-ondernemers by die langslewende. Groot Oom se liggaam wag nog in die kamer. Die ondernemers daag op. (Ek sou verkies het dat hulle naam eerder "bo-nemers" moes wees.) Maar hulle bestaan uit: een sterke man, en een fyne vroutjie. Ek bereken vlugweg die gradiente van die gange en draaie en hoeke, en ek weet: Vandag is ek 'n Draer.

Ek kry my eie paar blou handskoene. Hulle squeek. Verbouereerd staan Fyne Vroutjie opsy. "Dankie, Dominee."

Ek en die sterk man moet ons draai ken. Ons two-step selfs hier-en-daar. Soms is die liggaam heeltemal vertikaal, en soms is ek darem weer vertikaal. Ek is later skoon dronk.

Sedertdien begryp ek wel hoekom is dit 'n ondernemer. Dis swaarder onder.

Tuesday, June 26, 2007

Bridge to Terabithia


"Children are our finest teachers. They already know how to grow, how to develop, how to learn, how to expand and discover, how to feel, laugh and cry and get mad, what is right for them and what is not right for them, what they need. They already know how to love and be joyful and live life to its fullest, to work and to be strong and full of energy. If only we didn't get in their way." Aldus Violet Oaklander.

In hierdie fliek is die brug in die genoemde titel 'n plek waar jy oorgaan na 'n ander wêreld. As't ware 'n ontsnapping van realiteit. (Sien ook die post by Amelie en Life is Beautiful).

Of is dit?

Vir eers is die vreemde karakters in die onvlugtingswoud vreemd en ver. Dit is te onwerklik vir woorde. En jy sien dit word die plek waar die twee kinders ontsnap uit moeilike skool-omstandighede en, vir die een, 'n moeilike huis.

Maar mettertyd herken jy die vreemde karakters as eg. Dit is eintlik mense van hulle real life wat as towerkarakters in Terabithia voortbestaan. Dis nogal great om die ver-af monster kort-kort te sien. En soos wat die seun se verhouding met sy pa verbeter, kom die monster telkens nader en nader. Totdat die verhouding herstel en die monster verdwyn.

Ek het hierdie film terdeë geniet. Jy sien heelwording plaasvind in die kinders se droomwêreld.

Ironies dat die meisie sterf presies op die plek waar die brug na Terabithia is.

Maar ek hou daarvan so. Terabithia bly voortbestaan vir die seun. Dit is waar hy ook heel word van sy verlies. Hy bou selfs 'n sterk brug na die towerbos vir sy sussie.

Ek soek na twee goed in my eie lewe n.a.v. hierdie eenvoudige fliek.

1. Vertroue in my eie ontvangde kreatiewe krag om die werklikheid te verstaan en sin daaruit te maak.
2. Ek wil ook sulke brûe help bou vir ander mense; diegene wat vasgeval sit.

Moontlike teks: Jesaja 44:1-5. Dis 'n droomteks vir mense wat nie meer wou roer nie. Die "imagery" van die wilgerbome langs waterlope laat my ook dink aan die fliek.

Monday, June 11, 2007

Fracture

Dit voel of ek stadig besig is om wakker te word na 'n lang, ongemaklike slaap.

Dit is te danke aan 'n werkswinkel wat ek verlede week bygewoon het deur die skrywer van hierdie boek:


Sedertdien bestudeer ek die boek, en dit maak soveel sin.

Snaaks genoeg, die dag voor die werkswinkel was ek aan’t fliek kyk. En die raakpunte tussen die boek en die fliek is glashelder.

Fracture wys ons dat almal eintlik maar onvolmaakthede het. Ons hou van sukses en beter-wees-as-ander (soos in meer bekwaam).

In die storie is die yuppie-prokureur besig met sy opbloeiende loopbaan. Die moordenaar verkies hom in die hof. Hoekom? Oor sy bepaalde “fracture”. “And what is mine?” wil hy weet. Die moordenaar glimlag. “Winning.” Die prokureur skud sy kop. Hoe kan “winning” 'n onvomaaktheid wees?

Dit openbaar die fliek.

Op 'n plek sien ons die moordenaar met een van sy oulike speelgoed. Dis 'n komplekse konstruksie wat albasters laat rondrol in spesifieke patrone. Die konstruksie het een klein foutjie in en die albaster ontspoor. Wat jy sien, LYK volmaak, maar dit is toe nie.

Dis waaroor Luister na die Lig gaan. Die teorie is dat ons van kleins af voorwaardelike liefde ervaar. Ons split ons “self” in twee. (Van nou af gebruik ek Fracture-taal.) Die een self met die fractures word onderdruk, weggesteek. Die ander een, Winner, word opgeblaas. Ons wys net wat beloon word. Ons ontken waarvan die wêreld nie hou nie. In die proses begin selfhaat om die split in stand te hou. Maar tog ontspoor die albaster.

Fracture konfronteer ons met ons eie onvolmaakthede. Luister na die Lig nooi ons om hierdie onvolmaakthede te embrace en jouself lief te hê.

Hoekom?

Want eers dan is jy in staat om werklik lief te hê.

Moontlike teks: Efesiërs 2:13-22 gaan eintlik oor twee soorte mense. Maar ek sien dit ook as 'n teks wat my eie storie vertel van twee selwe wat in Christus verenig is. Die een is 'n aanvaarbare ekke, wat 'n goeie dominee is, wat nice blogs skryf, wat sy woord goed kan doen, ordentlik en slim is en weet hoe om kinders op te psyche. Die ander een is die onaanvaarbare ekke, wat selfgesentreerd is, wat soms jok om goed te lyk, wat moeg raak vir mense, wat strukture wil afbreek. (Sorry, overshare. Maar sien, ek sê sorry omdat ek veronderstel is om net die goeie deel te wys.)

Wat is jou goeie deel en slegte deel? Maak dit sin dat dit verenig kan word? Is jy (1) bewus van jou fracture en (2) kan jy dit embrace?


Monday, June 04, 2007

Rondloper

Ek loop ook hierdie week rond. Op 'n konferensie waar teologie en sielkunde hande vat. Nee, dis nie die sinode nie.

Pirates of the Caribbean: At World's End


'n Mens kan hierdie fliek toe-oog kyk. Daarmee maak ek nou geen uitlating oor die storie nie. Daar is so baie verraaiery en rugstekery, dat ek later opgehou het om te probeer bybly. Ek sou hier kon gesels oor: die dood, omdop van lewe/dood, om jou hart vir iemand te gee, ens. Maar daar is iets anders wat ek graag hier sou wou besing...
Want mens kan hierdie fliek toe-oog kyk oor die ongelooflike mooi musiek. Hierdie post is dus 'n ode aan Hans Zimmer. Gaan scan tog net gou hoeveel flieks se musiek het hy voorsien. Hy en John Williams is die rede vir die sukses van baie flieks. Sonder musiek, was ons stories maar bra flou. Selfs die wereld-sokkerbeker en Olimpiese Spele word bemark met klassieke musiek. (Hoewel die doelskoppe soms dan na ballet lyk.) Selfs op Sewende Laan het hulle deesdae alternatiewe wysies vir die viole uitgewerk dat ons saam met Matrone kan huil.
Wat ek hoor, speel 'n geweldige groot rol op wat ek voel en dink. Met die gevolg dat "At World's End" regtig great was. Die musiek het my meegesleur. Ek het soms "bygekom" na great stukke, want ek was meegevoer na my eie eilande, oorlogtonele, liefdesverklarings en wolkspringery. Sommige stukke van die tonele het by my verbygegaan, want die musiek was te goed vir die acting.
Dankie, Hans, vir kunstenaars soos jy. Julle maak nie net die silwerdoek lewend nie, maar ook ons verbeeldings. Ek hoop ek kan so inskakel op emosies soos jy. You took me to world's end.

Thursday, May 31, 2007

Apocalypto


Ek sit van vanoggend af met 'n kopseer. Dis Apocalypto se skuld, want ek het dit uiteindelik gekyk. Nogal walglik.

“Fear is a disease. Strike it from your heart.” Makliker gesê as gedaan. Ek was vir 'n paar oomblikke bang die fliek kry nie klaar nie. Ná hierdie ontblote harsings, drillende harte en oopgekerfde kele is die volgende fliek seker Hanniball Rising. (Vergeet daarvan…) Die arme tapir se wrede slagting in die begin van die fliek is klaar erg genoeg.

Die openingstoneel en die slottoneel vorm 'n toebroodjie (alhoewel nie vegetaries nie): 'n mooi stukkie bos. Dit begin met plante en eindig met plante. Maar die vulsel tussenin is vol mense en dus ook vol bloed.

Die tema van vrees het my aan die wonder gesit. Die mense in die fliek het vrees vir dood, geweld, verlies, vernedering, afskeid, misgeboorte, you name it, dit is daar. Maar op die ou einde word meeste van die geweld in die fliek gedryf deur vrees vir God.

Wanneer is mense bang vir God?

Ons is bang vir Hom wanneer ons dink Hy is kwaad.

Is God kwaad?

Hoe kwater God is, hoe meer geweld pleeg ons in die naam van godsdiens.

Snaaks dat die fliek se naam Apocalypto is. Ek verstaan die Mayan samelewing het 'n obsessie gehad met tyd. Beginne en eindes. 'n Apocalypse verwys soms na 'n eindtyd, of 'n finale fight voor alles klaar is. “We seek a new beginning,” verklaar Fish Hunter aan Jaguar Paw.

Ek soek dit ook.

Ek besef die kruis staan eintlik ook teenoor die Christendom self. Ek wonder of Gibson gereken het die koms van die kolonialiste was die “new beginning”. Ek is versigtig om dit te sê. Tog het die kruis saam met die skepe gearriveer. Ek sou wou hê dat die kruis beteken: Geen offers meer nie. Daarom geen onreg, geen uitbuitery, geen ekonomiese verdrukking, geen geforseerde skeiding, geen bang kinders, geen verkragting, geen vernedering, geen geweld, geen vrees -

ook nie vir God nie.

Moontlike teks: 1 Joh. 4:18-19

Ek het steeds kopseer.

Sunday, May 27, 2007

The Fountain


Elders in die kuberwêreld word daar gesels oor “self” en die verhouding daarvan tot “my liggaam”. Ek wonder oor my geheue-blokkies – want my verlede en wat ek gedoen het en wat met my gebeur het, is óók mos ek.

Ons dink soms aan die ewige lewe as 'n lang lyn. Dit hou net aan en aan en aan. Sommige teoloë sê dat ons dalk aan die ewigheid moet dink as 'n sirkel wat allesomvattend is. Ons stukkie lewe hier en nou is dan 'n strepie binne-in daardie sirkel.

In the Fountain kry ons 'n lekker mix-up van Judeo-Christian, Buddhisties en Hindu images en idees. Dis visueel vreeslik lekker om die beelde te aanskou wat op interessante maniere inmekaar vloei.

Die hoofkarakter soek die fontein van die lewe of die boom van die lewe om sy sterwende vrou te red van kanker. Die tema van lewe uit die dood figureer sterk. Hier is 'n resensie wat my sentimente oor die fliek deel.

Wat mý laat wonder het, was die eienaardige vloei van die fliek.

Jy weet nie lekker wanneer is jy waar nie, want die hoofkarakter leef in drie tye.

Ek kom agter dat die tydvloei in die fliek vir my voel soos 'n rondomtalie. Dis nie noodwendig 'n fliek met 'n begin of 'n einde nie. Soos met 'n Big Wheel kan jy eintlik enige plek inklim. En dit “match” lekker met die idee van die fliek.

Kyk net hoeveel sirkels is daar in die fliek. Selfs 'n kruis word 'n sirkel.

En omdat ons dus nie “op pad” is om uiteindelik iewers heen te gaan nie, is die hier en die nou baie belangrik. Gebruik jou kans. Nou.

Ek weet nie regtig wat ek nou hier gesê het nie, maar ek dink 'n moontlike teks wat saam sou kon gesels, is Prediker 3:11-15.

Thursday, May 17, 2007

Spiderman 3


(Vandag staan ons stil by 'n 3-minute moment van Spiderman 3, wat volgens my, 'n deurlopende tema uitbeeld.)

Ons sien die kerktoring van 'n kerkgebou in Manhattan. Die kruis op die toring vertoon duidelik. Die volgende moment is ons net onder die dak van die toring, en ons sien ons spinnekopheldjie verbete veg met homself / buiteruimtelike plasma.

En ek weet instinktief: Dis my geveg daai. En dit vind plaas direk onder daardie kruis wat ons gesien het, al sien ons dit nie nou nie.

In dieselfde kerkgebou sit die pseudo-fotograaf en bid dat Spiderman bietjie Doom kry. Spiderman moet sterf, vra hy.

En saam met hom, sien ons hoe dit gebeur. Onder die geklank van die kerkklok, kom die swart plasma van Spiderman af. Die plasma het gevoed op Spiderman se wraaklus. Onder die geklank van dieselfde kerkklok, onder dieselfde kruis, val die swart plasma bo-op die pseudo-fotograaf. Dit word sy dood wat hy kies, en Spiderman se redding.

Net hierna is Spiderman in die stort. Die water stroom van hom af. Dit is 'n dooptoneel, as jy my vra. Onder die kruis is sy klewerige haat afgegooi, het redding gekom onder die geklank van die klok. Die doop is immers “die afsterwe van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens”.

Dan hoor jy sy tannie klop aan die deur. Die deur sukkel nog heelmiddag (hang af hoe laat jy fliek). Hy gryp die deurknop, en dit kom af. “Ha!” dink ek, “nice scene, hy het iemand van buite nodig om die deur oop te kry”. Maar hy probeer weer, harder, en kry dit reg. En van hier af sien jy nie weer dat die deur sukkel nie. Dit was die draaipunt van die karakter. Redding het vir hom gekom. Hy het dit gekies, al was dit moeilik.

“You always have a choice!” hoor ons aan die einde van die fliek.

Onder dieselfde kruis, onder dieselfde klok, was dieselfde swart plasma, en twee mense. Die een het lewe en vergifnis gekies, die ander wraak en die dood. Vir die een was die klank van die klok, die klank van lewe, vir die ander was dit die klank van die dood.

Moontlike teks: 2 Kor. 2:14-16

(Terloops: Ek kan alles glo wat ek in die fliek sien: Sandman, Green Goblin, Spiderman, Alienagtige plasma. Maar daar is een flippen ding wat my in al drie flieks uit die verbeel uit irriteer: Hoekom de dinges kry Spiderman dit reg om vinniger te val as alle ander objekte en mense? Dit maak dat Spiderman heeltemal ten gronde gaan…)