Friday, June 29, 2007

Meet Joe Black


In my eerste gemeente het die hoofouderling die voorreg om die nuwe proponentjie eerste vir sy wyk te gaan wys.

Op pad na huis nr 3, vertel hy my dat die tannie se man onlangs oorlede is. "Maar wat, sy gaan goed aan."

Ons klim uit die motor, hy klop aan die deur. Tannie vat bietjie lank. Onseker prewel die oom: "Ek hoop nie ons is nou voor dooiemansdeur nie."
* * *
Ander keer is ek voor die begrafnis-ondernemers by die langslewende. Groot Oom se liggaam wag nog in die kamer. Die ondernemers daag op. (Ek sou verkies het dat hulle naam eerder "bo-nemers" moes wees.) Maar hulle bestaan uit: een sterke man, en een fyne vroutjie. Ek bereken vlugweg die gradiente van die gange en draaie en hoeke, en ek weet: Vandag is ek 'n Draer.

Ek kry my eie paar blou handskoene. Hulle squeek. Verbouereerd staan Fyne Vroutjie opsy. "Dankie, Dominee."

Ek en die sterk man moet ons draai ken. Ons two-step selfs hier-en-daar. Soms is die liggaam heeltemal vertikaal, en soms is ek darem weer vertikaal. Ek is later skoon dronk.

Sedertdien begryp ek wel hoekom is dit 'n ondernemer. Dis swaarder onder.

Tuesday, June 26, 2007

Bridge to Terabithia


"Children are our finest teachers. They already know how to grow, how to develop, how to learn, how to expand and discover, how to feel, laugh and cry and get mad, what is right for them and what is not right for them, what they need. They already know how to love and be joyful and live life to its fullest, to work and to be strong and full of energy. If only we didn't get in their way." Aldus Violet Oaklander.

In hierdie fliek is die brug in die genoemde titel 'n plek waar jy oorgaan na 'n ander wêreld. As't ware 'n ontsnapping van realiteit. (Sien ook die post by Amelie en Life is Beautiful).

Of is dit?

Vir eers is die vreemde karakters in die onvlugtingswoud vreemd en ver. Dit is te onwerklik vir woorde. En jy sien dit word die plek waar die twee kinders ontsnap uit moeilike skool-omstandighede en, vir die een, 'n moeilike huis.

Maar mettertyd herken jy die vreemde karakters as eg. Dit is eintlik mense van hulle real life wat as towerkarakters in Terabithia voortbestaan. Dis nogal great om die ver-af monster kort-kort te sien. En soos wat die seun se verhouding met sy pa verbeter, kom die monster telkens nader en nader. Totdat die verhouding herstel en die monster verdwyn.

Ek het hierdie film terdeë geniet. Jy sien heelwording plaasvind in die kinders se droomwêreld.

Ironies dat die meisie sterf presies op die plek waar die brug na Terabithia is.

Maar ek hou daarvan so. Terabithia bly voortbestaan vir die seun. Dit is waar hy ook heel word van sy verlies. Hy bou selfs 'n sterk brug na die towerbos vir sy sussie.

Ek soek na twee goed in my eie lewe n.a.v. hierdie eenvoudige fliek.

1. Vertroue in my eie ontvangde kreatiewe krag om die werklikheid te verstaan en sin daaruit te maak.
2. Ek wil ook sulke brûe help bou vir ander mense; diegene wat vasgeval sit.

Moontlike teks: Jesaja 44:1-5. Dis 'n droomteks vir mense wat nie meer wou roer nie. Die "imagery" van die wilgerbome langs waterlope laat my ook dink aan die fliek.

Monday, June 11, 2007

Fracture

Dit voel of ek stadig besig is om wakker te word na 'n lang, ongemaklike slaap.

Dit is te danke aan 'n werkswinkel wat ek verlede week bygewoon het deur die skrywer van hierdie boek:


Sedertdien bestudeer ek die boek, en dit maak soveel sin.

Snaaks genoeg, die dag voor die werkswinkel was ek aan’t fliek kyk. En die raakpunte tussen die boek en die fliek is glashelder.

Fracture wys ons dat almal eintlik maar onvolmaakthede het. Ons hou van sukses en beter-wees-as-ander (soos in meer bekwaam).

In die storie is die yuppie-prokureur besig met sy opbloeiende loopbaan. Die moordenaar verkies hom in die hof. Hoekom? Oor sy bepaalde “fracture”. “And what is mine?” wil hy weet. Die moordenaar glimlag. “Winning.” Die prokureur skud sy kop. Hoe kan “winning” 'n onvomaaktheid wees?

Dit openbaar die fliek.

Op 'n plek sien ons die moordenaar met een van sy oulike speelgoed. Dis 'n komplekse konstruksie wat albasters laat rondrol in spesifieke patrone. Die konstruksie het een klein foutjie in en die albaster ontspoor. Wat jy sien, LYK volmaak, maar dit is toe nie.

Dis waaroor Luister na die Lig gaan. Die teorie is dat ons van kleins af voorwaardelike liefde ervaar. Ons split ons “self” in twee. (Van nou af gebruik ek Fracture-taal.) Die een self met die fractures word onderdruk, weggesteek. Die ander een, Winner, word opgeblaas. Ons wys net wat beloon word. Ons ontken waarvan die wêreld nie hou nie. In die proses begin selfhaat om die split in stand te hou. Maar tog ontspoor die albaster.

Fracture konfronteer ons met ons eie onvolmaakthede. Luister na die Lig nooi ons om hierdie onvolmaakthede te embrace en jouself lief te hê.

Hoekom?

Want eers dan is jy in staat om werklik lief te hê.

Moontlike teks: Efesiërs 2:13-22 gaan eintlik oor twee soorte mense. Maar ek sien dit ook as 'n teks wat my eie storie vertel van twee selwe wat in Christus verenig is. Die een is 'n aanvaarbare ekke, wat 'n goeie dominee is, wat nice blogs skryf, wat sy woord goed kan doen, ordentlik en slim is en weet hoe om kinders op te psyche. Die ander een is die onaanvaarbare ekke, wat selfgesentreerd is, wat soms jok om goed te lyk, wat moeg raak vir mense, wat strukture wil afbreek. (Sorry, overshare. Maar sien, ek sê sorry omdat ek veronderstel is om net die goeie deel te wys.)

Wat is jou goeie deel en slegte deel? Maak dit sin dat dit verenig kan word? Is jy (1) bewus van jou fracture en (2) kan jy dit embrace?


Monday, June 04, 2007

Rondloper

Ek loop ook hierdie week rond. Op 'n konferensie waar teologie en sielkunde hande vat. Nee, dis nie die sinode nie.

Pirates of the Caribbean: At World's End


'n Mens kan hierdie fliek toe-oog kyk. Daarmee maak ek nou geen uitlating oor die storie nie. Daar is so baie verraaiery en rugstekery, dat ek later opgehou het om te probeer bybly. Ek sou hier kon gesels oor: die dood, omdop van lewe/dood, om jou hart vir iemand te gee, ens. Maar daar is iets anders wat ek graag hier sou wou besing...
Want mens kan hierdie fliek toe-oog kyk oor die ongelooflike mooi musiek. Hierdie post is dus 'n ode aan Hans Zimmer. Gaan scan tog net gou hoeveel flieks se musiek het hy voorsien. Hy en John Williams is die rede vir die sukses van baie flieks. Sonder musiek, was ons stories maar bra flou. Selfs die wereld-sokkerbeker en Olimpiese Spele word bemark met klassieke musiek. (Hoewel die doelskoppe soms dan na ballet lyk.) Selfs op Sewende Laan het hulle deesdae alternatiewe wysies vir die viole uitgewerk dat ons saam met Matrone kan huil.
Wat ek hoor, speel 'n geweldige groot rol op wat ek voel en dink. Met die gevolg dat "At World's End" regtig great was. Die musiek het my meegesleur. Ek het soms "bygekom" na great stukke, want ek was meegevoer na my eie eilande, oorlogtonele, liefdesverklarings en wolkspringery. Sommige stukke van die tonele het by my verbygegaan, want die musiek was te goed vir die acting.
Dankie, Hans, vir kunstenaars soos jy. Julle maak nie net die silwerdoek lewend nie, maar ook ons verbeeldings. Ek hoop ek kan so inskakel op emosies soos jy. You took me to world's end.

Thursday, May 31, 2007

Apocalypto


Ek sit van vanoggend af met 'n kopseer. Dis Apocalypto se skuld, want ek het dit uiteindelik gekyk. Nogal walglik.

“Fear is a disease. Strike it from your heart.” Makliker gesê as gedaan. Ek was vir 'n paar oomblikke bang die fliek kry nie klaar nie. Ná hierdie ontblote harsings, drillende harte en oopgekerfde kele is die volgende fliek seker Hanniball Rising. (Vergeet daarvan…) Die arme tapir se wrede slagting in die begin van die fliek is klaar erg genoeg.

Die openingstoneel en die slottoneel vorm 'n toebroodjie (alhoewel nie vegetaries nie): 'n mooi stukkie bos. Dit begin met plante en eindig met plante. Maar die vulsel tussenin is vol mense en dus ook vol bloed.

Die tema van vrees het my aan die wonder gesit. Die mense in die fliek het vrees vir dood, geweld, verlies, vernedering, afskeid, misgeboorte, you name it, dit is daar. Maar op die ou einde word meeste van die geweld in die fliek gedryf deur vrees vir God.

Wanneer is mense bang vir God?

Ons is bang vir Hom wanneer ons dink Hy is kwaad.

Is God kwaad?

Hoe kwater God is, hoe meer geweld pleeg ons in die naam van godsdiens.

Snaaks dat die fliek se naam Apocalypto is. Ek verstaan die Mayan samelewing het 'n obsessie gehad met tyd. Beginne en eindes. 'n Apocalypse verwys soms na 'n eindtyd, of 'n finale fight voor alles klaar is. “We seek a new beginning,” verklaar Fish Hunter aan Jaguar Paw.

Ek soek dit ook.

Ek besef die kruis staan eintlik ook teenoor die Christendom self. Ek wonder of Gibson gereken het die koms van die kolonialiste was die “new beginning”. Ek is versigtig om dit te sê. Tog het die kruis saam met die skepe gearriveer. Ek sou wou hê dat die kruis beteken: Geen offers meer nie. Daarom geen onreg, geen uitbuitery, geen ekonomiese verdrukking, geen geforseerde skeiding, geen bang kinders, geen verkragting, geen vernedering, geen geweld, geen vrees -

ook nie vir God nie.

Moontlike teks: 1 Joh. 4:18-19

Ek het steeds kopseer.

Sunday, May 27, 2007

The Fountain


Elders in die kuberwêreld word daar gesels oor “self” en die verhouding daarvan tot “my liggaam”. Ek wonder oor my geheue-blokkies – want my verlede en wat ek gedoen het en wat met my gebeur het, is óók mos ek.

Ons dink soms aan die ewige lewe as 'n lang lyn. Dit hou net aan en aan en aan. Sommige teoloë sê dat ons dalk aan die ewigheid moet dink as 'n sirkel wat allesomvattend is. Ons stukkie lewe hier en nou is dan 'n strepie binne-in daardie sirkel.

In the Fountain kry ons 'n lekker mix-up van Judeo-Christian, Buddhisties en Hindu images en idees. Dis visueel vreeslik lekker om die beelde te aanskou wat op interessante maniere inmekaar vloei.

Die hoofkarakter soek die fontein van die lewe of die boom van die lewe om sy sterwende vrou te red van kanker. Die tema van lewe uit die dood figureer sterk. Hier is 'n resensie wat my sentimente oor die fliek deel.

Wat mý laat wonder het, was die eienaardige vloei van die fliek.

Jy weet nie lekker wanneer is jy waar nie, want die hoofkarakter leef in drie tye.

Ek kom agter dat die tydvloei in die fliek vir my voel soos 'n rondomtalie. Dis nie noodwendig 'n fliek met 'n begin of 'n einde nie. Soos met 'n Big Wheel kan jy eintlik enige plek inklim. En dit “match” lekker met die idee van die fliek.

Kyk net hoeveel sirkels is daar in die fliek. Selfs 'n kruis word 'n sirkel.

En omdat ons dus nie “op pad” is om uiteindelik iewers heen te gaan nie, is die hier en die nou baie belangrik. Gebruik jou kans. Nou.

Ek weet nie regtig wat ek nou hier gesê het nie, maar ek dink 'n moontlike teks wat saam sou kon gesels, is Prediker 3:11-15.

Thursday, May 17, 2007

Spiderman 3


(Vandag staan ons stil by 'n 3-minute moment van Spiderman 3, wat volgens my, 'n deurlopende tema uitbeeld.)

Ons sien die kerktoring van 'n kerkgebou in Manhattan. Die kruis op die toring vertoon duidelik. Die volgende moment is ons net onder die dak van die toring, en ons sien ons spinnekopheldjie verbete veg met homself / buiteruimtelike plasma.

En ek weet instinktief: Dis my geveg daai. En dit vind plaas direk onder daardie kruis wat ons gesien het, al sien ons dit nie nou nie.

In dieselfde kerkgebou sit die pseudo-fotograaf en bid dat Spiderman bietjie Doom kry. Spiderman moet sterf, vra hy.

En saam met hom, sien ons hoe dit gebeur. Onder die geklank van die kerkklok, kom die swart plasma van Spiderman af. Die plasma het gevoed op Spiderman se wraaklus. Onder die geklank van dieselfde kerkklok, onder dieselfde kruis, val die swart plasma bo-op die pseudo-fotograaf. Dit word sy dood wat hy kies, en Spiderman se redding.

Net hierna is Spiderman in die stort. Die water stroom van hom af. Dit is 'n dooptoneel, as jy my vra. Onder die kruis is sy klewerige haat afgegooi, het redding gekom onder die geklank van die klok. Die doop is immers “die afsterwe van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens”.

Dan hoor jy sy tannie klop aan die deur. Die deur sukkel nog heelmiddag (hang af hoe laat jy fliek). Hy gryp die deurknop, en dit kom af. “Ha!” dink ek, “nice scene, hy het iemand van buite nodig om die deur oop te kry”. Maar hy probeer weer, harder, en kry dit reg. En van hier af sien jy nie weer dat die deur sukkel nie. Dit was die draaipunt van die karakter. Redding het vir hom gekom. Hy het dit gekies, al was dit moeilik.

“You always have a choice!” hoor ons aan die einde van die fliek.

Onder dieselfde kruis, onder dieselfde klok, was dieselfde swart plasma, en twee mense. Die een het lewe en vergifnis gekies, die ander wraak en die dood. Vir die een was die klank van die klok, die klank van lewe, vir die ander was dit die klank van die dood.

Moontlike teks: 2 Kor. 2:14-16

(Terloops: Ek kan alles glo wat ek in die fliek sien: Sandman, Green Goblin, Spiderman, Alienagtige plasma. Maar daar is een flippen ding wat my in al drie flieks uit die verbeel uit irriteer: Hoekom de dinges kry Spiderman dit reg om vinniger te val as alle ander objekte en mense? Dit maak dat Spiderman heeltemal ten gronde gaan…)

Saturday, May 05, 2007

Amalie & Life is Beautiful



Dat die Franse 'n mens nou so kan besig hou!

Oor elkeen van hierdie twee movies kan mens 1000 posts doen.

Maar ek is nou confused, en ek soek julle hulp. Hopelik weet ek beter na die post. Kom ons begin by Amalie. Nee, nee, Life is Beautiful.

Life is Beautiful is mos al 'n ouerige fliek. Ek het dit een keer gesien, jare gelede, en besluit dis een van daardie wonderlike movies wat mens glad nie weer wil sien nie. Ek het ook nie.

Ek wens ek kon mense na die wêreld laat kyk soos dáái pa sy seuntjie laat kyk het. Om in die haglikste omstandighede 'n ander werklikheid te sien, ene wat jou inspireer en opgewonde maak. Ene waar 'n Nazi-soldaat verander in 'n speelmaat wat goed kan act en die wenner van die game 'n groot army-tank wen.

Ek leer by Life is Beautiful: Jy het die keuse hoe jy kyk na die realiteit. Eintlik nog meer as dit: Jy kies die werklikheid. Hulle kan alles van jou wegneem, maar nie wie jy is en hoe jy glo nie.

Nou Amalie.

Wat 'n orgasme van kleur en pret is dié fliek nie?! Die meisie Amalie se verbeelding is 'n skatkis. Dit voel soos 'n pretrit om deur haar oë te sien. Byvoorbeeld by die besigste treinstasie verloor sy sig van haar liefde, en eensklaps is daar niemand. Jy weet dit is onmoontlik, maar dis Amalie se wêreld.

Maar jy ontdek ook in die fliek dat Amalie se droomwêreld, en hoe sy kies om na die wêreld te kyk, haar funksionering in die realiteit striem. Sy bly haar groot liefde mis, want sy is te bang om die realiteit “soos dit is” aan te vat. (Die geweldige gedetailleerde inligting wat aan die kyker gegee word, het niks direk met die storie te make nie. Dit bevestig: Daar is klomp goed om jou. Sommiges maak saak, sommige nie. Jy kies wat is van pas in jou storie.)

En iewers maak Amalie se karakter 'n sprong. Sy gebruik nie haar “kyk” om realiteit te ontvlug nie. Sy span dit in om dit te embrace en te benut. Maar die implikasie was dat sy deel van haar droomwêreld anders moes inspan.

Kom ons praat dan nou van altwee flieks.

(Klomp van ons het op ons blogs die afgelope tyd 5 lukrake feite uitgeblogger. Die volgende paragraaf is nie lukraak nie.)

Ek sukkel regtig met die balans tussen hierdie twee. Daagliks.

Die essensie van die sukkel, is dit:

(1) Life is Beautiful: Kies wat jy sien. Jou verbeelding en kreatiwiteit skep die werklikheid.
(2) Amalie: Verbeelding is great. Maar jy kan in 'n tronk beland van jou eie droomwêreld, en so die ware Jakob bly mis.

En dis hoekom ek so lank gevat het met die post hierdie keer. Want ek wou oor Amalie blog, maar iets het my bly pla, en ek kon nie besluit wat nie.

Is daar dalk 'n beweging tussen realiteit en verbeelding? Kan ons dalk te lank draal in een van die twee? Kan ons enigsins realiteit verstaan sonder verbeelding? As ek nie die realiteit raaksien nie, beteken my verbeelding iets?

Ek kies nooit vir waarneembare realiteit alleenlik nie.

(Miskien het ons Kobus Neethling hier nodig.)

Moontlike tekste: Hebreërs 11:1 en 12:2-3.

Tuesday, April 24, 2007

Truman Show

Nouja, na aanleiding van Johan Swarts en Anja en almal wat nou hulle 5 onbekende dinge aan almal verkondig, laat ek dan ook probeer.

1. My regtermiddelvinger is bietjie korter as my linkermiddelvinger. Ek was 5 jaar oud toe die wind ons voordeur op hom toegeklap het. Ek gooi dus zap-signs net met my linkerhand, anders snap hulle dalk nie.
2. As ek in 'n vervelige vergadering sit, doen ek in my verbeelding picasso-tekeninge van die mense om my. As dit nog meer vervelig raak, doen ek dit in suiwer swart en wit.
3. My laerskooljare was in Vryheid, 16km vanaf Bloedrivier. Ek het gebly in Afrikanerstraat en my skool was Nieuwe Republiek Laerskool. Ek moes met Deputasie-straat op my fiets skool toe ry. You can’t imagine…
4. Ek vind dit onmoontlik om trappe te klim sonder om hulle te tel. (Maar ek is nie bang vir vuil hande of krake in die sypaadjie nie, relax.)
5. Wanneer my neus toegaan van sinus of verkoue of so iets, begin dit eers by die linkerneusgat. Hehe.
6. Ek steur my nie altyd aan die reëls nie.

Tuesday, April 17, 2007

Runaway Bride


'n Ruk gelede hou ek troue langs die rivier. (Nie my eie nie.) Alles is pragtig, behalwe die erge sweet op die arme bruidegom se voorkop. Die bruid gloei.

Die egpaar is gespanne… verbeel ek my, of is die bruidegom onseker van sy balans?

Ek maak maar 'n grappietjie of twee. Almal lag ingenome. Almal behalwe die –gom. Hy het iets op die hart, maar wat?

Gelukkig begin my boodskap. Ek raak in vervoering oor my eie woorde. Af en toe byt ek net vas tussen paragrawe, want ek kan sweer die bruidegom wil iets sê. Ek hoop dat, ás hy val, iemand hom kan vang. Alles is nie pluis nie.

Ek gaan voort.

Die bruidegom se frons verdiep. Hy kyk kort-kort na die bruid. “Het hulle dalk baklei net voor die seremonie?” wonder ek.

Dan sien ek hier kom dit. Stadig gaan sy mond oop. Ek staal myself vir 'n Dr Phil-sessie met die feitlik-getroude egpaar, ten aanskoue van al die gaste.

Die bruid kyk na hom, hy na haar. Dan kyk hy vir my en kry die sin uit:

“Fokkit, Dominee, maar sy’s MOOI!”

Ek glimlag mooi en stem liewerste heelhartig saam, alhoewel dit nie vir my lyk of sy dit heeltemal SO wou hoor nie.

Maar sy het voorwaar nie gehardloop nie.

Ghost Rider


(Ek doen hierdie post teen my beterwete in. Dis nou nie juis 'n fliek wat lank by jou spook nie.)

Dit lyk nogal lekker om nie 'n bang haar op jou kop te hê nie. Jy klim op jou vuurperd en doen wat jy wil. As die mense jou kwaad maak, whoalah, spontaneous human combustion.

Maar Johny Blaze het in sy vuurspuwende vorm 'n besondere gawe. As jy in sy oë (ekskuus?) kyk, sien en voel jy die leed wat jy ander aan gedoen het. Jy word daarmee gekonfronteer.

Ek wens ek het daardie gawe gehad. Daar’s nogal 'n paar mense wat ek dan sonder my donkerbril onder vier oë sou wou spreek.

Dit kan mos nie 'n gawe van die duiwel (of dan nou Mefistofeles of wie ook al) wees nie? Dis mos goed om iemand te wys wat h/sy aangevang het?

Klink my eerder na 'n gawe van die Gees.

En toe verstaan ek.

Ghost Rider se blik laat jou as(!)vaal van skuldgevoel en pyn oor wat jy gedoen het. Dis 'n waarheidskonfrontasie wat aankla.

Vir myself kies ek 'n kyk wat waarheid raaksien, maar vrymaak.

Die Gees se kyk wys die seermaak, konfronteer óók met die pyn wat jy gebring het. Maar dit maak los.

Ek sou eerder so wou kyk. Maar ek sukkel.

Moontlike teks:

1 Joh. 4:17-18

Wednesday, April 11, 2007

Mr Bean's Vacation


Mr Bean bly Mr Bean. Of jy kan hom nie verdra nie, of jy geniet hom vreeslik. Ek val in die tweede kategorie. (Behalwe wanneer hulle Amerikaanse humor met hom probeer, soos in die eerste movie. Dit maak net soveel sin soos 'n viooltjie-uitstalling in die kalahari).

Meeste mense dink die akteur Rowan Atkinson is stupid. Maar hy is nie.

Die fliek begin met 'n rainy day in Londen, in die kerk by 'n basaar. Hoe vaal kan jy nou kry! En dit eindig by die sonnige strand in die Suide van Frankryk, by Cannes. Praat van kleurryk!

En ek klou verbete vas aan daardie tipe hoop.

Dat al bevind ek my in grou omstandighede, die son weer môre sal skyn.

Ek wonder of julle ook sulke nagmerries kry soos ek soms:

Jy droom jy het 'n eenvoudige taak om te doen. (Soos Bean, bv, wat op 'n trein moet kom en by Cannes afklim.) Maar sodra jy begin, glip 'n foutjie in. Jy probeer gou-gou die foutjie fix. Maar in die proses ontstaan daar NOG foutjies. Min of meer teen die einde van die droom, net so voor die gefrustreerde wakkerskrik, is die magdom foute so horribaal, dat die oorspronklike “benign” takie heeltemal verdwyn het agter die berg van krisisse. Soos Bean in sy vacation.

En tog: Die vreeslike flops word deur Bean op sy kamera vasgelê. Dit word, myns insiens, meesterlik vervleg by die eindtonele om totaal nuwe betekenis te gee aan Bean se storie. Die konteks waarbinne dit dan vertoon word, is só radikaal anders, dat ek as kyker besef het: my eie flops en grou dae word soms onverstaanbaar iets anders.

Dis soos om te dink jy het 'n lucky number 919, maar die wennommer is 616. Dit sien ons mos in die openingstoneel? Dit was slegs 'n kwessie van perspektief. En dit gebeur nogal in die kerk!

Moontlike teks:

In Bean word tekste herinterpreteer tot iets nuut: 919 word 616. Die home video word deel van 'n nuwe fliek (in die fliek!). Bean se chaos word 'n magiese sonnige einde.

In Joh. 2:19 word die betekenis van die grou en dooie tempel herinterpreteer met die paasgebeure.

Dit was vir my eintlik 'n great Paasfliek. Maar ek sal dít liewer maar net hierso sê.

Addendum:

Goeie Vrydag 2007

Ek wil Jou nie meer
probeer
beter dien nie
beter liefhê
beter uitreik
beter omgee

Dis vir my beter
om vandag net
by jou kruis te sit
en sug,
Verlig.

Wednesday, April 04, 2007

Happy Feet




Ek het nie baie digbundels nie. Maar ek het een van Mattie Stepanek s'n: “Hope through Heartsongs”.

In Happy Feet gee die klein held van die fliek die eerste treetjie na “anders-wees”. Dis hierdie andersheid wat later sy heartsong word. Dis ook die andersheid wat die community tussen hom en die ander verbreek. Dis dieselfde andersheid wat dit later weer red.

Die fliek laat my wonder oor die aardigheid van communities. Die feit dat dit vloeibaar is en kan verander. Maar ook dat dit soos kwaai seestrome kan wees wat jou in een rigting wil druk. Kyk net: ons heldjie word weggejaag oor hy 'n gawe vir dans het, maar nie kan sing nie. In 'n ander community is dit met afguns bejeën. En later ontvang sy eie community hom weer met ope arms terug, juis oor hierdie ekstreme heartsong van hom.

Happy Feet help my om elke dag te kies:
· Om myself te wees
· Met passie en entoesiasme
· Ten spyte van teenkanting soms
· Want dis wie ek is
· En as die teenkanting verander, is dit 'n bonus.

Geagte broer en suster, ek wil graag vandag afsluit met 'n gediggie van Mattie Stepanek

Facing the Future

Every journey begins
With but a small step.
And every day is a chance
For a new stew, small step
In the right direction.
Just follow your Heartsong.

Moontlike teks: Ps. 118:22-23
(Ns.: Ek gaan vir week weg. Te danke aan VW se duur onderdele gaan ek nie, soos beplan, nou toegang tot 3G besit nie.)

Wednesday, March 28, 2007

Nico, the Cop

Ek is seker iemand uiter iewers in een of ander fliek vir die polisie:
"Just get out of my hair!"
(Ek torring gewoonlik nie aan hierdie tipe foto's nie.)

Monday, March 26, 2007

Superman Returns







March of the Penguins

Dis nie aldag dat mens regtig vasgenael sit om na 'n Franse dokumentêre film met Engelse onderskrifte te kyk nie. Dit voel deurgaans na 'n lang, misterieuse erediens. En dit begin met asemrowende skote van blou ys-katedrale. Die musiek laat jou tegelyk hartseer en vrolik voel.

Ek het net besef: Daar is soveel wêrelde waarvan mens eintlik net niks weet nie. Dit voel asof die pikkewyne aan een of ander geloof behoort. Wat my geraak het:

· Klomp individuele pikkewyne en groepies vorm skielik op 'n dag spontaan een groot liggaam. Dis die begin van 'n uitgerekte oorlewingsritueel.
· Onsigbare magnetiese velde is vir hulle tasbaar. Met geheue en saam-wees en onsigbare “kaarte” onthou hulle die pad. Die pad lyk elke jaar anders.
· Daar is 'n konstante geveg teen die “white”. Dit word saam gedoen.
· Die pikkewynma’s loop altesaam 40 dae om betyds terug te wees met kos wanneer die kleintjies uitbroei. Hoe belangrik is 'n belofte nie? “I’ll be back.” (Schwarzenegger en Jesus)
· Aurora Borealis is 'n herinnering in die donker winter dat die son wel nog daar is en dat lente weldra kom.

Maar wat my die meeste getref het, is die hele pikkewyn-community wat net een doel het: Die suksesvolle versorging van kleintjies. Afwesigheid van selfsug. Kos wat vir drie maande in honger lywe gebêre word vir wanneer die kleintjie dit gaan nodig hê.

(Ja, ek weet dis alles instink. Nogtans.)

“It takes a village to raise a child.”

Maar die huise in my village het mure om. Party is van steen. Ander van selfsug of ignorance.

Iemand het gesê: 'n Gemeenskap word gemeet volgens die hantering van hulle broses.

Moontlike tekste: Matteus 23:37
Of Jesaja 60:1-5

Thursday, March 22, 2007

Epic Movie


Eintlik word hierdie post steeds beïnvloed deur Lady in the Water, wat verlede week gedoen is.

Epic Movie is omtrent nou vir jou 'n gespot met 'n klomp ander flieks. Hulle spot nie fyn nie.

En tog is daar klomp goed wat ek nie gevang het nie. Gelukkig was daar iemand saam met my wat ook 'n klomp goed gemis het, en ons kon mekaar help.

Dan sit ek met 'n “hu?”-uitdrukking, en Johan verduidelik: Dis 'n MTV-show, en hulle lyk presies net so. Dan lag ek vir hulle. Dan raak Johan doodstil, totdat hy later gefrustreerd vra: “Wie’s DIT!!!?” Dan verduidelik ek vir hom: “Het jy dan nie Da Vinci Code gesien nie?” Dan lag hý vir hulle. Ek word weer verduidelik van een of ander Punk-show en dan verduidelik ek hom weer van Chronicles of Narnia. So het ons saam-saam toe die hele fliek verstaan gekry, tot frustrasie van ons mede-fliekers.

Ek is mal oor “allusion”. Johan Swarts, as jy hier lees is jy welkom om 'n Afrikaanse term vir my te gooi. Allusion is meer as verwysing. Dis amper so 'n speelse, terloopse “in herinnering roep” van iets anders wat aan jou bekend is. (Weliswaar nie heeltemal Epic Movie se styl nie.)

Bv. in Eksodus 2 word die Moses-in-die-Nyl-storie só in Hebreeus vertel, dat elkeen wat bekend is met die Noag-en-die-ark-storie, die ark in herinnering sou roep wanneer hulle hoor van Moses se mandjie in die water. Of met die Matteusweergawe van Jesus se lewe word daar ook baie allusions gedoen na Moses: Gaan Egipte toe a.g.v. Josef, kom terug uit Egipte om 'n volk te kom red, kindermoord, ens. Maar as jy die eerste storie nie ken nie, mis jy dit.

Met welbekende stories kan jy baie lekker speel met allusions, verwysings en metafore. Dis soos 'n kind wat ek verlede week gehoor het met 'n toespraak: hy het die Drie Varkies se storielyn gebruik om sy punt te maak.

Hoe gemaak wanneer ek nie die stories ken nie?

Wat ek en Johan gedoen het in Epic Movie, was dialoog.

(Maar hulle het darem regtig die Narnia tema gou-gou opgebruik en dit ongelukkig nie agtergekom nie.)

Moontlike teks: In Handelinge 17:16-34 gesels die neurotiese Paulus (aldus Carien) met die plaaslike Grieke, terwyl hy vol allusions en verwysings is na hulle eie wêreld. Hy haal hulle digters en stories en filosofie aan. Dit beteken hy het “engage” met hulle. Dis hoe dialoog werk.

Ons Wonderlike Wêreld

Ek lees vanoggend die volgende sin op Die Burger se webblad: "Vind uit hoekom kinders móét stoei en watter ander soogdiere hulle probleme met seks oplos deur na die weeklikse Eureka-podcast te luister"

Ek het eerlik nie besef ons wonderlike wêreld se soogdiere luister al na podcasts nie.

Sal bietjie later post kom doen oor Epic Movie.

Saturday, March 17, 2007

Forrest Gump


Wat ek vandag met my eerste halfmarathon geleer het:
1. By watertafels kry jy sulke sakkies water. Moenie doelbewus of per ongeluk op hulle trap nie. Dis aaklig om net nat skurende lieste te probeer hol.
2. Moenie met ander mense se lisensienommers spot nie. (Bv. argumentshalwe, as dit nr 666 is.) Ek het toe maar my mond gehou toe atleet nr. 69 verby my kom.