Monday, February 26, 2007

Scream

Ek kan al SKRREEEE as ek 'n epos kry met die titel: "Dringende oproep aan alle Christene".

As ek my aan elkeen van hierdie dringende oproepe gesteur het, sou ek niks anders doen nie as om:

Te bid vir onbekende ontvoerde blanke kinders agterin twincam bakkies;
Gebed 6 keer per dag op spesifieke tye wanneer God beskikbaar is;
24 uur gebedskettings (is dit nou nie snaaks nie? Dieselfde ouens wat boeke skryf oor "bevryding", dink nuwe kettings uit);
Petisies te rig aan Bush en/of Clinton en/of Mugabe en/of Mbeki en/of...;
Dreigbriewe te onderteken aan Hollywood;
Bewerig eposse te forward wat reken dat as ek dit nie doen nie, ek eintlik nie regtig vir God lief is nie;
Angsbevange my eposse in te wag;
Ad infinito

Movie more.

Friday, February 23, 2007

Gospel According to the World's Greatest Superhero


Ek is in my skik. Hierdie boek kry ek vir my verjaarsdag.
Ek is kwaad. Dit is nog nie hier nie.

Tuesday, February 20, 2007

Ice Age 2





Manfred staan heel bo, op die yskrans. Onder wei die diere en die kiddies speel in die waterpark. Idillies. Maar hy sien hier bo die aaklige waarheid: naderende krisis. Die massa ys is aan’t smelt, en almal is in die opvanggebied (understatement, wink wink, nudge).

Hoe gemaak om 'n groep skeptici te lei wat jou nie wil glo nie? Jy sê dan nou iets anders as wat hulle nog altyd glo?

Wat maak van 'n groep mense 'n “community”? Kan 'n leier een wees sonder om deel van die community te wees? In Xhosa sê ons: “Umntu ngumntu ngabantu” ('n mens is 'n mens deur ander mense).

Dit bring ons by die uitdaging van leierskap. Die leier staan uit as individu “bo” die ander… en tog vermoed ek ons wil hê die leier moet ook deel wees van die gemeenskap. Is dit nie in elk geval een van Ericksson se ontwikkelingstadia vir jongmense nie? Identiteit vs rolverwarring beteken dat ek weet wie ek is as individu, maar dat ek dit tog net verstaan deur myself in 'n verhouding met ander te sien.

Manfred probeer die meisiemammoetjie oortuig sy is een. Hy kan nie. Sy moet dit self ontdek.

My leiersrol beteken dat ek ander nie kan oortuig nie, maar dat hulle wel tot by 'n plek gebring moet word waar hulle dit self gaan ontdek. Soos die meisiemammoet by die wilgerboom.

En is haar en Manny se ontdekking nie wonderlik wanneer die geysde see voor hulle oopgaan en 'n hele kudde mammoete te voorskyn kom nie?

Leierskap gaan oor 'n balans wat gehandhaaf moet word tussen individu-wees en deel-wees-van-community. Anders is jy op dun ys…

Moontlike teks: Arme Moses. Individu wat sukkel om ander te oortuig dat die trek beter is en nodig is. Maar met die oopkloof van die see ontdek hulle ook community en wie hulle is. Dus Eks. 14:15-31.

(Ek sien nie regtig kans vir die allusion na Noag en die ark nie…sal eerder verder wil giggel oor die similariteit tussen die eekhoring se Goue Akker en Virgin Mobile se advertensie. Verder: Weet enigiemand wat gaan aan met sommige platterige landse SterKinekors? Nee, hemel, ek is seker ek kan Apocalypto al op DVD koop. Hersiene uitgawe met ekstra materiaal.)

Sacha Cohen



Kan julle glo dis die akteur (sic) van Borat?

Friday, February 16, 2007

Self-openbaring


Ek weet hierdie is nie 'n movie nie.

Monday, February 12, 2007

My roomys het gekom, wie gee tog om?


Baie dankie, Maeree

Night at the Museum


Hollywood vrek oor profesieë. Selfs Night at the Museum maak daarop aanspraak. Ek maak met gespanne verwagting elke Vrydag my koerant oop om te sien wanneer wys Apocalypto hier, maar tevergeefs. Ek kan al Epic Movie gaan kyk, maar nog nie Apocalypto nie. (Ek is SEKER profesie kom daarin ook voor.)

In elk geval: Die skurk in die verhaal maak 'n profetiese uitspraak: “I think he’s the one…”, waarmee hy waarskynlik dan bedoel: Hierdie is die naïewe idioot (verskoon die toutologie) wat ons gaan kan uitoorlê om die museum te besteel.

En ek wonder: Presies “The One for What?” Want Matrix en Highlander het my al “The One”-voos gemaak.

Night at the Museum laat my wonder hoe sou die wêreld lyk as dooie dinge kon lewe kry. EK praat nie van die dinosaurus-beendere of die mummie nie, maar eintlik van die hoofkarakter en mense soos hy. Verbeel jou 'n wêreld waar elke mens, wat eintlik maar dood is in h/sy eie hokkie, kan uitkom en besef: There is more! (Ekskuus, ek weet ek klink nou soos Verimark of Glomail.)

Want natuurlik is dit absurd om te dink dat 'n Romeinse generaal iets van 'n cowboy se wêreld sal verstaan, of dat Attila the Hun 'n psigo-analitiese sessie in Engels sou kon waardeer. En tog was dit lekker om verskeie wêrelde te sien lewe kry en gesels met mekaar. Daar was iets meer vir elkeen as sy/haar eie wêreldjie. As pa sou ek ook graag my kind dit wou laat raaksien.

Die profesie word waar, maar anders as wat ek of die skelm verwag het. (Terloops, so gebeur dit met die meeste profesieë in die Bybel ook, dink ek.) Deur sy toedoen, word nuwe lewe in die museum geblaas, en hy word die een wat die museum red deur die verskeie wêrelde bymekaar te bring.

Ek is geïnspireer om weer te droom.

Moontlike teks: Wat van 'n lekker profesie? Sjoe, sou ek nou wou gesels oor “Them Dry Bones” van Esegiël 37:1-14, wat lekker lewe kry.

Tuesday, February 06, 2007

Borat


Ek het sowaar Borat gaan kyk. En moet erken: het lanklaas so gelag. Ek het egter ook lank laas soveel keer my asem ingetrek.

Jy lag vir almal: Die Jode, die Amerikaners, die Christene, noem maar op. Dit was baie erg om te sien hoe die man misbruik maak van nice mense se gasvryheid. Nogtans lag jy.

Die swernoot bôl jou self natuurlik ook. Jy lag so lekker vir almal, maar iewers in die fliek “feature” 'n groepie of 'n individu met wie jy jouself dalk sou kon assosieer. (Nee, nie die mense met die rubberarm nie.) En wanneer dit gebeur, voel jy die ongemak in jou rug kriewel.

Die fliek is bar. En tog dink ek dit is ook sosiale kommentaar.

Dink net: Is dit vir enigiemand snaaks om verby 'n winkelvenster te loop met 'n kaal winkelpop daarin? Of dan met slegs onderklere aan? Nie vir my nie. Maar in die fliek staan Borat oop en bloot en bevredigd na die poppe en staar. “Die vark!” dink jy. “Sommer so oop en bloot!” En dan besef jy: Eintlik is almal maar met hulle broek op hulle knieë betrap. Kan dit as normale gedrag beskou word om kaal poppe in winkelvensters uit te stal vir almal om te aanskou? Ons dínk so, want niemand frons nie.

En jy lag lekker vir die prostituut waarmee hy spot. Totdat jy iets van haar menslikheid sien, en weer sit die flippen ongemak in jou ruggraat. Ek verstom my aan mense se vooroordele, en oomblikke daarna word ék uitgevang.

Dis baie snaaks om te sien hoe etiketkenners (klink soos 'n woord uit Huisgenoot – daar is dit mos altyd: “kenners beweer…”) beterweterig is oor ander se doen en late. En om jouself uit te vang dat jy dink: Ék sou darem nie só stupid gewees het nie.

En so word ek toe deel van die mense met wie daar gespot word. Mens voel bietjie kaal as jy daar uitstap.

Moontlike teks: Kyk net hoe onbeskof is twee dissipels in Mat. 20:20-28. En eintlik is dit nie net hulle tweetjies nie. Veral vers 25 sien ons in Borat. Want ons weet die mense van Kazakstan is nie REGTIG soos uitgebeeld nie. En tog is hulle “not quite as cultivated”, dink ons.

(Maeree, kom ons sê as ek drie of meer kommentare hierop kry, jou eie uitgesluit, skuld jy my daardie roomys…)

Ultraviolet



Ek herstel nog na die "symbol-overload" van hierdie fliek. Wat is dit met vampire-movies en kruise? Nie dat hierdie ene regtig 'n vampier-fliek is nie.

Verder weet ek hierdie is nie veronderstel om resensies te wees nie, maar goeiste, die fliek laat jou voel jy is besig om te kyk hoe jou 9-jarige nefie besig is om 'n Playstation game te speel. End-uit.

In elk geval: Die mensdom het in hierdie fliek 'n kwaal tussen hulle: 'n virus. Dit maak dood. Kontak met liggaamsvloeistof soos bloed of trane is genoeg vir oordrag. En dit maak van jou 'n "hemophiliac" (bloedliefhebber).

Maar daar is 'n wapen teen die kwaal. Nog voordat hulle die wapen wys, weet jy reeds dit is 'n kind.

Tot vervelens toe word jy gebombardeer met godsdienstige simbole: Kruise, die twee slange wat genees (a la Medicross), driehoeke (wat soms gebruik word om die Drie-Eenheid te simboliseer), sowel as die drie sirkels wat in driehoekvorm oorvleuel. Die kruise is te sien in die vorm van die geboue, vensters, deuropeninge en selfs die reuse gebou waar die grand finale plaasvind, is 'n yslike kruis. Meesterlik word die 3-sirkel simbool (ook 'n bekende in Christendom) in die begraafplaas vervleg met die 2-slange-simbool.

Wat gebeur?

Vir die dood in die mense se bloed is daar 'n oplossing: 'n kind, wat soos Moses van ouds weggesteek moet word vir diegene wat hom wil doodmaak. Hy het selfs 'n hipermoderne mandjie.

Soos die Moses van die Nuwe Testament, sterf hy eintlik ook. Maar redding kom vir almal deur iets wat gebeur: Violet kyk na hom, en een van haar trane val in sy gesig. Hy het tot nog toe nie die virus in sy bloed nie, maar deurdat hy die virus op hom neem, gebeur daar iets. Hy word die genesing, net omdat Violet na hom gekyk het. Hy kry die virus in, word dus ook eintlik deel van die probleem, en op 'n vreemde manier kom die redding dan deur hom. Net so weird soos om na 'n koperweergawe van 'n giftige slang te kyk nadat jy gepik is, en dan gesond te word.

Moontlike tekste: Numeri 21:4-9 en Joh. 3:14.

Tuesday, January 30, 2007

Charlotte's web: Poging 1

Dit het nogal snaaks gevoel: Almal sit in verwondering in die teater oor die oulike varkie wat deur die meisie aangeneem word. Die volgende oomblik wys hulle lekker spek wat gebraai word, en ek is die enigste een wat kliphard uitbars van die lag. (Btw, gisteraand tydens ons ernstige nuwe kerkraad se vergadering hoor ek iets in die kombuis. Ek verskoon myself en gaan kyk. Dis toe die teetannie wat probeer om met 'n lang stok die venster hoog teen die dak toe te maak. Ek kon myself nie keer nie. Ek het haar gestorm en skrikgemaak. In alle eerlikheid, ek het nie gedink sy gaan SO skreeu nie. Hoe verduidelik 'n mens DIT aan die kerkraad sonder dat dit absurd klink? En: ons het ook besluit dat nie-lidmate wat begrawe word, 'n donasie van R200 sal gee vir die verversings. Ek het gesê dis reg so, maar EK gaan hulle nie vra nie, wat doen ek as hulle antwoord..?)

Nouja, Maeree se gunsteling klanksteelstorie:

Ná een van my preke, besluit ek om tog vir 'n slag die Tien Gebooie te lees. 'n Ernstige moment, want dit gebeur nie so baie nie. Terwyl ek dit lees, gewaar ek iemand wat by die voorste trappe (vinnig) opgehol kom, en by die voorportaal in verdwyn. Gedagtig aan die pogings tot diefstal wat ons by die basaar gehad het, vang my oog langer sinsnedes per keer, sodat ek langer kan opkyk terwyl ek die woorde sê. En sowaar, die man het ons klankkamer ontdek, en verdwyn buitentoe met 'n spoed, sy hande vol drade en Shure-mikrofone. “Nie in MY kerk nie,” besluit ek. Maar wat nou? Ek stop.

“Eh…uhm…ek weet ek is nou nog nie by ‘jy mag nie steel nie’, maar iemand het sopas van ons klanktoerusting gevat en geloop.” Verstom word ek aangekyk. Ek gewaar twee prominente manlike diakens. Ek vra hulle om gou te gaan kyk. Bo-op die galery verrys die hoofspeurder van die dorp, en met verbasende spoed, dog statig, bereik hy die voorportaal en buitedeur.

Ek begelei die gemeente rustig deur die res van die diens en slotgesang.

Ná die afsluiting in die konsistorie, kry ek die speurder. “Het julle die man toe gekry?” vra ek, baie trots dat ek ons toerusting so kon beskerm.

“Ja,” sê hy. “Maar dit was Johan.”

Johan is die kategeet wat verantwoordelik is vir die klank in die saal sodat die kinders kan sing. Die speurder en diakens het hom omtrent beetgekry, maar gelukkig gou agtergekom wat aangaan.

Ek het nog nie weer die Tien Gebooie gelees nie.

Ag nee, ek sal later weer probeer om oor Charlotte 'n draadjie te spin vir die worldwide web. Dis nou eers genoeg.

Friday, January 26, 2007

The Departed


Scorsese kry dit reg om 'n veelsydige paradoks met gemak verder te rek as twee lang-gekoude Chappies:

Die ordentlike, “fancy policeman” (Colin Sullivan) werk éintlik vir die mafiabaas, en die skobbejak (Billy Costigan) wat betrokke is by die mafiabaas en sy inkopies, werk éintlik vir die polisie. En elkeen wil graag uitvind wie die ander een is.

Mens geniet nogal die kat-en-rot speletjie, maar ek kon nie help om te lag teen die einde wanneer die een na die ander op 'n streep letterlik kop verloor nie. Dis darem té erg, al is die fliek se titel “The Departed”.

“At the end of a loaded gun, what’s the difference?” Vir wie werk jy? Die dubbele rol van elke hoofspeler is nogal confusing. By die hoogtepunt van die fliek moet Billy vir 'n medepolisieman 'n paar keer skree: “You know who I am”. Al dui alle bewyse daarop dat hy eintlik vir die mafia werk, maak hy aanspraak op die feit dat sy kollega hom “ken” en gevolglik moet vertrou.

“You know me.” Sterk aanspraak, dan nie? Want, “at the end of a loaded gun”, hoe weet jy?

Die spanning tussen Colin en Billy beleef ek in myself. Veral as ek mense se verwagtings in gedagte hou. Ek ken nie eers altyd myself nie. Jy doen nie noodwendig “goed” as jy aan die “goeie kant” is nie.

Daar is twee tekste wat my n.a.v. hierdie fliek haunt. Eerstens: Psalm 139 en veral vers 23-24.
Tweedens: Romeine 7, waar ek lees dat ek ook 'n “Departed” is, en hierdie stryd voel woel.

Wednesday, January 24, 2007

X-Men III: The Last Stand


Wat is dit met die wêreld vandag dat almal in 'n kategorie van twee teenoorstaande opinies ingedwing moet word? “You MUST take a stand” is nou al 'n sinnetjie wat my doodmoeg laat.

Reeds in Xmen I word Wolverine gedwing om kant te kies. Waar staan jy? Watter kant van watter kader bevind jy jou? Die wêreld duld geen gematighede nie. As jy bloot wil luister wat Laurie Gaum sê, is jou hele integriteit skielik onder verdenking.

In die X-men flieks is daar 'n stryd aan die gang: Mutants teenoor homo sapiens. (Het die woord jou oog gevang?) Daar is mutants aan beide pole van die geveg, asook ongemuteerde mense. Óf jy veg teen mutants, omdat hulle die menseras bedreig, óf jy veg teen ongemuteerdes, omdat hulle mutantphobics is.

Met die gevolg dat die arme adolessente mutants worstelinge het met hul identiteit. Dit bepaal grootliks aan watter kant van die twee kampe jy jou gaan vind. Dis nogal erg om die outjie met die vlerke te sien wat hulle probeer uitskuur, net omdat sy pa niks van mutants wil weet nie. In hoeveel huise gebeur dergelike dinge nie nog steeds nie? En dan die kwessie van die “cure”…

Op skool het ek nogal 'n voorliefde vir die charismats gehad. Ken nog steeds 'n klompie vir wie ek baie lief is.

Maar daar is iets wat my heeltemal koud laat. Dis om my menslikheid te verloor en 'n eks-mens te word ter wille van 'n standpunt.

Soos by gister se byeenkoms. Die vroue-pastoor staan met papiere in haar hand oor aborsie en homoseksueles. “People, we need to make a stand. We can not be unarmed. We need to fight.”

Hier is sprake van 'n fabriek wat in ons dorp oopgemaak gaan word met erge implikasies vir toerisme en werksgeleenthede. Daar is oorgenoeg ongerymdhede om Special Assignment bietjie besig te hou. “What do you say about that?” vra ons haar. Sy dien op die stadsraad.

“You see, we want to complain about stuff like that, while we don’t even do anything about the real issues,” antwoord sy vurig.

En so beland ek nog 'n tree nader aan 'n pool.

Ek moet my skaar aan 'n kant, terwyl ek my eerder wil skaar by mense. En damnit, daarvoor gaan ek seker nog gekruisig word.

Net so wou die Fariseërs Jesus telkens in 'n groepie indwing, 'n pool teen 'n ander, sodat ten minste een groep mense sy dood sou soek. Maar het Hy dan nie telkens gewys daar is 'n ander, groter issue nie? (Kyk mooi: X-men posters krap die kruis dood. Rather take your stand.)

Sien Markus 12:13-17 (dalk met 18-27) en dan vers 28-34.

Hoekom voel ek nou so moeg? Ek soek van daai mooi wit vlerke.

Monday, January 22, 2007

Trois Couleurs Blanc


Van die trilogie, is hierdie nie my favourite nie. Dalk verstaan ek nie die genre nie. Ek het besluit White is maar iets tussen 'n black comedy en 'n drama.

Ek sou wou gesels oor gasvryheid, gelykheid en vreemdelingskap. Die Poolse mannetjie kom nie die mas op in Frankryk nie. Sy vrou skei hom as gevolg daarvan. Hy bly oor met niks.

Maar wanneer die situasie in Pole omgekeerd is, kan hy sy man staan by haar. Hiér is hy “on top of things”. Sý is die oningeligde, die vreemdeling, die verleë ene.

Hoe maklik is dit nie om 'n “ousider” impotent te maak nie.

Maar die mannetjie is nie so slap soos mens verwag nie. Al is hy 'n treurige figuurtjie, staan sy onkeerbare hoop uit soos 'n paal bo water.

Ek sou wou preek uit Rigters 19 (een van die vreeslikste hoofstukke in die Bybel). Dit sal 'n geen 2-18 preek wees, LSNVP (tensy ek dit kan regkry om dubbelsinnige woorde regdeur die preek te gebruik soos hier). Rigters 19 gaan ook oor gasvryheid en seks soos White. Sterkte vir dié wat dalk die teks gaan lees.

(Ns.: Twee vrae n.a.v.die trilogie:
1. Hoekom is selfmoordpoging so 'n sterk tema, wat uitgebeeld word in Blue en White en na verwys word in Red?
2. Ek probeer die tema van die muis met kleintjies in Blue verstaan… veral as ons dink aan Red met die hond en háár kleintjies. Enige voorstelle?)

Saturday, January 20, 2007

Konstruk


Hierdie foto gaan eintlik saam met die vorige inskrywing van The Village. Ek wonder by hoeveel kerke die betrokke kennisgewing gepas sou kon wees?

Moontlike Teks: Lukas 17:20-21

Tuesday, January 16, 2007

The Village


Vrees en vrede

Dis nogal weird dat ek The Village te siene gekry het. Ek stap dan juis altyd by die horror-afdeling verby. Catch 22 is, dit is eintlik 'n drama. Maar sit hom op by drama en jy gee die game weg.

Hierdie fliek voorsien ons nogal van 'n wonderlike allegorie vir die kerk. (Afgesien van die feit dat daar net drie wette is!)

Die pseudo-vrede word gehandhaaf deur vrees vir die ander: "They". Daardeur word die inwoners van die village beskerm teen die wrede wereld daarbuite. Al beteken dit soms iemand of twee se dood, asook 'n lewenslange vrees vir die monsters. Die reels moet ten alle koste gehoorsaam word, anders verval "ons" identiteit.

Dis egter als behalwe eg en 'n kunsmatige wereld wat geskep word.

Aangrypend dat dit die blinde meisie is wat bereid is om die reels te oortree om iemand se lewe te red. Haar liefde maak dit moontlik om die barrier te breek.

Ek sou by hierdie fliek eintlik eerder 'n lekker groepbespreking wou sien as 'n preek.

Moontlike teks: Joh. 4:1-26. Dit gaan oor die village Sigar, maar die situasie is omgekeer: Die Jode buite die dorp het 'n klomp reels, wat Jesus bereid is om te oortree.

Daar is ook 'n aangrypende storie in Joh. 9 waar die blinde man "gesien" het, terwyl die wat kon sien, ala Village, eintlik blind was.

(Ek kan nie wag vir more se post nie. Het n foto om daarvoor te gaan neem wat by hierdie storie pas...)

Saturday, January 13, 2007

The Queen



Response Ability

10 jaar terug was ek te geïrriteerd met die media en massa-histerie van die publiek om agter te kom ek is self teleurgesteld oor Prinses Diana se dood. Dit was dus nogal 'n aardige gevoel om dit met die kyk van hierdie fliek te ontdek.

The Queen gaan grootliks oor die reaksie van die koningshuis, en meer spesifiek die koningin, op die dood van Diana.

2 vrae het my bly pla, en dit het my storie op hierdie post geword.

Vraag 1: Vir wat was die mense so behep met die Queen se reaksie op Diana se dood? Ons sien die blaam vir die dood word so half op die paparazzi se skouers geplaas, maar soms word deur die publiek geskimp dat die Royal Family aandadig is. Die fliek kyk bietjie na die koningin se eie struggle met die krisis: dit is 'n familie-saak sowel as 'n amptelike koningshuis-van-Engeland-saak. Sy is monarg EN moeder.

Dit was nog altyd vir my lagwekkend dat almal die blaam so op die paparazzi geplaas het – so asof daar NIEMAND was wat die tydskrifte met die steelfoto’s gekoop het nie. Selfs met die rouery voor die begrafnis wou almal SIEN hoe die queen dit saamdoen. Dit lyk asof die publiek van iemand rekenskap vereis vir Diana se dood. En ons is so bly as ons iemand kan kry wat daardie blaam moet dra. Die feit dat ons Huisgenoot gekoop het as sy op die voorblad was, is nie ter sake nie. As die queen hulde betoon, is Sannie Publiek tevrede.

Vraag 2: Hoekom is miljoene mense so getraumatiseer deur Diana se dood? Een van die omstanders in die fliek sê: “I’ve never experienced something like this before!” Oral strompel mense rond wat sigbaar probeer cope met verlies.

Verlies aan wat? 'n Sprokie? 'n Ikoon? “People’s Princess” sê tog sy was almal s’n. Maar hoekom wou jy ene hê? Was Diana dalk 'n projeksie of 'n toonbeeld van wat mense graag wou wees of regkry?

Ek dink vraag 1 en 2 gaan oor verantwoordelikheid (response ability) vir goed en sleg in ons lewens. Vir sleg soek ons 'n scapegoat: die koningin, paparazzi, Hoesein, Bush, die kerk, regering, munisipaliteit. Soms geregverdig, soms is dit net 'n blame game, dan voel ek beter.

Vir die goeie soek ons 'n ikoon of simbool wat ons droom namens ons kan uitleef: Diana, wat bo die sisteem kon uitstyg, Mandela, Cher, Jonty Rhodes, Richard Branson. Soms motiveer dit, maar soms moet hulle maar namens ons die goeie regkry.

Maar dis veel gevra. “Uneasy lies the head that wears 'n crown.” Die aanhaling waarmee die fliek begin.

Vir behoefte 1 en 2 het ons offers nodig. Inderdaad sien ons saam met die queen die scapegoat in die slagkamer, sonder sy kop. Die queen HET probeer om die pragdier te red.

Ek kan seker maar moan oor al die sleg om my en ander blameer, of my drome in ander se lewens sien, maar dit ontneem my my eie verantwoordelikheid. Damn.

Snaaks genoeg, met die intog in Jerusalem (Joh. 12:12-19) wapper die palmtakke en almal sien hul droom. Soos met Diana, brom die leiers daaroor. 'n Paar dae later hang die droom met 'n kroon aan die kruis met 'n bordjie bo sy kop: Koning van die Jode. Beide behoeftes, een persoon.

Thursday, January 11, 2007

Casino Royale


CASINO ROYALE

Om “real” te wees.

Dit was amazing dat James vir die eerste keer nie omgegee het of sy drankie geskud of geroer word nie. Hy soek net die flippen drankie.

Ek is nou ook daar. En nie wat my Cabernet Sauvignon se temperatuur betref nie, maar wat ek in my eie lewe soek. Miskien is dit hoekom James hierdie keer vir so baie mense so goed was. Behalwe vir die feit dat James byna sy onderdele gesien het, is daar iets in die storie wat, glo ek, by ons resoneer.

In Casino Royale voer James vroeg-vroeg 'n gesprekkie met M in haar eie huis. Die tema? Vertroue. Die feit dat dinge anders is as wat dit was.

007 ontmoet sy liefde. Dis nou die ene waarvan hy éérs hou voordat hy seks met haar het. En uiteindelik besluit hy om te bedank. Hy het 'n groter droom as die huidige situasie. The real thing. En ek, die kyker, voel skoon opgewonde oor die moontlikhede van 'n nuwe opwindende lewe van 007 saam met die girl.

Maar die droom sink. In 'n oomblik is die bedanking, die nuwe lewe en die droom gekelder. Voor jou oë. (Dit was nogal 'n onderwater toneel waar ek die benoudste ooit geword het.)

Is die lewe dan so moeilik? Gee net die flippen drankie. Nes ek probeer om van oortollige laste ontslae te raak, kom daar nuwes. Die struggle vir my is om eg te bly. Nie net om kop bo water te hou nie.

Tekste oor egtheid: Lukas 11:39-42. Of Johannes 12:1-8 waar Maria Jesus met nardusolie salf en die ander kastig besorg is oor die armes.

Wednesday, January 10, 2007

Trois Couleurs Rouge



Ek dink elkeen het sy eie “pet sin”. Gewoonlik is dit die ene waarmee jy nie regtig sukkel nie en dan is jy kwaad vir al die ander wat dit doen. So bly jy veilig en beter.

My favourite sonde is ignorance. (Maar ek sukkel ook maar.)

En dit is hoekom Red my mond laat oophang het. Behalwe vir die gewone dommerige gevoel wat ek kry wanneer ek Kieslowski-flieks kyk, het Red besondere uitdagings aan my gestel. Een spesifieke tema het my in die duister gehou totdat die lig vir my opgegaan het.

Kyk bietjie hoe mense in die lig of in die donker inbeweeg in hierdie storie. Red spring selfs weg met flikkerende ligkolle wat uit fokus uit is (met allusions na verkeersligte en telefoonseine). Jy sien 'n motor wat in die donker by 'n inrit inry. Later weer dieselfde toneel, nou net in die dag. Jy sien 'n toneel waar die son sak en jy as kyker in die skaduwee beland. Maar hierdie snit is NET te lank om nie iets te beteken nie. Of dit gebeur dat die hoofkarakter agter 'n ding verbybeweeg en die lig van 'n lamp val oor haar gesig. En die ontstellende toneel waar die jongman teen 'n muur uitklouter om op die lysie van die eerste vloer langs verby te skuur tot by die woonstelvenster waar daar lig uitskyn. Stadig skuif sy gesig verby die muur… vanuit die skadu tot in die lig. In hierdie helder lig sien hy sy verloofde met 'n ander man, besig met die naakte waarheid.

Hoe oordeel jy sonder dat jy ingelig(!) is? Die vraag in die storie is soms: Wíl jy ingelig wees? Want wat gaan jy daarmee doen?

Nie vreemd nie dat die ander hoofkarakter 'n regter was. (Haai, in Frans klink dit selfs na 'n mooi beroep!) Aanvanklik veroordeel ek die man, want ek is nog in die duister. Hy leer my egter die prentjie is groter as net wat jy NOU sien. Net soos wat die blote raakry van 'n hond of die oopval van 'n boek baie groter betekenis kan hê as wat jy dink. Of dalk bel jy iemand en haar lyn is beset, en jy maak allerhande gevolgtrekkings, en so word die verhouding in 'n ander rigting gestuur.

Ek het gewonder vir wat hoor ons kort-kort 'n vliegtuig, maar ons sien dit nooit nie? Is dit dalk die moontlikheid dat ons oordeel op grond van wat ons sien, maar daar is altyd ander wat meer en wyer sien as jy? Neem bv. die model Valentine se foto van die kougom-advertensie. Hoeveel anders lyk die toneel nie aan die einde van die fliek nie? Daar word vroeër met haar gespot oor die kougom-advertensie, en die regter se huis word met klippe bestook oor hy afluister, want dit is al wat die mense sien.

Ek het besef dat ek maar geen mens kan veroordeel nie. Ek ken nie sy/haar hele storie nie. As jy eers in die lig is, wil jy nie meer oordeel nie. Maar dit was ook nie noodwendig wat jy wou sien nie. Selfs die hond het gesukkel om te besluit watter baas wil sy hê.

Tekste: Mat 7:1-5 oor oordeel. Ek hou ook van Efes. 5:8-14. Ons dink soms omdat ons in die lig is, kan ons maar oordeel. Ek dink eerder die twee verse saam beteken dat ons nie kan oordeel nie, want ons is in die lig.

(NS.: Ek vermoed Blue is my gunsteling weens die musiek; White my kollega s'n weens die blond en Red is Do Kwang s'n weens die hond met kleintjies.)

Monday, January 08, 2007

Trois Couleurs Bleu



(Hierdie geselsie gebeur where angels fear to tread. Mens kan nie oor Blue iets sê sonder verdere gesprek nie – die fliek is so gemaak. Be my guest.)

Hoe gemaak met pyn?

Blue wys my wat Julie daarmee doen, en dit met haar. Direkteur Kieslowski kies filmskote wat onophoudelik met die storie saamgesels en my innooi om saam met Julie te kyk wat gebeur.

En hoe ontwikkel haar kyk nie! In die hospitaal sien jy eerste haar oog. Dan haal die veertjie voor haar neus asem. En jy kom later agter dat al wat sy KAN raaksien, haar eie pyn en verlies is. Maande verder in die koffiewinkel sit haar liefde voor haar met 'n “liefdesaanbod”, maar al wat sy sien, is haar klontjie suiker wat koffie opsuig. Wanneer sy by die swembad telkens haar “musiek” hoor, probeer sy dit wegkeer. Want dit is hierdie musiek wat gepaard gaan met haar heelwording en lewe. Hoe meer sy hoor, hoe verder sien sy.

(Kom ons gesels kerk. Ek is bevrees ons sit maar meesal met 'n suikerklont voor ons oë. Ons veronderstellings oor hoe mense moet lewe, ons wette en veroordelings belemmer ons visie. En ons kom nie agter ons belemmer so ons eie groei nie)

Ek was eerlik geskok met die einde van Blue. Kan dit dan wees dat 'n direkteur die beste preek ooit oor 1 Kor. 13 kon maak? Versteen het ek geluister na die musiek wat ek deur die hele fliek heen gehoor het, maar nooit volledig nie. Wanneer die musiek klaarmaak, is daar selfs amper 'n “hint” van 'n mondhoek wat lig op Julie se gesig.

Ek dog tot in die middel van die fliek Julie is maar 'n sukkelaar weens die trauma. Maar éintlik was sý die sterker een van al die karakters. Sy het die moed om haar man se minnares te ontmoet. En haar moed lê in die feit dat sy haar nie haat nie. Sy gee haar en die ongebore baba selfs 'n huis. Sy gee haar kruisie aan die outjie wat dit opgetel het. Sy weier dat die vrou met die baie mans uit haar woonstelblok gesit word en gaan selfs vroetelplaas toe om hierdie vrou te ondersteun in 'n krisis.

Julie faced the music.

Lewe, kompleet met dood en verlies. Sy’s nie vol antwoorde en klaar uitgewerkte strategieë vir die verwerking van pyn nie.

Liewe blogger, vragie vir ons: Julie se visie skuif van “hier by haar” tot by “daar ver”. Ek wonder: Word ons eie seer minder en ons depressie minder as ons wegkyk van onsself na ander? Of kry ons dit reg om na ander te begin kyk wanneer ons pyn minder raak? Of loop dit net saam?

“You’ve got to hold onto something” – 'n tema in die fliek. Wat ookal gebeur, daar moet iets wees waaraan jy vashou. Vir die outjie wat die ongeluk gesien het, word dit die kruisie om sy nek. Vir die minnares word dit haar buik met die ongebore baba. Vir Julie se vriend word dit hulle matras. Julie hou blou kristalle van die kandelaar, wat gekoppel word aan musiek. Die straatmusikant bly klou aan sy instrument.

Wat is joune?

Wat is die kerk s'n? Ons kan dalk so onverskrokke aan ons vooroordele en moraliteite vasklou, dat dit ons visie inperk en 1 Kor. 13 onmoontlik maak.

Moontlike tekste: Oor lyding en wat gemaak daarmee, ongetwyfeld Job. Psalm 88. Psalm 22. Maar ek dink dat Josef se storie rondom Genesis 37 oor sy eie vreeslike verhaal waarin hy tog ander kon bly help het, ook kan werk.

Oor liefde: Ek sou ook wou sê 1 Kor. 13. Maar voor ek dit sou waag, wys ek eerder die hele fliek tot by die mooiste toonsetting van 1 Kor. 13 ooit.

Thursday, January 04, 2007

Mistress of Spices


Ek dink ek sou nogal 'n Indiër kon wees. Mooi kleure, selfs op jou kop, en die kosse is ook glad nie vaal nie. Ons hoofkarakter Tilo lyk soms soos een pragtige vuurrooi chilli, en af-en-toe letterlik aan die brand ook! Hier is drie voor-die-hand-liggende tema’s waarby ek die fliek sou kon inspan.

1. Destiny. Dit was nou maar een maal hierdie vrou se roeping om 'n mistress of spices te wees. Alles in haar lewe het op die ou end daarop afgespoel(!).

Moontlike tekste: Ps 139; Jes. 41.

2. Commitment. Haar keuse om 'n mistress of spices te bly, verg soms baie.

3. Genade. Aanvanklik lyk die spices asof hulle nogal genadig is. Die hele idee van 'n mistress of spices, is om ander te help. Nogal cute en sprokiesrig. Maar hel, ek sou nie in so 'n ongenaakbare speletjie betrokke wou wees nie. Om 'n mistress te wees, het reëls ter sprake. En is die spices hardvogtig oor daardie reëls! Wanneer die hoofkarakter se motiewe nie meer 100% is nie, loop die mense deur.

Moontlike tekste: Jy vra dalk waar is nr. 2 hierbo se teks? Die antwoord is: Ek sou nogal graag wou rondspeel met Hosea by nr. 2 sowel as nr. 3. Hosea se commitment aan God is so sterk dat hy met 'n prostituut trou en haar telkens weer terugvat… om God se genade op die ou einde te verkondig.

Ek het laas jaar ontdek: Ek neem nie sommer vreeslik sterk standpunt in oor baie goed nie. Behalwe as God se genade in gedrang kom. Is Sy nie nice nie?