Thursday, October 11, 2007
Sliding Doors
kinekansel.wordpress.com
Gmpfhh. Die mag van die menigtes.
Wednesday, October 10, 2007
Music & Lyrics
(Hierdie post is eintlik vir Freddy homself. Then again: is daar enige skrywer wat nie vir homself skryf nie?)
Van al die Drew Barrymore-rolle, hou ek slegs van haar rol wat sy in ET gespeel het. Dis die enigste ene waarvan ek weet dat sy nie praat asof 'n beechie aan haar verhemelte vassit nie, en sy word nie so erg histeries en handgebaar-gemeen nie.
Ek kan nou nie juis dieselfde vertel van Hugh Grant nie. Hy het immers nie in ET gespeel nie.
Maar nou, 'n paar weke sedert ek hierdie fliek gesien het (en myself slap gelag het vir Pet Shop Boys en Wham! wat ek in die gespot herken), raak ek verbouereerd oor die fliek.
Want daardie gesukkel van Alex Fletcher ego in my eie dagboek.
Hy was 'n hit op sy tyd. Jy sien kort-kort skares juig by sy optredes, maar dis klein groepies mense wat maar net vaskleef aan wat verby is. Dan kry hy die geleentheid om 'n lied te skryf en saam te sing met 'n pop-diva'tjie. Sy is die hit van die oomblik, en maak orgasmiese musiek (no pun intended, dit verwys eksplisiet slegs na seks). Alex Fletcher (aldus Jessica met selle van) het nou egter 'n raaisel om op te los: Hoe maak jy 'n nuwe hit met jou eie "tradisie", maar dit val in die smaak van die Popmeisie van die Oomblik?
Want sien, ek het ook 'n jubelende skare voor my. Maar daar is 'n gap tussen hierdie skare en die res van die "huidige wereld". Alex Fletcher het besef sy styl moet aanpas. Maar hoe?
Dis waar Drew Barrymore toe inkom met haar plantwassery. Al blaarvrywende poets sy sommer gou-gou nuwe lirieke uit. (Hoewel dit seer klink uit haar mond.) Onpretensieus. Eerlik. Plain.
In die connection tussen die twee mense trou die musiek en die lirieke met mekaar. 'n Nuwe song word hieruit gebore, en Popmeisie van die Oomblik is in ekstase hieroor. Vir die eerste keer in 20 jaar luister die mense weer na Alex Fletcher wanneer hy sing. Dis nie meer 80's nie. Dis wel steeds Alex Fletcher se musiek. (As dit 'n Oprah-show was, was dit die moment waar almal in die gehoor uitroep: Aaawwwwwww! In die kerk sit jy dan net die "-men" by.)
Alles te danke aan daardie eerlike connection.
Ek weet nou nie of Alex Fletcher se fans so opgewonde was oor sy versaking van die ou weg nie. Maar die musiek in sy bloed het nie verander nie. Wel die mate van eerlikheid en "realness" van die lied.
Uittreksel:
Since I met you, my whole life has changed
It's not just my furniture you've rearranged
I was living in the past, but somehow you've brought me back
And I haven't felt like this since before Frankie said, relax
And though I know
Based on my track record
I might not seem like the safest bet
All I'm asking you is
Don't write me off just yet
Moontlike saamgesels-teks: 1 Kor. 9:19-23.
Dis nie die lamp se lig wat verander nie, maar wel die dinge waarop dit skyn.
Ns.: As jy nou nog nie weet wie is Jessica Fletcher nie, dink aan Maandae-aande 20 jaar gelede 19:00, Murder She Wrote.
Wednesday, October 03, 2007
Saturday, September 29, 2007
Brother Son, Sister Moon
The rain was falling,
But leathery hands full
-Joseph Bruchac
Thursday, September 20, 2007
The Lost World
Tuesday, September 11, 2007
Oor Noag
Gisteraand moet ek vir hom 'n Bybelstorie lees. Die kinderverhaalweergawe van Noag en die ark. Teen die einde, lees ek toe: "God het toe 'n reenboog geverf. So iets sou nooit weer gebeur nie."
Ek lees verder. Doen die gebedjie ding. Maar hy onderbreek die gebed halfpad.
"Nee," protesteer hy, "dis nie eintlik so nie. Daar was klaar 'n reenboog. Want eintlik, as 'n mens met 'n boot gaan ry, dan sien jy mos 'n reenboog."
Ek vrek oor my kind se geloof.
Tuesday, August 28, 2007
Evan Almighty
Ek verstaan nie aldag hoe resensente se koppe werk nie.
As ek by McDonalds gaan eet, en ek moet daaroor 'n resensie neerpen, gaan ek bietjie onnosel wees om dit op dieselfde manier te beoordeel as Le Ballon Rouge in Franschhoek.
Gaan kyk gerus hierdie fliek. Jy weet mos dit is in dieselfde kategorie as Bruce Almighty, en beslis nie 'n opvolg van American Beauty of die vierde fliek van Kieslowsky se Four Colours nie. Hoekom op aarde moet 'n duif met 'n takkie in die bek in hierdie genre "subtiel" wees?
Nee, vandag het ek geen teks nie, jy kan mos sien ek wou net kla.
Saturday, August 25, 2007
Bourne Ultimatum
"I remember everything."
Ons sien hoe het dit gebeur dat Jason Bourne hy geword het. Maar Jason Bourne wil weer terug na wat was. Of eerder, wie hy eintlik is.
Vasgevang in 'n lyf en 'n persoonlikheid wat nie ooreenstem met sy oorspronklike bestaan nie, spring, val, vlieg en jaag hy van dak tot dak om uit die tronksel genaamd Bourne te ontvlug. Ek wonder wanneer hy kans gekry het om te piepie, want ek kon nie 'n sekonde mis om noodverligting te doen nie.
Hoe het hy Jason Bourne geword? Hy het daarvoor gekies. Maar dis dikwels eers agterna wat ons agterkom hoe ons verkeerde keuses ons in dodelike geheime agente verander het. En dan, op 'n dag, kom die skok: Dit was al die tyd ek.
Dalk is ek bietjie te moedswillig, maar ek het opgelet dat:
- Jason Bourne kies teen sy huidige identiteit, vir dit wie hy eerder wil wees.
- Hy konfronteer dan nie net die agent wat hom wil doodskiet nie, maar ook vir my: Weet jy ooit hoekom jy doen wat jy doen? (Vasgevang in jou eie vorige keuses.)
- Onmiddellik daarna spring hy tot sy oënskynlike dood.
- Hy verdwyn onder water.
- Ons sien hoe Jason Bourne onder water "sterf".
- Na hierdie doop, begin David Webb swem.
- En die TV-verslaggewer verkondig dat hulle na DRIE DAE tot die gevolgtrekking gekom het dat Jason Bourne weg is.
Moontlike teks: Matteus 10:39 "Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind."
Monday, August 20, 2007
Breaking and Entering
'n Vis uit die water.
'n Vrou uit Bosnië
'n Verlore familie of 3.
'n Man wat "onskuldig" is, maar HY is die eintlike inbreker. Sy inbraak is egter nie deur 'n glasruit nie, maar in ander mense se persoonlike ruimte. Dit neem egter 'n rukkie om dit te snap.
As jy nog nie die tema snap nie, vertel die einste man dit vir jou met sy toespraak oor die vernuwing van 'n ou stadsgebied in Londen: jou milieu bepaal jou gedrag.
Van al die inbrake in die fliek (daar is darem nie te baie nie), is syne die gewelddadigste - bloedloos, maar emosioneel intensief. (En ek word altyd verstom deur Juliette Binoche.)
Interessante oogkos: daar word gespeel met geriffelde glasdeure - wanneer is iemand in jou ruimte, wanneer nie?
Ek wonder oor my eie milieu. Ek wonder oor die milieu wat ek skep waarin ander moet oorleef.
Jy sien goed wat breek: borde, glasruite, harte, klere. Sommige word herstel, ander nie.
Wanneer Amira (Binoche) agterkom dat daar by haar "ingebreek" is, voel jy in die pad. Jy wil haar grense weer vir haar toemaak.
Moontlike teks vir saamgesels: Lukas 9:1-6. (Wat is "my" tuiste? Wat beteken koninkryk? Breek ek in by ander mense?)
Tuesday, August 07, 2007
Sunday, August 05, 2007
Harry Potter and the Order of the Phoenix
Openingstoneel: Crop circles. Of is dit 'n parkie? Word ons bewegings en roetines wat ons elke dag deurtrap, soms soos 'n magiese "fixture" wat jou lewensvloei bepaal en jou vryheid inperk? Dalk bang vir ander roetes. Bly by die bekende. Gevangene.
Gelukkig is Hogwarts daar. Die skoolgebou weet self wanneer die roetines en 110 gebooie 'n bedreiging word. Hy skep spontaan 'n nuwe vertrek waar die blokkasie van groei oopgemaak kan word.
Daai Pienk Tannie is darem vreeslik. Eintlik is dit hoe ons ook maak. Wanneer jy iets nie wil hanteer nie (soos bv., as jy nie lus is om te erken dat die vreeslike Voldemort-sonder-'n-neus terug is nie, of dat AIDS of Zimbabwe soort van 'n probleem is nie), skuif jy dit opsy. Jy maak nuwe reels daaroor om jouself weg te hou daarvan. Enigiets om nie ander paaie te loop nie.
Ek ken so vrou. Erge trauma as kind deurgemaak. Self reels gemaak om verdere seerkry te keer. Maar die probleem gaan nie weg nie. Aanhoudend kom nuwe selfreels by. Alle energie en innerlike krag word opgebruik. As haar lewe ook so 'n Hogwarts-muur was, was dit tot teen die dak vol geraamde wette.
Ons is nie gebou vir ontkenning nie. Dis hoekom ons oor en oor droom oor die goed wat nie afgehandel is nie - nagmerries inkluis.
Jou keuse is dus:
1. Perk jouself meer en meer in met selfgemaakte reels, of metodes om die eintlike issue weg te hou.
2. Ontdek jou Hogwarts-kamer wat spontaan oopmaak wanneer dit nodig is. Face the issue.
Keuse 2 impliseer vertroue. (Ons kan nou soetsappig vertel hoe Harry se vertroue in sy vriende hom mos nou red, maar hoekom sal ek? Julle het mos die fliek gesien.)
Matteus 15:21-28. Hierdie vrou se vertroue was so groot, dat sy die konvensies woes bevraagteken het. (ek sien haar dogter had ook probleme met Voldemort :-) )
Wednesday, July 25, 2007
Transformers & Fantastic 4
Die groot ou is op pad, en hy kom om die hele aarde te verswelg. Hy het 'n paar pionne wat solank sy koms voorberei vir die verorbering van die blou planeet.
Dit is in kort die samevatting van altwee flieks.
Eintlik verbasend hoe die www, waar jy nou lees, van ons planeet 'n village gemaak het. Vyande word anders gedefinieer. Is die vyand dalk Noord-Korea? Rusland? Irak? Iewers in die Ooste?
Of jy nou saam met die bioniese masjiene uit die ruimte, of saam met die fabelagtige vier van kontinent tot kontinent kerjakker, jy ontdek: Ons hele planeet is op die spel hier. En ongeag jou land van herkoms, die aardetjie is maar kleinerig.
In beide flieks sluk jy hard aan die feit dat in albei, die eintlike oorsaak van die einde van die planeet, die mens se eie gierigheid en verbruikersmentaliteit is.
Gevolglik verdwyn die grense tussen mense (dit rym en klink soos Sproetjies!) en die fokus verskuif: Kyk na die planeet!
'n Verdere gedeelde tema in die twee flieks, is die geweldige frustrasie van 'n kommunikasie-gaping. By Transformers is die tienerheldjie die ene wat weet wat is die beste vir die planeet. Maar die patetiese ouers en CIA-lede gaan onversteurd aan met hulle eie oorlewingsresepte. Dit sluit ontkenning in. Jy voel die geweldige spanning wanneer die "goeie robot" gevang word. As mense tog net 'n kansie wou vat om te luister. By Fantastic Four is dit dieselfde geval: die profete van die storie word geignoreer. En hier sien jy visueel die monster wat die aarde kom insluk. Dit wat in die flieks bedreig word, is nie meer New York of Los Angeles of San Francisco nie. Ook nie een of twee boeings nie. Dit is 'n hele aarde, waarvan die grense onderling vervaag. Ek hoor benoud 'n volgende generasie skreeu, en is angsbevange dat ek dalk ook met dowe ore my eie resep sal bly volg.
Kolossense 1:19-20 vertel dat die hele aarde versoen is met Hom. Nie verorber nie.
Wednesday, July 18, 2007
7de Laan
Wragtag. Ek glo nie ek doen dit nie. Ek is 'n kineketter, want hierdie is 'n TV-reeks.
Maar danksy Oopkop se skreeusnaakse video-clippie oor Regter Rudy het ek vasgehaak by hierdie Sodium Laureth Sulphate.
Hierdie spesifieke seep tickle my. (Nou nie die lag-soort tickle nie). Dis 'n vermenging van splinternuut (selfone en internet dating en moderne settings) met ouwêreldse familiariteit (ek wens die verskillende generasies in my gemeente kan so meng met mekaar soos in daai seep).
Ek vermoed dit is wat mense dalk trek. Of hipnotiseer. Of watookal.
Maar daar is iets wat my GRENSLOOS irriteer van meeste sepe. (Sien Sodium Laureth Sulphate link hierbo.)
Die karakters.
Goed en wel: Kom ons maak hulle bietjie meer lewens-eg en gee elkeen bietjie goed en bietjie sleg. Laat die gepeupel identifiseer met die karakters. Wie is nou immers net goed of net sleg? Maar wat maak jy as jy week in en week uit 'n storielyn (!) aan die gang moet hou met duisende lesers per aand? (Wie kan dit kyk sonder om die onderskrifte te volg?)
Die oplossing is eenvoudig: Wisselvallige karakters. Die kyker word gelei om sekere goed te glo en te aanvaar van die karakters. En dan, op 'n dag, trek 'n storielyn weg met een van die karakters wat vir twee, drie weke skielik 'n magdom ander eienskappe besit. Dan is dit weer oor en verby.
Die kyker het geen beheer nie. Jy is totaal en al oorgelaat aan die psigopatie van die karakters. Met beheer bedoel ek dat jy darem min of meer 'n aanvoeling moet hê vir karakters en hulle ontwikkeling. Dit sluit nie verrassing uit nie. Dis net vreeslik as mens gereduseer word tot 'n wese wat gedurig keuses moet uitoefen... asof dit al is.
Moontlike teks: Eksodus 3:14.
Monday, July 09, 2007
Shrek the Third
Miskien meet mens hierdie genre itv die kinders om jou. Myne het met hulle hande in die pop corn gesit, maar vergeet om te eet.
Dit was eintlik 'n baie genotvolle fliek.
Maar die helde val in strepe:
Sneeuwitjie is 'n bederfde snob wat dwergies misbruik.
Raponsel is toe al die tyd eintlik bles.
King Arthur is 'n whimp.
Merlin is die kluts kwyt.
(Gelukkig mis die Gemmerkoekmannetjie jelly tots as hy skrik.)
Maar jy kry ook begrip vir die villains van sprokiesland:
Repelsteeltjie is 'n kind belowe, wat hy nooit gekry het nie.
Die stiefsusters is maar eensamerig.
En ek kan nie nou onthou wie was daar nog nie.
Maar die ondertoon van Shrek 3 was vir my eintlik geweldig "sad". Eintlik illustreer die openingstoneel iets daarvan: Die Paddakoning sterf, maar dit word baie lagwekkend voorgestel. Selfs die begrafnis. Daar heers konstant 'n blasé gevoel oor wonderlike, magical dinge, asook oor baie slegte dinge. Eintlik effense sinisme. Dis asof alle gevolgtrekkings slegs voorlopig kan wees. Maar dis ook nice, want jy bly oop.
Eintlik word daar baie gespeel met perspektief op ander mense se karakter. Shrek moet die koning se plek vul. Puss en Donkey ruil onwillekeurig lywe. Die goodies en baddies raak deurmekaar. En so kry jy meer begrip vir die ander ou.
Ek wonder dikwels: Hoe naby is GENADE en BEGRIP aan mekaar?
Moontlike teks: Ek sal eerder bietjie wil gesels oor Matteus, die tollenaar. Hoe het hy as mens verander toe sy rol geskuif het van tollenaar na dissipel? Hoe naby is karakterverandering aan 'n blote rolverdeling? (Die laaste gedeelte van Shrek 3 speel immers op 'n verhoog-toneelstuk af.)
Friday, July 06, 2007
Volgende post: Shrek Third
Die rede... ons gaan vanmiddag laat Shrek the Third kyk.
En die vrae wat huidiglik in my onderbewussyn rondwoel en kort-kort in 'n visioen uitbars (sien gerus Oppietrap se wondery hieroor), belemmer my konsentrasie.
Shrek 2 was eintlik in 'n ander genre as Shrek 1, though steeds goed.
Maar Hollywood is geneig om jillende, aksiebelaaide, skerpsinnige gediertetjies te laat toeneem met elke volgende uitreiking van elke fliek. Totdat daar van die oorspronklike sjarme niks oorbly nie. Dit voel soms in hierdie animasie-flieks asof jy agter 'n rekenaar sit met so vier tot vyf windows oop op een slag, en elkeen skree vir volle aandag. (Terloops, iets is radikaal fout met my lewe. Ek was nou al 68 keer die 999 999th besoeker op verskillende websites. Ek voel soos 'n tikkende tydbom.)
Tot weersiens. Dink aan my.
Friday, June 29, 2007
Meet Joe Black
Op pad na huis nr 3, vertel hy my dat die tannie se man onlangs oorlede is. "Maar wat, sy gaan goed aan."
Ons klim uit die motor, hy klop aan die deur. Tannie vat bietjie lank. Onseker prewel die oom: "Ek hoop nie ons is nou voor dooiemansdeur nie."
Ek kry my eie paar blou handskoene. Hulle squeek. Verbouereerd staan Fyne Vroutjie opsy. "Dankie, Dominee."
Ek en die sterk man moet ons draai ken. Ons two-step selfs hier-en-daar. Soms is die liggaam heeltemal vertikaal, en soms is ek darem weer vertikaal. Ek is later skoon dronk.
Sedertdien begryp ek wel hoekom is dit 'n ondernemer. Dis swaarder onder.
Tuesday, June 26, 2007
Bridge to Terabithia
"Children are our finest teachers. They already know how to grow, how to develop, how to learn, how to expand and discover, how to feel, laugh and cry and get mad, what is right for them and what is not right for them, what they need. They already know how to love and be joyful and live life to its fullest, to work and to be strong and full of energy. If only we didn't get in their way." Aldus Violet Oaklander.
In hierdie fliek is die brug in die genoemde titel 'n plek waar jy oorgaan na 'n ander wêreld. As't ware 'n ontsnapping van realiteit. (Sien ook die post by Amelie en Life is Beautiful).
Of is dit?
Vir eers is die vreemde karakters in die onvlugtingswoud vreemd en ver. Dit is te onwerklik vir woorde. En jy sien dit word die plek waar die twee kinders ontsnap uit moeilike skool-omstandighede en, vir die een, 'n moeilike huis.
Maar mettertyd herken jy die vreemde karakters as eg. Dit is eintlik mense van hulle real life wat as towerkarakters in Terabithia voortbestaan. Dis nogal great om die ver-af monster kort-kort te sien. En soos wat die seun se verhouding met sy pa verbeter, kom die monster telkens nader en nader. Totdat die verhouding herstel en die monster verdwyn.
Ek het hierdie film terdeë geniet. Jy sien heelwording plaasvind in die kinders se droomwêreld.
Ironies dat die meisie sterf presies op die plek waar die brug na Terabithia is.
Maar ek hou daarvan so. Terabithia bly voortbestaan vir die seun. Dit is waar hy ook heel word van sy verlies. Hy bou selfs 'n sterk brug na die towerbos vir sy sussie.
Ek soek na twee goed in my eie lewe n.a.v. hierdie eenvoudige fliek.
1. Vertroue in my eie ontvangde kreatiewe krag om die werklikheid te verstaan en sin daaruit te maak.
2. Ek wil ook sulke brûe help bou vir ander mense; diegene wat vasgeval sit.
Moontlike teks: Jesaja 44:1-5. Dis 'n droomteks vir mense wat nie meer wou roer nie. Die "imagery" van die wilgerbome langs waterlope laat my ook dink aan die fliek.
Monday, June 11, 2007
Fracture
Dit is te danke aan 'n werkswinkel wat ek verlede week bygewoon het deur die skrywer van hierdie boek:
Sedertdien bestudeer ek die boek, en dit maak soveel sin.
Snaaks genoeg, die dag voor die werkswinkel was ek aan’t fliek kyk. En die raakpunte tussen die boek en die fliek is glashelder.
Fracture wys ons dat almal eintlik maar onvolmaakthede het. Ons hou van sukses en beter-wees-as-ander (soos in meer bekwaam).
In die storie is die yuppie-prokureur besig met sy opbloeiende loopbaan. Die moordenaar verkies hom in die hof. Hoekom? Oor sy bepaalde “fracture”. “And what is mine?” wil hy weet. Die moordenaar glimlag. “Winning.” Die prokureur skud sy kop. Hoe kan “winning” 'n onvomaaktheid wees?
Dit openbaar die fliek.
Op 'n plek sien ons die moordenaar met een van sy oulike speelgoed. Dis 'n komplekse konstruksie wat albasters laat rondrol in spesifieke patrone. Die konstruksie het een klein foutjie in en die albaster ontspoor. Wat jy sien, LYK volmaak, maar dit is toe nie.
Dis waaroor Luister na die Lig gaan. Die teorie is dat ons van kleins af voorwaardelike liefde ervaar. Ons split ons “self” in twee. (Van nou af gebruik ek Fracture-taal.) Die een self met die fractures word onderdruk, weggesteek. Die ander een, Winner, word opgeblaas. Ons wys net wat beloon word. Ons ontken waarvan die wêreld nie hou nie. In die proses begin selfhaat om die split in stand te hou. Maar tog ontspoor die albaster.
Fracture konfronteer ons met ons eie onvolmaakthede. Luister na die Lig nooi ons om hierdie onvolmaakthede te embrace en jouself lief te hê.
Hoekom?
Want eers dan is jy in staat om werklik lief te hê.
Moontlike teks: Efesiërs 2:13-22 gaan eintlik oor twee soorte mense. Maar ek sien dit ook as 'n teks wat my eie storie vertel van twee selwe wat in Christus verenig is. Die een is 'n aanvaarbare ekke, wat 'n goeie dominee is, wat nice blogs skryf, wat sy woord goed kan doen, ordentlik en slim is en weet hoe om kinders op te psyche. Die ander een is die onaanvaarbare ekke, wat selfgesentreerd is, wat soms jok om goed te lyk, wat moeg raak vir mense, wat strukture wil afbreek. (Sorry, overshare. Maar sien, ek sê sorry omdat ek veronderstel is om net die goeie deel te wys.)
Wat is jou goeie deel en slegte deel? Maak dit sin dat dit verenig kan word? Is jy (1) bewus van jou fracture en (2) kan jy dit embrace?
Monday, June 04, 2007
Rondloper
Pirates of the Caribbean: At World's End
Thursday, May 31, 2007
Apocalypto
“Fear is a disease. Strike it from your heart.” Makliker gesê as gedaan. Ek was vir 'n paar oomblikke bang die fliek kry nie klaar nie. Ná hierdie ontblote harsings, drillende harte en oopgekerfde kele is die volgende fliek seker Hanniball Rising. (Vergeet daarvan…) Die arme tapir se wrede slagting in die begin van die fliek is klaar erg genoeg.
Die openingstoneel en die slottoneel vorm 'n toebroodjie (alhoewel nie vegetaries nie): 'n mooi stukkie bos. Dit begin met plante en eindig met plante. Maar die vulsel tussenin is vol mense en dus ook vol bloed.
Die tema van vrees het my aan die wonder gesit. Die mense in die fliek het vrees vir dood, geweld, verlies, vernedering, afskeid, misgeboorte, you name it, dit is daar. Maar op die ou einde word meeste van die geweld in die fliek gedryf deur vrees vir God.
Wanneer is mense bang vir God?
Ons is bang vir Hom wanneer ons dink Hy is kwaad.
Is God kwaad?
Hoe kwater God is, hoe meer geweld pleeg ons in die naam van godsdiens.
Snaaks dat die fliek se naam Apocalypto is. Ek verstaan die Mayan samelewing het 'n obsessie gehad met tyd. Beginne en eindes. 'n Apocalypse verwys soms na 'n eindtyd, of 'n finale fight voor alles klaar is. “We seek a new beginning,” verklaar Fish Hunter aan Jaguar Paw.
Ek soek dit ook.
Ek besef die kruis staan eintlik ook teenoor die Christendom self. Ek wonder of Gibson gereken het die koms van die kolonialiste was die “new beginning”. Ek is versigtig om dit te sê. Tog het die kruis saam met die skepe gearriveer. Ek sou wou hê dat die kruis beteken: Geen offers meer nie. Daarom geen onreg, geen uitbuitery, geen ekonomiese verdrukking, geen geforseerde skeiding, geen bang kinders, geen verkragting, geen vernedering, geen geweld, geen vrees -
ook nie vir God nie.
Moontlike teks: 1 Joh. 4:18-19
Ek het steeds kopseer.
Sunday, May 27, 2007
The Fountain
Ons dink soms aan die ewige lewe as 'n lang lyn. Dit hou net aan en aan en aan. Sommige teoloë sê dat ons dalk aan die ewigheid moet dink as 'n sirkel wat allesomvattend is. Ons stukkie lewe hier en nou is dan 'n strepie binne-in daardie sirkel.
In the Fountain kry ons 'n lekker mix-up van Judeo-Christian, Buddhisties en Hindu images en idees. Dis visueel vreeslik lekker om die beelde te aanskou wat op interessante maniere inmekaar vloei.
Die hoofkarakter soek die fontein van die lewe of die boom van die lewe om sy sterwende vrou te red van kanker. Die tema van lewe uit die dood figureer sterk. Hier is 'n resensie wat my sentimente oor die fliek deel.
Wat mý laat wonder het, was die eienaardige vloei van die fliek.
Jy weet nie lekker wanneer is jy waar nie, want die hoofkarakter leef in drie tye.
Ek kom agter dat die tydvloei in die fliek vir my voel soos 'n rondomtalie. Dis nie noodwendig 'n fliek met 'n begin of 'n einde nie. Soos met 'n Big Wheel kan jy eintlik enige plek inklim. En dit “match” lekker met die idee van die fliek.
Kyk net hoeveel sirkels is daar in die fliek. Selfs 'n kruis word 'n sirkel.
En omdat ons dus nie “op pad” is om uiteindelik iewers heen te gaan nie, is die hier en die nou baie belangrik. Gebruik jou kans. Nou.
Ek weet nie regtig wat ek nou hier gesê het nie, maar ek dink 'n moontlike teks wat saam sou kon gesels, is Prediker 3:11-15.
Thursday, May 17, 2007
Spiderman 3
Ons sien die kerktoring van 'n kerkgebou in Manhattan. Die kruis op die toring vertoon duidelik. Die volgende moment is ons net onder die dak van die toring, en ons sien ons spinnekopheldjie verbete veg met homself / buiteruimtelike plasma.
En ek weet instinktief: Dis my geveg daai. En dit vind plaas direk onder daardie kruis wat ons gesien het, al sien ons dit nie nou nie.
In dieselfde kerkgebou sit die pseudo-fotograaf en bid dat Spiderman bietjie Doom kry. Spiderman moet sterf, vra hy.
En saam met hom, sien ons hoe dit gebeur. Onder die geklank van die kerkklok, kom die swart plasma van Spiderman af. Die plasma het gevoed op Spiderman se wraaklus. Onder die geklank van dieselfde kerkklok, onder dieselfde kruis, val die swart plasma bo-op die pseudo-fotograaf. Dit word sy dood wat hy kies, en Spiderman se redding.
Net hierna is Spiderman in die stort. Die water stroom van hom af. Dit is 'n dooptoneel, as jy my vra. Onder die kruis is sy klewerige haat afgegooi, het redding gekom onder die geklank van die klok. Die doop is immers “die afsterwe van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens”.
Dan hoor jy sy tannie klop aan die deur. Die deur sukkel nog heelmiddag (hang af hoe laat jy fliek). Hy gryp die deurknop, en dit kom af. “Ha!” dink ek, “nice scene, hy het iemand van buite nodig om die deur oop te kry”. Maar hy probeer weer, harder, en kry dit reg. En van hier af sien jy nie weer dat die deur sukkel nie. Dit was die draaipunt van die karakter. Redding het vir hom gekom. Hy het dit gekies, al was dit moeilik.
“You always have a choice!” hoor ons aan die einde van die fliek.
Onder dieselfde kruis, onder dieselfde klok, was dieselfde swart plasma, en twee mense. Die een het lewe en vergifnis gekies, die ander wraak en die dood. Vir die een was die klank van die klok, die klank van lewe, vir die ander was dit die klank van die dood.
Moontlike teks: 2 Kor. 2:14-16
(Terloops: Ek kan alles glo wat ek in die fliek sien: Sandman, Green Goblin, Spiderman, Alienagtige plasma. Maar daar is een flippen ding wat my in al drie flieks uit die verbeel uit irriteer: Hoekom de dinges kry Spiderman dit reg om vinniger te val as alle ander objekte en mense? Dit maak dat Spiderman heeltemal ten gronde gaan…)
Saturday, May 05, 2007
Amalie & Life is Beautiful
Oor elkeen van hierdie twee movies kan mens 1000 posts doen.
Maar ek is nou confused, en ek soek julle hulp. Hopelik weet ek beter na die post. Kom ons begin by Amalie. Nee, nee, Life is Beautiful.
Life is Beautiful is mos al 'n ouerige fliek. Ek het dit een keer gesien, jare gelede, en besluit dis een van daardie wonderlike movies wat mens glad nie weer wil sien nie. Ek het ook nie.
Ek wens ek kon mense na die wêreld laat kyk soos dáái pa sy seuntjie laat kyk het. Om in die haglikste omstandighede 'n ander werklikheid te sien, ene wat jou inspireer en opgewonde maak. Ene waar 'n Nazi-soldaat verander in 'n speelmaat wat goed kan act en die wenner van die game 'n groot army-tank wen.
Ek leer by Life is Beautiful: Jy het die keuse hoe jy kyk na die realiteit. Eintlik nog meer as dit: Jy kies die werklikheid. Hulle kan alles van jou wegneem, maar nie wie jy is en hoe jy glo nie.
Nou Amalie.
Wat 'n orgasme van kleur en pret is dié fliek nie?! Die meisie Amalie se verbeelding is 'n skatkis. Dit voel soos 'n pretrit om deur haar oë te sien. Byvoorbeeld by die besigste treinstasie verloor sy sig van haar liefde, en eensklaps is daar niemand. Jy weet dit is onmoontlik, maar dis Amalie se wêreld.
Maar jy ontdek ook in die fliek dat Amalie se droomwêreld, en hoe sy kies om na die wêreld te kyk, haar funksionering in die realiteit striem. Sy bly haar groot liefde mis, want sy is te bang om die realiteit “soos dit is” aan te vat. (Die geweldige gedetailleerde inligting wat aan die kyker gegee word, het niks direk met die storie te make nie. Dit bevestig: Daar is klomp goed om jou. Sommiges maak saak, sommige nie. Jy kies wat is van pas in jou storie.)
En iewers maak Amalie se karakter 'n sprong. Sy gebruik nie haar “kyk” om realiteit te ontvlug nie. Sy span dit in om dit te embrace en te benut. Maar die implikasie was dat sy deel van haar droomwêreld anders moes inspan.
Kom ons praat dan nou van altwee flieks.
(Klomp van ons het op ons blogs die afgelope tyd 5 lukrake feite uitgeblogger. Die volgende paragraaf is nie lukraak nie.)
Ek sukkel regtig met die balans tussen hierdie twee. Daagliks.
Die essensie van die sukkel, is dit:
(1) Life is Beautiful: Kies wat jy sien. Jou verbeelding en kreatiwiteit skep die werklikheid.
(2) Amalie: Verbeelding is great. Maar jy kan in 'n tronk beland van jou eie droomwêreld, en so die ware Jakob bly mis.
En dis hoekom ek so lank gevat het met die post hierdie keer. Want ek wou oor Amalie blog, maar iets het my bly pla, en ek kon nie besluit wat nie.
Is daar dalk 'n beweging tussen realiteit en verbeelding? Kan ons dalk te lank draal in een van die twee? Kan ons enigsins realiteit verstaan sonder verbeelding? As ek nie die realiteit raaksien nie, beteken my verbeelding iets?
Ek kies nooit vir waarneembare realiteit alleenlik nie.
(Miskien het ons Kobus Neethling hier nodig.)
Moontlike tekste: Hebreërs 11:1 en 12:2-3.
Tuesday, April 24, 2007
Truman Show
1. My regtermiddelvinger is bietjie korter as my linkermiddelvinger. Ek was 5 jaar oud toe die wind ons voordeur op hom toegeklap het. Ek gooi dus zap-signs net met my linkerhand, anders snap hulle dalk nie.
2. As ek in 'n vervelige vergadering sit, doen ek in my verbeelding picasso-tekeninge van die mense om my. As dit nog meer vervelig raak, doen ek dit in suiwer swart en wit.
3. My laerskooljare was in Vryheid, 16km vanaf Bloedrivier. Ek het gebly in Afrikanerstraat en my skool was Nieuwe Republiek Laerskool. Ek moes met Deputasie-straat op my fiets skool toe ry. You can’t imagine…
4. Ek vind dit onmoontlik om trappe te klim sonder om hulle te tel. (Maar ek is nie bang vir vuil hande of krake in die sypaadjie nie, relax.)
5. Wanneer my neus toegaan van sinus of verkoue of so iets, begin dit eers by die linkerneusgat. Hehe.
6. Ek steur my nie altyd aan die reëls nie.
Tuesday, April 17, 2007
Runaway Bride
Die egpaar is gespanne… verbeel ek my, of is die bruidegom onseker van sy balans?
Ek maak maar 'n grappietjie of twee. Almal lag ingenome. Almal behalwe die –gom. Hy het iets op die hart, maar wat?
Gelukkig begin my boodskap. Ek raak in vervoering oor my eie woorde. Af en toe byt ek net vas tussen paragrawe, want ek kan sweer die bruidegom wil iets sê. Ek hoop dat, ás hy val, iemand hom kan vang. Alles is nie pluis nie.
Ek gaan voort.
Die bruidegom se frons verdiep. Hy kyk kort-kort na die bruid. “Het hulle dalk baklei net voor die seremonie?” wonder ek.
Dan sien ek hier kom dit. Stadig gaan sy mond oop. Ek staal myself vir 'n Dr Phil-sessie met die feitlik-getroude egpaar, ten aanskoue van al die gaste.
Die bruid kyk na hom, hy na haar. Dan kyk hy vir my en kry die sin uit:
“Fokkit, Dominee, maar sy’s MOOI!”
Ek glimlag mooi en stem liewerste heelhartig saam, alhoewel dit nie vir my lyk of sy dit heeltemal SO wou hoor nie.
Maar sy het voorwaar nie gehardloop nie.
Ghost Rider
Dit lyk nogal lekker om nie 'n bang haar op jou kop te hê nie. Jy klim op jou vuurperd en doen wat jy wil. As die mense jou kwaad maak, whoalah, spontaneous human combustion.
Maar Johny Blaze het in sy vuurspuwende vorm 'n besondere gawe. As jy in sy oë (ekskuus?) kyk, sien en voel jy die leed wat jy ander aan gedoen het. Jy word daarmee gekonfronteer.
Ek wens ek het daardie gawe gehad. Daar’s nogal 'n paar mense wat ek dan sonder my donkerbril onder vier oë sou wou spreek.
Dit kan mos nie 'n gawe van die duiwel (of dan nou Mefistofeles of wie ook al) wees nie? Dis mos goed om iemand te wys wat h/sy aangevang het?
Klink my eerder na 'n gawe van die Gees.
En toe verstaan ek.
Ghost Rider se blik laat jou as(!)vaal van skuldgevoel en pyn oor wat jy gedoen het. Dis 'n waarheidskonfrontasie wat aankla.
Vir myself kies ek 'n kyk wat waarheid raaksien, maar vrymaak.
Die Gees se kyk wys die seermaak, konfronteer óók met die pyn wat jy gebring het. Maar dit maak los.
Ek sou eerder so wou kyk. Maar ek sukkel.
Moontlike teks:
1 Joh. 4:17-18
Wednesday, April 11, 2007
Mr Bean's Vacation
Meeste mense dink die akteur Rowan Atkinson is stupid. Maar hy is nie.
Die fliek begin met 'n rainy day in Londen, in die kerk by 'n basaar. Hoe vaal kan jy nou kry! En dit eindig by die sonnige strand in die Suide van Frankryk, by Cannes. Praat van kleurryk!
En ek klou verbete vas aan daardie tipe hoop.
Dat al bevind ek my in grou omstandighede, die son weer môre sal skyn.
Ek wonder of julle ook sulke nagmerries kry soos ek soms:
Jy droom jy het 'n eenvoudige taak om te doen. (Soos Bean, bv, wat op 'n trein moet kom en by Cannes afklim.) Maar sodra jy begin, glip 'n foutjie in. Jy probeer gou-gou die foutjie fix. Maar in die proses ontstaan daar NOG foutjies. Min of meer teen die einde van die droom, net so voor die gefrustreerde wakkerskrik, is die magdom foute so horribaal, dat die oorspronklike “benign” takie heeltemal verdwyn het agter die berg van krisisse. Soos Bean in sy vacation.
En tog: Die vreeslike flops word deur Bean op sy kamera vasgelê. Dit word, myns insiens, meesterlik vervleg by die eindtonele om totaal nuwe betekenis te gee aan Bean se storie. Die konteks waarbinne dit dan vertoon word, is só radikaal anders, dat ek as kyker besef het: my eie flops en grou dae word soms onverstaanbaar iets anders.
Dis soos om te dink jy het 'n lucky number 919, maar die wennommer is 616. Dit sien ons mos in die openingstoneel? Dit was slegs 'n kwessie van perspektief. En dit gebeur nogal in die kerk!
Moontlike teks:
In Bean word tekste herinterpreteer tot iets nuut: 919 word 616. Die home video word deel van 'n nuwe fliek (in die fliek!). Bean se chaos word 'n magiese sonnige einde.
In Joh. 2:19 word die betekenis van die grou en dooie tempel herinterpreteer met die paasgebeure.
Dit was vir my eintlik 'n great Paasfliek. Maar ek sal dít liewer maar net hierso sê.
Addendum:
Goeie Vrydag 2007
Ek wil Jou nie meer
probeer
beter dien nie
beter liefhê
beter uitreik
beter omgee
Dis vir my beter
om vandag net
by jou kruis te sit
en sug,
Verlig.
Wednesday, April 04, 2007
Happy Feet
In Happy Feet gee die klein held van die fliek die eerste treetjie na “anders-wees”. Dis hierdie andersheid wat later sy heartsong word. Dis ook die andersheid wat die community tussen hom en die ander verbreek. Dis dieselfde andersheid wat dit later weer red.
Die fliek laat my wonder oor die aardigheid van communities. Die feit dat dit vloeibaar is en kan verander. Maar ook dat dit soos kwaai seestrome kan wees wat jou in een rigting wil druk. Kyk net: ons heldjie word weggejaag oor hy 'n gawe vir dans het, maar nie kan sing nie. In 'n ander community is dit met afguns bejeën. En later ontvang sy eie community hom weer met ope arms terug, juis oor hierdie ekstreme heartsong van hom.
Happy Feet help my om elke dag te kies:
· Om myself te wees
· Met passie en entoesiasme
· Ten spyte van teenkanting soms
· Want dis wie ek is
· En as die teenkanting verander, is dit 'n bonus.
Geagte broer en suster, ek wil graag vandag afsluit met 'n gediggie van Mattie Stepanek
Facing the Future
Every journey begins
With but a small step.
And every day is a chance
For a new stew, small step
In the right direction.
Just follow your Heartsong.
Wednesday, March 28, 2007
Nico, the Cop
Monday, March 26, 2007
March of the Penguins
Ek het net besef: Daar is soveel wêrelde waarvan mens eintlik net niks weet nie. Dit voel asof die pikkewyne aan een of ander geloof behoort. Wat my geraak het:
· Klomp individuele pikkewyne en groepies vorm skielik op 'n dag spontaan een groot liggaam. Dis die begin van 'n uitgerekte oorlewingsritueel.
· Onsigbare magnetiese velde is vir hulle tasbaar. Met geheue en saam-wees en onsigbare “kaarte” onthou hulle die pad. Die pad lyk elke jaar anders.
· Daar is 'n konstante geveg teen die “white”. Dit word saam gedoen.
· Die pikkewynma’s loop altesaam 40 dae om betyds terug te wees met kos wanneer die kleintjies uitbroei. Hoe belangrik is 'n belofte nie? “I’ll be back.” (Schwarzenegger en Jesus)
· Aurora Borealis is 'n herinnering in die donker winter dat die son wel nog daar is en dat lente weldra kom.
Maar wat my die meeste getref het, is die hele pikkewyn-community wat net een doel het: Die suksesvolle versorging van kleintjies. Afwesigheid van selfsug. Kos wat vir drie maande in honger lywe gebêre word vir wanneer die kleintjie dit gaan nodig hê.
(Ja, ek weet dis alles instink. Nogtans.)
“It takes a village to raise a child.”
Maar die huise in my village het mure om. Party is van steen. Ander van selfsug of ignorance.
Iemand het gesê: 'n Gemeenskap word gemeet volgens die hantering van hulle broses.
Moontlike tekste: Matteus 23:37
Of Jesaja 60:1-5
Thursday, March 22, 2007
Epic Movie
Epic Movie is omtrent nou vir jou 'n gespot met 'n klomp ander flieks. Hulle spot nie fyn nie.
En tog is daar klomp goed wat ek nie gevang het nie. Gelukkig was daar iemand saam met my wat ook 'n klomp goed gemis het, en ons kon mekaar help.
Dan sit ek met 'n “hu?”-uitdrukking, en Johan verduidelik: Dis 'n MTV-show, en hulle lyk presies net so. Dan lag ek vir hulle. Dan raak Johan doodstil, totdat hy later gefrustreerd vra: “Wie’s DIT!!!?” Dan verduidelik ek vir hom: “Het jy dan nie Da Vinci Code gesien nie?” Dan lag hý vir hulle. Ek word weer verduidelik van een of ander Punk-show en dan verduidelik ek hom weer van Chronicles of Narnia. So het ons saam-saam toe die hele fliek verstaan gekry, tot frustrasie van ons mede-fliekers.
Ek is mal oor “allusion”. Johan Swarts, as jy hier lees is jy welkom om 'n Afrikaanse term vir my te gooi. Allusion is meer as verwysing. Dis amper so 'n speelse, terloopse “in herinnering roep” van iets anders wat aan jou bekend is. (Weliswaar nie heeltemal Epic Movie se styl nie.)
Bv. in Eksodus 2 word die Moses-in-die-Nyl-storie só in Hebreeus vertel, dat elkeen wat bekend is met die Noag-en-die-ark-storie, die ark in herinnering sou roep wanneer hulle hoor van Moses se mandjie in die water. Of met die Matteusweergawe van Jesus se lewe word daar ook baie allusions gedoen na Moses: Gaan Egipte toe a.g.v. Josef, kom terug uit Egipte om 'n volk te kom red, kindermoord, ens. Maar as jy die eerste storie nie ken nie, mis jy dit.
Met welbekende stories kan jy baie lekker speel met allusions, verwysings en metafore. Dis soos 'n kind wat ek verlede week gehoor het met 'n toespraak: hy het die Drie Varkies se storielyn gebruik om sy punt te maak.
Hoe gemaak wanneer ek nie die stories ken nie?
Wat ek en Johan gedoen het in Epic Movie, was dialoog.
(Maar hulle het darem regtig die Narnia tema gou-gou opgebruik en dit ongelukkig nie agtergekom nie.)
Moontlike teks: In Handelinge 17:16-34 gesels die neurotiese Paulus (aldus Carien) met die plaaslike Grieke, terwyl hy vol allusions en verwysings is na hulle eie wêreld. Hy haal hulle digters en stories en filosofie aan. Dit beteken hy het “engage” met hulle. Dis hoe dialoog werk.
Ons Wonderlike Wêreld
Ek het eerlik nie besef ons wonderlike wêreld se soogdiere luister al na podcasts nie.
Sal bietjie later post kom doen oor Epic Movie.
Saturday, March 17, 2007
Forrest Gump
Sunday, March 11, 2007
Lady in the Water
Mense vrek oor stories. Jy kan 'n kind baie verder beweeg deur haar eerder die regte storie te vertel as om 'n reël neer te lê. Ek dink dis hoekom Jesus meesal stories vertel het wanneer Hy gepraat het.
Soms wil ons die Storie vat, die essensie ontgin of oes en dan die res weggooi. En so verloor die Storie sy lewe.
In Lady in the Water ontmoet ons 'n horde mense wat oënskynlik niks met mekaar uit te waai het nie, behalwe dat hulle in dieselfde woonstelkompleks bly. Elkeen gaan sy/haar eie gang, besig met 'n eie storie.
Totdat die misterieuse watervrou opdaag. Haar naam is Story. En ons ontdek dat die groot groep mense eintlik somehow connected is (amper ook soos die vreemde events in Shyamalan se Signs). Hulle is deel van 'n groter storie. Elkeen se lewe op sigself maak nie veel sin nie, maar deur die connectedness wat hulle ontdek, gaan boekdele vir hulle oop.
In ons pogings om Story weer tuis te kry, ontdek ons dat elkeen waarde het, al het ons dit nie voorheen gesien nie. Wat oënskynlik niksseggende eienskappe was, was toe al die tyd belangrik.
En nes jy dink: Nou snap ek die Storie of 'n karakter volledig, kom jy agter dat die plot jou nog effens ontwyk. Amper soos seep in die water.
Die Teks is onvolledig sonder My Storie.
Die man met die gebreekte hart en streng reëls is toe nie die Guardian nie, maar die (Wounded?) Healer. Die man wat 'n kenner is van stories en plot se slimmigheid het toe nie gehelp nie.
'n Predikant sê sowaar nou die dag dat Gereformeerde teologie nooit met kontekstuele teologie versoen kan word nie.
!!
Wat is Gereformeerde teologie dan? Is dit nie juis om te sê: Die Storie moet weer en weer gelees word nie? Kom ons ooit op 'n punt wat ons sê: NOU WEET ONS? Is dit nie maar net in ons eie storie wat ons daardie een probeer verstaan nie? Of ken ons die hele plot? Is dit nie wanneer ons te seker van ons saak is wanneer ons daardie graswolf in sy rooi oë kyk sonder dat ons dit eers weet nie?
Moontlike teks: Die mense van Joh. 4:1-26 was redelik seker van die plot: Wie is IN en wie is UIT. Wat mag, wat mag nie. Maar die Lady at the Water het anders ontdek. Jesus het haar storie/plot geken, en nogtans…
Friday, March 09, 2007
Matrix
1. Die name in die fliek, soos Neo, Trinity, Nebuchadnezar, Zion…
2. Die eerste toneel (NB in enige fliek): “Wake up, Neo”
3. The question
4. The One
5. Neo wat uit die motor wil spring. Hoekom dan nie, Me. Drie-Enigheid? “Because you’ve been down there, Neo. You know where it leads.” Of so iets.
6. Die blou en rooi pille, waarheid, om te sien, ignorance
7. Neo se grillerige wedergeboorte
8. Daai vreemde profetessie
9. Liefde wat die dood oorwin
10. Room 303 (sommige reken dis allusion na 3 dae in die graf…)
11. Opstanding en oorwinning
12. Neo se Hemelvaart in die slottoneel
13. Die nuwe dimensie wat die idioom “om iemand 'n gat in die kop te praat” gekry het. Of het iemand dalk 'n band begin met die naam “Matrix” en 'n unplugged album uitgegee?
Ek wil vandag eerder oor iets anders gesels.
Ek reken The Matrix is regtig goed gedoen – wil selfs sê, dit vorm 'n poëtiese geheel. Die einde is skitterend, en jou verbeelding kan jou op ver reise neem. Mag ek maar die woord “genoegsaam” gebruik?
Daarom was ek nogal verbaas om later 'n opvolg te sien kom. En sowaar 'n derde een. En meteens duik honderde vrae op. Dis deurmekaar. Dit torring onnodig. Die eintlike eenvoud van die eerste fliek (wanneer jy nou eintlik agterkom wat aangaan) word opgemors. En ek gee toe maar moed op en kyk maar nr 3 ook vir ingeval daar logiese verloop is. Dit voel selfs of nr 3 die filosofie van nr 1 weerspreek – wat het geword van free will, hemel?! (Miskien is dit die gebruik van die woord Architect, 'n vrymesselaar term vir God, wat my die meeste irriteer saam met conspiracy konsepte.)
En vir 'n rukkie wil ek graag die volgende vergelyking tref:
1. The Matrix I en die boodskap van Jesus
2. The Matrix II + III en die boodskap van die kerk
Daar ís ooreenkomste tussen nr 1 en 2 hierbo en een of ander logieserige verloop. Maar daar sluip by nr 2 goed in wat deurmekaar maak en nr 1 bietjie verduister. Waarvan baie onnodig is. Ek het gewens ek het nooit II en III gaan kyk nie.
Verder: Teen die einde van The Matrix I voel jy die stryd is verby. (al die ou dinge het verbygegaan, alles het nuutgeword).
Maar met II en III word jy ontnugter. Jy sien alles is toe nie verby nie en die stryd gaan maar aan.
Maar hiermee begin ek 'n tweede gedagtelyn en wil nie dieselfde doen as die 2 Joodse boeties wat die reeks geskep het nie.
Tuesday, March 06, 2007
Scream 2
Monday, March 05, 2007
Constantine
>sug<
Dit is by verre die mees pessimistiese fliek wat ek nog gesien het. Soos wat god (jammer, maar die hoofletter werk net nie hier nie) in die storie uitgebeeld word, is hy 'n idioot – iemand wat ongenaakbaar sinnelose “reëls” breinloos uitvoer, ongeag die gevolge daarvan. Daarenteen is Lucifer effens vindingryk en darem iemand met verstand en die vermoë om gesprek te voer.
Consider this: John Constantine het die vermoë om hel toe en terug te gaan, net om bietjie insig te verkry. En die hel is op dieselfde plek as waar jy is, net in 'n ander dimensie. Tot vervelens toe besoek jy 'n winderige hel waar reptielagtige demone rondbeweeg. Jy sien Lucifer en 'n verraaierige Gabriël wat nie genade verstaan nie en vlamme en bloed en pyn en longkanker. Maar nie een keer sien jy God nie. Hy is eintlik heeltemal magteloos en kan net 'n aksietjie uitvoer as dit inpas in sy reëls. Daarenteen is die demone en Lucifer vindingryk genoeg om teen reëls op te tree en dinge tot hul voordeel reg te kry.
Die hel is die hele fliek vol. Maar gegewe die genre, sou ek darem iewers 'n glimpsie (jammer, alle erudiete lesers, vir die anglisisme) wou kry van die hemel of God of so iets.
Dit gebeur nie. John Constantine sê dit selfs een keer: “God is a boy with an ant farm.” God is die afwesige een. Vir demone word gesê: “Come forth,” en dit gebeur. Met God? Nee wat.
Ou John-Boy se laaste woorde in die fliek is: “As it says in The Book: God works in mysterious ways.” Ek sal nogal graag wou weet in WATTER boek staan DIT?
Nogtans, dit is dalk ons persepsie vandag. God is afwesig. Werk self jou eie weë uit en probeer “evil” uitoorlê. Dis baie erg. Jy kan bargain met die duiwel, maar nie met God nie.
Ek moet erken, dit voel soms so. Maar ek glo tog anders.
Moontlike tekste: Psalm 88 klink baie of John Constantine dit sou kon bid. Veral verse 12, 16 en 19.
Saturday, March 03, 2007
Click
Seize the moment, sê ons. Maar die moment is maar moeilik as dit regtig vervelig of sleg is. (Die honde in die fliek is al wat blykbaar weet hoe om die moment te gryp, al is dit met die arme speelgoed-eend.)
Die hoofkarakter soek sy momente in die hoogtepunte van sy loopbaan. Die tussen-in goete moet tog net verby kom. Hy ontdek op die moeilike manier dat LEWE eintlik gebeur saam met die tussen-in goete. Dit is toe nie die toekenning van my doktersgraad of die langverwagte bevordering of toekenning wat iewers in die toekoms gaan gebeur waarvoor ek leef nie. Life’s a journey. Ek weet ek klink nou na Nissan of die Hulett’s suikerpakkie by Mugg & Bean. Die MOMENTS van lewe lê egter nie iewers opgesluit nie. Dit is elke oomblik.
Ek dink die kerke wat die samelewing die seerste maak, is diégene wat net uitsien na eendag, en hoop opgegee het met NOU. (Jammer, my vrou, maar ek dink egter steeds seks gaan oor die orgasme ;-) )
Moontlike tekste: In 1 Pet. 1:3-9 “click” Petrus tussen die hede en die toekoms. Sy punt: Die toekoms bepaal reeds hoe jy kan lewe in jou “nou”. Of wat van Pred. 11:7-10? As jy lg. ter harte neem, sal jy in elk geval nie sulke maagflappe ontwikkel soos Sandler in Click nie…
Friday, March 02, 2007
De la Rey en Hofmeyr
Sondag kom De la Rey aan die beurt.
Genade, ja, Maeree. Ek het agtergekom: "Thou shalt never maketh promises on the blogosphere."
Kan enigiemand my help verstaan waarom Steve Hofmeyr so graag sy geselsie met Zuma met almal wou deel? Dit sou vir my meer sin gemaak het as Zuma geskryf het oor sy onderhoud met Steve.
Monday, February 26, 2007
Scream
As ek my aan elkeen van hierdie dringende oproepe gesteur het, sou ek niks anders doen nie as om:
Te bid vir onbekende ontvoerde blanke kinders agterin twincam bakkies;
Gebed 6 keer per dag op spesifieke tye wanneer God beskikbaar is;
24 uur gebedskettings (is dit nou nie snaaks nie? Dieselfde ouens wat boeke skryf oor "bevryding", dink nuwe kettings uit);
Petisies te rig aan Bush en/of Clinton en/of Mugabe en/of Mbeki en/of...;
Dreigbriewe te onderteken aan Hollywood;
Bewerig eposse te forward wat reken dat as ek dit nie doen nie, ek eintlik nie regtig vir God lief is nie;
Angsbevange my eposse in te wag;
Ad infinito
Movie more.
Friday, February 23, 2007
Tuesday, February 20, 2007
Ice Age 2
Hoe gemaak om 'n groep skeptici te lei wat jou nie wil glo nie? Jy sê dan nou iets anders as wat hulle nog altyd glo?
Wat maak van 'n groep mense 'n “community”? Kan 'n leier een wees sonder om deel van die community te wees? In Xhosa sê ons: “Umntu ngumntu ngabantu” ('n mens is 'n mens deur ander mense).
Dit bring ons by die uitdaging van leierskap. Die leier staan uit as individu “bo” die ander… en tog vermoed ek ons wil hê die leier moet ook deel wees van die gemeenskap. Is dit nie in elk geval een van Ericksson se ontwikkelingstadia vir jongmense nie? Identiteit vs rolverwarring beteken dat ek weet wie ek is as individu, maar dat ek dit tog net verstaan deur myself in 'n verhouding met ander te sien.
Manfred probeer die meisiemammoetjie oortuig sy is een. Hy kan nie. Sy moet dit self ontdek.
My leiersrol beteken dat ek ander nie kan oortuig nie, maar dat hulle wel tot by 'n plek gebring moet word waar hulle dit self gaan ontdek. Soos die meisiemammoet by die wilgerboom.
En is haar en Manny se ontdekking nie wonderlik wanneer die geysde see voor hulle oopgaan en 'n hele kudde mammoete te voorskyn kom nie?
Leierskap gaan oor 'n balans wat gehandhaaf moet word tussen individu-wees en deel-wees-van-community. Anders is jy op dun ys…
Moontlike teks: Arme Moses. Individu wat sukkel om ander te oortuig dat die trek beter is en nodig is. Maar met die oopkloof van die see ontdek hulle ook community en wie hulle is. Dus Eks. 14:15-31.
(Ek sien nie regtig kans vir die allusion na Noag en die ark nie…sal eerder verder wil giggel oor die similariteit tussen die eekhoring se Goue Akker en Virgin Mobile se advertensie. Verder: Weet enigiemand wat gaan aan met sommige platterige landse SterKinekors? Nee, hemel, ek is seker ek kan Apocalypto al op DVD koop. Hersiene uitgawe met ekstra materiaal.)
Friday, February 16, 2007
Monday, February 12, 2007
Night at the Museum
Hollywood vrek oor profesieë. Selfs Night at the Museum maak daarop aanspraak. Ek maak met gespanne verwagting elke Vrydag my koerant oop om te sien wanneer wys Apocalypto hier, maar tevergeefs. Ek kan al Epic Movie gaan kyk, maar nog nie Apocalypto nie. (Ek is SEKER profesie kom daarin ook voor.)
In elk geval: Die skurk in die verhaal maak 'n profetiese uitspraak: “I think he’s the one…”, waarmee hy waarskynlik dan bedoel: Hierdie is die naïewe idioot (verskoon die toutologie) wat ons gaan kan uitoorlê om die museum te besteel.
En ek wonder: Presies “The One for What?” Want Matrix en Highlander het my al “The One”-voos gemaak.
Night at the Museum laat my wonder hoe sou die wêreld lyk as dooie dinge kon lewe kry. EK praat nie van die dinosaurus-beendere of die mummie nie, maar eintlik van die hoofkarakter en mense soos hy. Verbeel jou 'n wêreld waar elke mens, wat eintlik maar dood is in h/sy eie hokkie, kan uitkom en besef: There is more! (Ekskuus, ek weet ek klink nou soos Verimark of Glomail.)
Want natuurlik is dit absurd om te dink dat 'n Romeinse generaal iets van 'n cowboy se wêreld sal verstaan, of dat Attila the Hun 'n psigo-analitiese sessie in Engels sou kon waardeer. En tog was dit lekker om verskeie wêrelde te sien lewe kry en gesels met mekaar. Daar was iets meer vir elkeen as sy/haar eie wêreldjie. As pa sou ek ook graag my kind dit wou laat raaksien.
Die profesie word waar, maar anders as wat ek of die skelm verwag het. (Terloops, so gebeur dit met die meeste profesieë in die Bybel ook, dink ek.) Deur sy toedoen, word nuwe lewe in die museum geblaas, en hy word die een wat die museum red deur die verskeie wêrelde bymekaar te bring.
Ek is geïnspireer om weer te droom.
Moontlike teks: Wat van 'n lekker profesie? Sjoe, sou ek nou wou gesels oor “Them Dry Bones” van Esegiël 37:1-14, wat lekker lewe kry.
Tuesday, February 06, 2007
Borat
Ek het sowaar Borat gaan kyk. En moet erken: het lanklaas so gelag. Ek het egter ook lank laas soveel keer my asem ingetrek.
Jy lag vir almal: Die Jode, die Amerikaners, die Christene, noem maar op. Dit was baie erg om te sien hoe die man misbruik maak van nice mense se gasvryheid. Nogtans lag jy.
Die swernoot bôl jou self natuurlik ook. Jy lag so lekker vir almal, maar iewers in die fliek “feature” 'n groepie of 'n individu met wie jy jouself dalk sou kon assosieer. (Nee, nie die mense met die rubberarm nie.) En wanneer dit gebeur, voel jy die ongemak in jou rug kriewel.
Die fliek is bar. En tog dink ek dit is ook sosiale kommentaar.
Dink net: Is dit vir enigiemand snaaks om verby 'n winkelvenster te loop met 'n kaal winkelpop daarin? Of dan met slegs onderklere aan? Nie vir my nie. Maar in die fliek staan Borat oop en bloot en bevredigd na die poppe en staar. “Die vark!” dink jy. “Sommer so oop en bloot!” En dan besef jy: Eintlik is almal maar met hulle broek op hulle knieë betrap. Kan dit as normale gedrag beskou word om kaal poppe in winkelvensters uit te stal vir almal om te aanskou? Ons dínk so, want niemand frons nie.
En jy lag lekker vir die prostituut waarmee hy spot. Totdat jy iets van haar menslikheid sien, en weer sit die flippen ongemak in jou ruggraat. Ek verstom my aan mense se vooroordele, en oomblikke daarna word ék uitgevang.
Dis baie snaaks om te sien hoe etiketkenners (klink soos 'n woord uit Huisgenoot – daar is dit mos altyd: “kenners beweer…”) beterweterig is oor ander se doen en late. En om jouself uit te vang dat jy dink: Ék sou darem nie só stupid gewees het nie.
En so word ek toe deel van die mense met wie daar gespot word. Mens voel bietjie kaal as jy daar uitstap.
Moontlike teks: Kyk net hoe onbeskof is twee dissipels in Mat. 20:20-28. En eintlik is dit nie net hulle tweetjies nie. Veral vers 25 sien ons in Borat. Want ons weet die mense van Kazakstan is nie REGTIG soos uitgebeeld nie. En tog is hulle “not quite as cultivated”, dink ons.
(Maeree, kom ons sê as ek drie of meer kommentare hierop kry, jou eie uitgesluit, skuld jy my daardie roomys…)
Ultraviolet
Ek herstel nog na die "symbol-overload" van hierdie fliek. Wat is dit met vampire-movies en kruise? Nie dat hierdie ene regtig 'n vampier-fliek is nie.
Verder weet ek hierdie is nie veronderstel om resensies te wees nie, maar goeiste, die fliek laat jou voel jy is besig om te kyk hoe jou 9-jarige nefie besig is om 'n Playstation game te speel. End-uit.
In elk geval: Die mensdom het in hierdie fliek 'n kwaal tussen hulle: 'n virus. Dit maak dood. Kontak met liggaamsvloeistof soos bloed of trane is genoeg vir oordrag. En dit maak van jou 'n "hemophiliac" (bloedliefhebber).
Maar daar is 'n wapen teen die kwaal. Nog voordat hulle die wapen wys, weet jy reeds dit is 'n kind.
Tot vervelens toe word jy gebombardeer met godsdienstige simbole: Kruise, die twee slange wat genees (a la Medicross), driehoeke (wat soms gebruik word om die Drie-Eenheid te simboliseer), sowel as die drie sirkels wat in driehoekvorm oorvleuel. Die kruise is te sien in die vorm van die geboue, vensters, deuropeninge en selfs die reuse gebou waar die grand finale plaasvind, is 'n yslike kruis. Meesterlik word die 3-sirkel simbool (ook 'n bekende in Christendom) in die begraafplaas vervleg met die 2-slange-simbool.
Wat gebeur?
Vir die dood in die mense se bloed is daar 'n oplossing: 'n kind, wat soos Moses van ouds weggesteek moet word vir diegene wat hom wil doodmaak. Hy het selfs 'n hipermoderne mandjie.
Soos die Moses van die Nuwe Testament, sterf hy eintlik ook. Maar redding kom vir almal deur iets wat gebeur: Violet kyk na hom, en een van haar trane val in sy gesig. Hy het tot nog toe nie die virus in sy bloed nie, maar deurdat hy die virus op hom neem, gebeur daar iets. Hy word die genesing, net omdat Violet na hom gekyk het. Hy kry die virus in, word dus ook eintlik deel van die probleem, en op 'n vreemde manier kom die redding dan deur hom. Net so weird soos om na 'n koperweergawe van 'n giftige slang te kyk nadat jy gepik is, en dan gesond te word.
Moontlike tekste: Numeri 21:4-9 en Joh. 3:14.
Tuesday, January 30, 2007
Charlotte's web: Poging 1
Nouja, Maeree se gunsteling klanksteelstorie:
Ná een van my preke, besluit ek om tog vir 'n slag die Tien Gebooie te lees. 'n Ernstige moment, want dit gebeur nie so baie nie. Terwyl ek dit lees, gewaar ek iemand wat by die voorste trappe (vinnig) opgehol kom, en by die voorportaal in verdwyn. Gedagtig aan die pogings tot diefstal wat ons by die basaar gehad het, vang my oog langer sinsnedes per keer, sodat ek langer kan opkyk terwyl ek die woorde sê. En sowaar, die man het ons klankkamer ontdek, en verdwyn buitentoe met 'n spoed, sy hande vol drade en Shure-mikrofone. “Nie in MY kerk nie,” besluit ek. Maar wat nou? Ek stop.
“Eh…uhm…ek weet ek is nou nog nie by ‘jy mag nie steel nie’, maar iemand het sopas van ons klanktoerusting gevat en geloop.” Verstom word ek aangekyk. Ek gewaar twee prominente manlike diakens. Ek vra hulle om gou te gaan kyk. Bo-op die galery verrys die hoofspeurder van die dorp, en met verbasende spoed, dog statig, bereik hy die voorportaal en buitedeur.
Ek begelei die gemeente rustig deur die res van die diens en slotgesang.
Ná die afsluiting in die konsistorie, kry ek die speurder. “Het julle die man toe gekry?” vra ek, baie trots dat ek ons toerusting so kon beskerm.
“Ja,” sê hy. “Maar dit was Johan.”
Johan is die kategeet wat verantwoordelik is vir die klank in die saal sodat die kinders kan sing. Die speurder en diakens het hom omtrent beetgekry, maar gelukkig gou agtergekom wat aangaan.
Ek het nog nie weer die Tien Gebooie gelees nie.
Ag nee, ek sal later weer probeer om oor Charlotte 'n draadjie te spin vir die worldwide web. Dis nou eers genoeg.