Tuesday, April 24, 2007

Truman Show

Nouja, na aanleiding van Johan Swarts en Anja en almal wat nou hulle 5 onbekende dinge aan almal verkondig, laat ek dan ook probeer.

1. My regtermiddelvinger is bietjie korter as my linkermiddelvinger. Ek was 5 jaar oud toe die wind ons voordeur op hom toegeklap het. Ek gooi dus zap-signs net met my linkerhand, anders snap hulle dalk nie.
2. As ek in 'n vervelige vergadering sit, doen ek in my verbeelding picasso-tekeninge van die mense om my. As dit nog meer vervelig raak, doen ek dit in suiwer swart en wit.
3. My laerskooljare was in Vryheid, 16km vanaf Bloedrivier. Ek het gebly in Afrikanerstraat en my skool was Nieuwe Republiek Laerskool. Ek moes met Deputasie-straat op my fiets skool toe ry. You can’t imagine…
4. Ek vind dit onmoontlik om trappe te klim sonder om hulle te tel. (Maar ek is nie bang vir vuil hande of krake in die sypaadjie nie, relax.)
5. Wanneer my neus toegaan van sinus of verkoue of so iets, begin dit eers by die linkerneusgat. Hehe.
6. Ek steur my nie altyd aan die reëls nie.

Tuesday, April 17, 2007

Runaway Bride


'n Ruk gelede hou ek troue langs die rivier. (Nie my eie nie.) Alles is pragtig, behalwe die erge sweet op die arme bruidegom se voorkop. Die bruid gloei.

Die egpaar is gespanne… verbeel ek my, of is die bruidegom onseker van sy balans?

Ek maak maar 'n grappietjie of twee. Almal lag ingenome. Almal behalwe die –gom. Hy het iets op die hart, maar wat?

Gelukkig begin my boodskap. Ek raak in vervoering oor my eie woorde. Af en toe byt ek net vas tussen paragrawe, want ek kan sweer die bruidegom wil iets sê. Ek hoop dat, ás hy val, iemand hom kan vang. Alles is nie pluis nie.

Ek gaan voort.

Die bruidegom se frons verdiep. Hy kyk kort-kort na die bruid. “Het hulle dalk baklei net voor die seremonie?” wonder ek.

Dan sien ek hier kom dit. Stadig gaan sy mond oop. Ek staal myself vir 'n Dr Phil-sessie met die feitlik-getroude egpaar, ten aanskoue van al die gaste.

Die bruid kyk na hom, hy na haar. Dan kyk hy vir my en kry die sin uit:

“Fokkit, Dominee, maar sy’s MOOI!”

Ek glimlag mooi en stem liewerste heelhartig saam, alhoewel dit nie vir my lyk of sy dit heeltemal SO wou hoor nie.

Maar sy het voorwaar nie gehardloop nie.

Ghost Rider


(Ek doen hierdie post teen my beterwete in. Dis nou nie juis 'n fliek wat lank by jou spook nie.)

Dit lyk nogal lekker om nie 'n bang haar op jou kop te hê nie. Jy klim op jou vuurperd en doen wat jy wil. As die mense jou kwaad maak, whoalah, spontaneous human combustion.

Maar Johny Blaze het in sy vuurspuwende vorm 'n besondere gawe. As jy in sy oë (ekskuus?) kyk, sien en voel jy die leed wat jy ander aan gedoen het. Jy word daarmee gekonfronteer.

Ek wens ek het daardie gawe gehad. Daar’s nogal 'n paar mense wat ek dan sonder my donkerbril onder vier oë sou wou spreek.

Dit kan mos nie 'n gawe van die duiwel (of dan nou Mefistofeles of wie ook al) wees nie? Dis mos goed om iemand te wys wat h/sy aangevang het?

Klink my eerder na 'n gawe van die Gees.

En toe verstaan ek.

Ghost Rider se blik laat jou as(!)vaal van skuldgevoel en pyn oor wat jy gedoen het. Dis 'n waarheidskonfrontasie wat aankla.

Vir myself kies ek 'n kyk wat waarheid raaksien, maar vrymaak.

Die Gees se kyk wys die seermaak, konfronteer óók met die pyn wat jy gebring het. Maar dit maak los.

Ek sou eerder so wou kyk. Maar ek sukkel.

Moontlike teks:

1 Joh. 4:17-18

Wednesday, April 11, 2007

Mr Bean's Vacation


Mr Bean bly Mr Bean. Of jy kan hom nie verdra nie, of jy geniet hom vreeslik. Ek val in die tweede kategorie. (Behalwe wanneer hulle Amerikaanse humor met hom probeer, soos in die eerste movie. Dit maak net soveel sin soos 'n viooltjie-uitstalling in die kalahari).

Meeste mense dink die akteur Rowan Atkinson is stupid. Maar hy is nie.

Die fliek begin met 'n rainy day in Londen, in die kerk by 'n basaar. Hoe vaal kan jy nou kry! En dit eindig by die sonnige strand in die Suide van Frankryk, by Cannes. Praat van kleurryk!

En ek klou verbete vas aan daardie tipe hoop.

Dat al bevind ek my in grou omstandighede, die son weer môre sal skyn.

Ek wonder of julle ook sulke nagmerries kry soos ek soms:

Jy droom jy het 'n eenvoudige taak om te doen. (Soos Bean, bv, wat op 'n trein moet kom en by Cannes afklim.) Maar sodra jy begin, glip 'n foutjie in. Jy probeer gou-gou die foutjie fix. Maar in die proses ontstaan daar NOG foutjies. Min of meer teen die einde van die droom, net so voor die gefrustreerde wakkerskrik, is die magdom foute so horribaal, dat die oorspronklike “benign” takie heeltemal verdwyn het agter die berg van krisisse. Soos Bean in sy vacation.

En tog: Die vreeslike flops word deur Bean op sy kamera vasgelê. Dit word, myns insiens, meesterlik vervleg by die eindtonele om totaal nuwe betekenis te gee aan Bean se storie. Die konteks waarbinne dit dan vertoon word, is só radikaal anders, dat ek as kyker besef het: my eie flops en grou dae word soms onverstaanbaar iets anders.

Dis soos om te dink jy het 'n lucky number 919, maar die wennommer is 616. Dit sien ons mos in die openingstoneel? Dit was slegs 'n kwessie van perspektief. En dit gebeur nogal in die kerk!

Moontlike teks:

In Bean word tekste herinterpreteer tot iets nuut: 919 word 616. Die home video word deel van 'n nuwe fliek (in die fliek!). Bean se chaos word 'n magiese sonnige einde.

In Joh. 2:19 word die betekenis van die grou en dooie tempel herinterpreteer met die paasgebeure.

Dit was vir my eintlik 'n great Paasfliek. Maar ek sal dít liewer maar net hierso sê.

Addendum:

Goeie Vrydag 2007

Ek wil Jou nie meer
probeer
beter dien nie
beter liefhê
beter uitreik
beter omgee

Dis vir my beter
om vandag net
by jou kruis te sit
en sug,
Verlig.

Wednesday, April 04, 2007

Happy Feet




Ek het nie baie digbundels nie. Maar ek het een van Mattie Stepanek s'n: “Hope through Heartsongs”.

In Happy Feet gee die klein held van die fliek die eerste treetjie na “anders-wees”. Dis hierdie andersheid wat later sy heartsong word. Dis ook die andersheid wat die community tussen hom en die ander verbreek. Dis dieselfde andersheid wat dit later weer red.

Die fliek laat my wonder oor die aardigheid van communities. Die feit dat dit vloeibaar is en kan verander. Maar ook dat dit soos kwaai seestrome kan wees wat jou in een rigting wil druk. Kyk net: ons heldjie word weggejaag oor hy 'n gawe vir dans het, maar nie kan sing nie. In 'n ander community is dit met afguns bejeën. En later ontvang sy eie community hom weer met ope arms terug, juis oor hierdie ekstreme heartsong van hom.

Happy Feet help my om elke dag te kies:
· Om myself te wees
· Met passie en entoesiasme
· Ten spyte van teenkanting soms
· Want dis wie ek is
· En as die teenkanting verander, is dit 'n bonus.

Geagte broer en suster, ek wil graag vandag afsluit met 'n gediggie van Mattie Stepanek

Facing the Future

Every journey begins
With but a small step.
And every day is a chance
For a new stew, small step
In the right direction.
Just follow your Heartsong.

Moontlike teks: Ps. 118:22-23
(Ns.: Ek gaan vir week weg. Te danke aan VW se duur onderdele gaan ek nie, soos beplan, nou toegang tot 3G besit nie.)

Wednesday, March 28, 2007

Nico, the Cop

Ek is seker iemand uiter iewers in een of ander fliek vir die polisie:
"Just get out of my hair!"
(Ek torring gewoonlik nie aan hierdie tipe foto's nie.)

Monday, March 26, 2007

Superman Returns







March of the Penguins

Dis nie aldag dat mens regtig vasgenael sit om na 'n Franse dokumentêre film met Engelse onderskrifte te kyk nie. Dit voel deurgaans na 'n lang, misterieuse erediens. En dit begin met asemrowende skote van blou ys-katedrale. Die musiek laat jou tegelyk hartseer en vrolik voel.

Ek het net besef: Daar is soveel wêrelde waarvan mens eintlik net niks weet nie. Dit voel asof die pikkewyne aan een of ander geloof behoort. Wat my geraak het:

· Klomp individuele pikkewyne en groepies vorm skielik op 'n dag spontaan een groot liggaam. Dis die begin van 'n uitgerekte oorlewingsritueel.
· Onsigbare magnetiese velde is vir hulle tasbaar. Met geheue en saam-wees en onsigbare “kaarte” onthou hulle die pad. Die pad lyk elke jaar anders.
· Daar is 'n konstante geveg teen die “white”. Dit word saam gedoen.
· Die pikkewynma’s loop altesaam 40 dae om betyds terug te wees met kos wanneer die kleintjies uitbroei. Hoe belangrik is 'n belofte nie? “I’ll be back.” (Schwarzenegger en Jesus)
· Aurora Borealis is 'n herinnering in die donker winter dat die son wel nog daar is en dat lente weldra kom.

Maar wat my die meeste getref het, is die hele pikkewyn-community wat net een doel het: Die suksesvolle versorging van kleintjies. Afwesigheid van selfsug. Kos wat vir drie maande in honger lywe gebêre word vir wanneer die kleintjie dit gaan nodig hê.

(Ja, ek weet dis alles instink. Nogtans.)

“It takes a village to raise a child.”

Maar die huise in my village het mure om. Party is van steen. Ander van selfsug of ignorance.

Iemand het gesê: 'n Gemeenskap word gemeet volgens die hantering van hulle broses.

Moontlike tekste: Matteus 23:37
Of Jesaja 60:1-5

Thursday, March 22, 2007

Epic Movie


Eintlik word hierdie post steeds beïnvloed deur Lady in the Water, wat verlede week gedoen is.

Epic Movie is omtrent nou vir jou 'n gespot met 'n klomp ander flieks. Hulle spot nie fyn nie.

En tog is daar klomp goed wat ek nie gevang het nie. Gelukkig was daar iemand saam met my wat ook 'n klomp goed gemis het, en ons kon mekaar help.

Dan sit ek met 'n “hu?”-uitdrukking, en Johan verduidelik: Dis 'n MTV-show, en hulle lyk presies net so. Dan lag ek vir hulle. Dan raak Johan doodstil, totdat hy later gefrustreerd vra: “Wie’s DIT!!!?” Dan verduidelik ek vir hom: “Het jy dan nie Da Vinci Code gesien nie?” Dan lag hý vir hulle. Ek word weer verduidelik van een of ander Punk-show en dan verduidelik ek hom weer van Chronicles of Narnia. So het ons saam-saam toe die hele fliek verstaan gekry, tot frustrasie van ons mede-fliekers.

Ek is mal oor “allusion”. Johan Swarts, as jy hier lees is jy welkom om 'n Afrikaanse term vir my te gooi. Allusion is meer as verwysing. Dis amper so 'n speelse, terloopse “in herinnering roep” van iets anders wat aan jou bekend is. (Weliswaar nie heeltemal Epic Movie se styl nie.)

Bv. in Eksodus 2 word die Moses-in-die-Nyl-storie só in Hebreeus vertel, dat elkeen wat bekend is met die Noag-en-die-ark-storie, die ark in herinnering sou roep wanneer hulle hoor van Moses se mandjie in die water. Of met die Matteusweergawe van Jesus se lewe word daar ook baie allusions gedoen na Moses: Gaan Egipte toe a.g.v. Josef, kom terug uit Egipte om 'n volk te kom red, kindermoord, ens. Maar as jy die eerste storie nie ken nie, mis jy dit.

Met welbekende stories kan jy baie lekker speel met allusions, verwysings en metafore. Dis soos 'n kind wat ek verlede week gehoor het met 'n toespraak: hy het die Drie Varkies se storielyn gebruik om sy punt te maak.

Hoe gemaak wanneer ek nie die stories ken nie?

Wat ek en Johan gedoen het in Epic Movie, was dialoog.

(Maar hulle het darem regtig die Narnia tema gou-gou opgebruik en dit ongelukkig nie agtergekom nie.)

Moontlike teks: In Handelinge 17:16-34 gesels die neurotiese Paulus (aldus Carien) met die plaaslike Grieke, terwyl hy vol allusions en verwysings is na hulle eie wêreld. Hy haal hulle digters en stories en filosofie aan. Dit beteken hy het “engage” met hulle. Dis hoe dialoog werk.

Ons Wonderlike Wêreld

Ek lees vanoggend die volgende sin op Die Burger se webblad: "Vind uit hoekom kinders móét stoei en watter ander soogdiere hulle probleme met seks oplos deur na die weeklikse Eureka-podcast te luister"

Ek het eerlik nie besef ons wonderlike wêreld se soogdiere luister al na podcasts nie.

Sal bietjie later post kom doen oor Epic Movie.

Saturday, March 17, 2007

Forrest Gump


Wat ek vandag met my eerste halfmarathon geleer het:
1. By watertafels kry jy sulke sakkies water. Moenie doelbewus of per ongeluk op hulle trap nie. Dis aaklig om net nat skurende lieste te probeer hol.
2. Moenie met ander mense se lisensienommers spot nie. (Bv. argumentshalwe, as dit nr 666 is.) Ek het toe maar my mond gehou toe atleet nr. 69 verby my kom.

Sunday, March 11, 2007

Lady in the Water


Feëverhale sê vir ons riviere is van koeldrank, sodat ons vir 'n moment kan onthou hulle is eintlik van water. (So het een of ander filosoof gesê. Ek onthou nie wie nie.)

Mense vrek oor stories. Jy kan 'n kind baie verder beweeg deur haar eerder die regte storie te vertel as om 'n reël neer te lê. Ek dink dis hoekom Jesus meesal stories vertel het wanneer Hy gepraat het.

Soms wil ons die Storie vat, die essensie ontgin of oes en dan die res weggooi. En so verloor die Storie sy lewe.

In Lady in the Water ontmoet ons 'n horde mense wat oënskynlik niks met mekaar uit te waai het nie, behalwe dat hulle in dieselfde woonstelkompleks bly. Elkeen gaan sy/haar eie gang, besig met 'n eie storie.

Totdat die misterieuse watervrou opdaag. Haar naam is Story. En ons ontdek dat die groot groep mense eintlik somehow connected is (amper ook soos die vreemde events in Shyamalan se Signs). Hulle is deel van 'n groter storie. Elkeen se lewe op sigself maak nie veel sin nie, maar deur die connectedness wat hulle ontdek, gaan boekdele vir hulle oop.

In ons pogings om Story weer tuis te kry, ontdek ons dat elkeen waarde het, al het ons dit nie voorheen gesien nie. Wat oënskynlik niksseggende eienskappe was, was toe al die tyd belangrik.

En nes jy dink: Nou snap ek die Storie of 'n karakter volledig, kom jy agter dat die plot jou nog effens ontwyk. Amper soos seep in die water.

Die Teks is onvolledig sonder My Storie.
Nes ons dink: “Nou het hulle dit beslis reg!” sien ons dat hulle weer moet probeer, nederig moet bly en selfs na kinders kan luister.

Die man met die gebreekte hart en streng reëls is toe nie die Guardian nie, maar die (Wounded?) Healer. Die man wat 'n kenner is van stories en plot se slimmigheid het toe nie gehelp nie.

'n Predikant sê sowaar nou die dag dat Gereformeerde teologie nooit met kontekstuele teologie versoen kan word nie.

!!

Wat is Gereformeerde teologie dan? Is dit nie juis om te sê: Die Storie moet weer en weer gelees word nie? Kom ons ooit op 'n punt wat ons sê: NOU WEET ONS? Is dit nie maar net in ons eie storie wat ons daardie een probeer verstaan nie? Of ken ons die hele plot? Is dit nie wanneer ons te seker van ons saak is wanneer ons daardie graswolf in sy rooi oë kyk sonder dat ons dit eers weet nie?

Moontlike teks: Die mense van Joh. 4:1-26 was redelik seker van die plot: Wie is IN en wie is UIT. Wat mag, wat mag nie. Maar die Lady at the Water het anders ontdek. Jesus het haar storie/plot geken, en nogtans…

Friday, March 09, 2007

Matrix


As mens oor Matrix gesels, het jy seker duisende opsies. Sal mens wil skryf oor:

1. Die name in die fliek, soos Neo, Trinity, Nebuchadnezar, Zion…
2. Die eerste toneel (NB in enige fliek): “Wake up, Neo”
3. The question
4. The One
5. Neo wat uit die motor wil spring. Hoekom dan nie, Me. Drie-Enigheid? “Because you’ve been down there, Neo. You know where it leads.” Of so iets.
6. Die blou en rooi pille, waarheid, om te sien, ignorance
7. Neo se grillerige wedergeboorte
8. Daai vreemde profetessie
9. Liefde wat die dood oorwin
10. Room 303 (sommige reken dis allusion na 3 dae in die graf…)
11. Opstanding en oorwinning
12. Neo se Hemelvaart in die slottoneel
13. Die nuwe dimensie wat die idioom “om iemand 'n gat in die kop te praat” gekry het. Of het iemand dalk 'n band begin met die naam “Matrix” en 'n unplugged album uitgegee?

Ek wil vandag eerder oor iets anders gesels.

Ek reken The Matrix is regtig goed gedoen – wil selfs sê, dit vorm 'n poëtiese geheel. Die einde is skitterend, en jou verbeelding kan jou op ver reise neem. Mag ek maar die woord “genoegsaam” gebruik?

Daarom was ek nogal verbaas om later 'n opvolg te sien kom. En sowaar 'n derde een. En meteens duik honderde vrae op. Dis deurmekaar. Dit torring onnodig. Die eintlike eenvoud van die eerste fliek (wanneer jy nou eintlik agterkom wat aangaan) word opgemors. En ek gee toe maar moed op en kyk maar nr 3 ook vir ingeval daar logiese verloop is. Dit voel selfs of nr 3 die filosofie van nr 1 weerspreek – wat het geword van free will, hemel?! (Miskien is dit die gebruik van die woord Architect, 'n vrymesselaar term vir God, wat my die meeste irriteer saam met conspiracy konsepte.)

En vir 'n rukkie wil ek graag die volgende vergelyking tref:

1. The Matrix I en die boodskap van Jesus
2. The Matrix II + III en die boodskap van die kerk

Daar ís ooreenkomste tussen nr 1 en 2 hierbo en een of ander logieserige verloop. Maar daar sluip by nr 2 goed in wat deurmekaar maak en nr 1 bietjie verduister. Waarvan baie onnodig is. Ek het gewens ek het nooit II en III gaan kyk nie.
Teks? Lukas 14:34-35. Hoekom? Ek het sommer moeg geword vir Matrix.

Verder: Teen die einde van The Matrix I voel jy die stryd is verby. (al die ou dinge het verbygegaan, alles het nuutgeword).

Maar met II en III word jy ontnugter. Jy sien alles is toe nie verby nie en die stryd gaan maar aan.

Maar hiermee begin ek 'n tweede gedagtelyn en wil nie dieselfde doen as die 2 Joodse boeties wat die reeks geskep het nie.

Tuesday, March 06, 2007

Scream 2


Miskien kan iemand help?
Daar is 'n paar blogs wat ek op Wordpress geniet. Maar ek is besig om my kop te verloor daar:
Elke blog by Wordpress wat ek vir die eerste keer besoek, laai mooi netjies af tot op die nuutste inskrywing. Maar as ek teruggaan, selfs 'n hele week later, word alle nuwe inskrywings wat intussen bygekom het, geignoreer. Refresh help nie. Ek moet met ompaaie by die nuwe posts en comments uitkom. Ek is selfs op feeds ingeteken, maar dit help nog nie.
Over geset synde: Wordpress is vir my 'n frustrasie, maar is ek die enigste ene wat daarmee sukkel?
Aaaaaaarrrrrgh!

Monday, March 05, 2007

Constantine

In gespanne verwagting op Apocalypto hier in my wêreld, kyk ek toe maar Constantine, wat ek nog altyd ontwyk het.

>sug<

Dit is by verre die mees pessimistiese fliek wat ek nog gesien het. Soos wat god (jammer, maar die hoofletter werk net nie hier nie) in die storie uitgebeeld word, is hy 'n idioot – iemand wat ongenaakbaar sinnelose “reëls” breinloos uitvoer, ongeag die gevolge daarvan. Daarenteen is Lucifer effens vindingryk en darem iemand met verstand en die vermoë om gesprek te voer.

Consider this: John Constantine het die vermoë om hel toe en terug te gaan, net om bietjie insig te verkry. En die hel is op dieselfde plek as waar jy is, net in 'n ander dimensie. Tot vervelens toe besoek jy 'n winderige hel waar reptielagtige demone rondbeweeg. Jy sien Lucifer en 'n verraaierige Gabriël wat nie genade verstaan nie en vlamme en bloed en pyn en longkanker. Maar nie een keer sien jy God nie. Hy is eintlik heeltemal magteloos en kan net 'n aksietjie uitvoer as dit inpas in sy reëls. Daarenteen is die demone en Lucifer vindingryk genoeg om teen reëls op te tree en dinge tot hul voordeel reg te kry.

Die hel is die hele fliek vol. Maar gegewe die genre, sou ek darem iewers 'n glimpsie (jammer, alle erudiete lesers, vir die anglisisme) wou kry van die hemel of God of so iets.

Dit gebeur nie. John Constantine sê dit selfs een keer: “God is a boy with an ant farm.” God is die afwesige een. Vir demone word gesê: “Come forth,” en dit gebeur. Met God? Nee wat.

Ou John-Boy se laaste woorde in die fliek is: “As it says in The Book: God works in mysterious ways.” Ek sal nogal graag wou weet in WATTER boek staan DIT?

Nogtans, dit is dalk ons persepsie vandag. God is afwesig. Werk self jou eie weë uit en probeer “evil” uitoorlê. Dis baie erg. Jy kan bargain met die duiwel, maar nie met God nie.

Ek moet erken, dit voel soms so. Maar ek glo tog anders.

Moontlike tekste: Psalm 88 klink baie of John Constantine dit sou kon bid. Veral verse 12, 16 en 19.

Saturday, March 03, 2007

Click

Het jy nie ook al gewens jy het die remote controll van jou lewe in die hande gehad nie? Daai rewind knoppie om jou terug te neem tot net vóór die ongeluk, die slow-play knoppie vir daardie date, of die fast-forward vir die vergadering / fight / verkeersknoop.

Seize the moment, sê ons. Maar die moment is maar moeilik as dit regtig vervelig of sleg is. (Die honde in die fliek is al wat blykbaar weet hoe om die moment te gryp, al is dit met die arme speelgoed-eend.)

Die hoofkarakter soek sy momente in die hoogtepunte van sy loopbaan. Die tussen-in goete moet tog net verby kom. Hy ontdek op die moeilike manier dat LEWE eintlik gebeur saam met die tussen-in goete. Dit is toe nie die toekenning van my doktersgraad of die langverwagte bevordering of toekenning wat iewers in die toekoms gaan gebeur waarvoor ek leef nie. Life’s a journey. Ek weet ek klink nou na Nissan of die Hulett’s suikerpakkie by Mugg & Bean. Die MOMENTS van lewe lê egter nie iewers opgesluit nie. Dit is elke oomblik.

Ek dink die kerke wat die samelewing die seerste maak, is diégene wat net uitsien na eendag, en hoop opgegee het met NOU. (Jammer, my vrou, maar ek dink egter steeds seks gaan oor die orgasme ;-) )

Moontlike tekste: In 1 Pet. 1:3-9 “click” Petrus tussen die hede en die toekoms. Sy punt: Die toekoms bepaal reeds hoe jy kan lewe in jou “nou”. Of wat van Pred. 11:7-10? As jy lg. ter harte neem, sal jy in elk geval nie sulke maagflappe ontwikkel soos Sandler in Click nie…

Friday, March 02, 2007

De la Rey en Hofmeyr

Hou duime vas. Een van die voordele van poppekas hou, is dat jy vir die kinders 'n verstaanbare boodskappie gee... met uitsonderlike geleenthede daarin verborge om sommer vir die grootmense 'n heel ander boodskap deur te gee. Dit beteken dat die mense dikwels die kinders se reaksies geniet, en na die tyd agterkom wat het HULLE gehoor.

Sondag kom De la Rey aan die beurt.

Genade, ja, Maeree. Ek het agtergekom: "Thou shalt never maketh promises on the blogosphere."

Kan enigiemand my help verstaan waarom Steve Hofmeyr so graag sy geselsie met Zuma met almal wou deel? Dit sou vir my meer sin gemaak het as Zuma geskryf het oor sy onderhoud met Steve.

Monday, February 26, 2007

Scream

Ek kan al SKRREEEE as ek 'n epos kry met die titel: "Dringende oproep aan alle Christene".

As ek my aan elkeen van hierdie dringende oproepe gesteur het, sou ek niks anders doen nie as om:

Te bid vir onbekende ontvoerde blanke kinders agterin twincam bakkies;
Gebed 6 keer per dag op spesifieke tye wanneer God beskikbaar is;
24 uur gebedskettings (is dit nou nie snaaks nie? Dieselfde ouens wat boeke skryf oor "bevryding", dink nuwe kettings uit);
Petisies te rig aan Bush en/of Clinton en/of Mugabe en/of Mbeki en/of...;
Dreigbriewe te onderteken aan Hollywood;
Bewerig eposse te forward wat reken dat as ek dit nie doen nie, ek eintlik nie regtig vir God lief is nie;
Angsbevange my eposse in te wag;
Ad infinito

Movie more.

Friday, February 23, 2007

Gospel According to the World's Greatest Superhero


Ek is in my skik. Hierdie boek kry ek vir my verjaarsdag.
Ek is kwaad. Dit is nog nie hier nie.

Tuesday, February 20, 2007

Ice Age 2





Manfred staan heel bo, op die yskrans. Onder wei die diere en die kiddies speel in die waterpark. Idillies. Maar hy sien hier bo die aaklige waarheid: naderende krisis. Die massa ys is aan’t smelt, en almal is in die opvanggebied (understatement, wink wink, nudge).

Hoe gemaak om 'n groep skeptici te lei wat jou nie wil glo nie? Jy sê dan nou iets anders as wat hulle nog altyd glo?

Wat maak van 'n groep mense 'n “community”? Kan 'n leier een wees sonder om deel van die community te wees? In Xhosa sê ons: “Umntu ngumntu ngabantu” ('n mens is 'n mens deur ander mense).

Dit bring ons by die uitdaging van leierskap. Die leier staan uit as individu “bo” die ander… en tog vermoed ek ons wil hê die leier moet ook deel wees van die gemeenskap. Is dit nie in elk geval een van Ericksson se ontwikkelingstadia vir jongmense nie? Identiteit vs rolverwarring beteken dat ek weet wie ek is as individu, maar dat ek dit tog net verstaan deur myself in 'n verhouding met ander te sien.

Manfred probeer die meisiemammoetjie oortuig sy is een. Hy kan nie. Sy moet dit self ontdek.

My leiersrol beteken dat ek ander nie kan oortuig nie, maar dat hulle wel tot by 'n plek gebring moet word waar hulle dit self gaan ontdek. Soos die meisiemammoet by die wilgerboom.

En is haar en Manny se ontdekking nie wonderlik wanneer die geysde see voor hulle oopgaan en 'n hele kudde mammoete te voorskyn kom nie?

Leierskap gaan oor 'n balans wat gehandhaaf moet word tussen individu-wees en deel-wees-van-community. Anders is jy op dun ys…

Moontlike teks: Arme Moses. Individu wat sukkel om ander te oortuig dat die trek beter is en nodig is. Maar met die oopkloof van die see ontdek hulle ook community en wie hulle is. Dus Eks. 14:15-31.

(Ek sien nie regtig kans vir die allusion na Noag en die ark nie…sal eerder verder wil giggel oor die similariteit tussen die eekhoring se Goue Akker en Virgin Mobile se advertensie. Verder: Weet enigiemand wat gaan aan met sommige platterige landse SterKinekors? Nee, hemel, ek is seker ek kan Apocalypto al op DVD koop. Hersiene uitgawe met ekstra materiaal.)